Asof jy in ʼn kinderboek instap…

The Lost Botanist (Grafika verskaf)

ʼn Broer en ʼn suster van Kokstad in KwaZulu-Natal ontvang internasionaal erkenning vir hul interaktiewe animasie wat in virtuele werklikheid afspeel.

Kevin Kriedemann, medestigter van Africa.film en skakelbeampte van Tulips & Chimneys, verduidelik hy was aanvanklik skepties oor virtuele werklikheid (VR), maar Ree en Rick Treweek se The Lost Botanist het hom verras. “Dit was die meeste pret wat ek al dié jaar gehad het! Dit het my vol kinderlike opwinding en verwondering gelaat!”

Ree en Rick het boonop ook ʼn spesiale ontwerp laat doen vir die VR-kopstuk (wat jy benodig om interaktief te kan deelneem).

The Lost Botanist is in Junie vanjaar by Annecy in Frankryk, die wêreld se mees gesogte tekenprentfees, vertoon. Dit was een van slegs nege VR-ervarings wat uit 90 inskrywings van 30 verskillende lande gekies is.

Dié VR-projek laat jou inderdaad voel of jy in die bladsye van ʼn kinderboek instap.

The Lost Botanist (Grafika verskaf)

Dianne Makings, vervaardiger by Tulips & Chimneys, sê dis vir haar veral ʼn lekker projek, omdat dit so kinderlik en onskuldig aangebied word. “Meeste VR-ervarings is baie donker en probeer jou skrik maak, so hierdie is ʼn aangename verandering.”

The Lost Botanist is ʼn seldsame 2D VR-ervaring in ʼn tradisionele 3D 360°-omgewing – wat bydra tot die illusie dat jy tussen die bladsye van ʼn boek deurstap.

In die vyf minuut lange ervaring is jy ʼn plantkundige wat verdwaal het in ʼn wêreld wat van die natuur vergeet het. Met behulp van ʼn storieverteller moet jy sekere kreature soek en hulle help jou verder die onbekende in. Met die verloop van die verhaal kan jy reg rondom jou kyk – van die visse in die dammetjie onder jou voete, tot die vuurvliegies in die lug en selfs ʼn geselsende sampioen of twee wat jou gaan begelei op jou roete.

Ree sê aan Maroela Media dis eintlik verkeerd dat daar “The End” aan die einde van die verhaal staan, dit moet eintlik “To be continued” wees, want sy en haar broer is opgewonde om die volgende deel van die verhaal aan te pak.

Oculus Go-kopstuk wat spesiaal vir The Lost Botanist ontwerp is (Foto verskaf)

Ree was een van slegs twee vroulike regisseurs by Annecy in die VR-kategorie en dit is die tweede keer wat sy aan dié kompetisie deelneem. Sy het 12 jaar vantevore met die louere weggestap vir The Blackheart Gang se The Tale of How.

“Ek wou nog altyd ʼn wêreld skep wat mense kon besoek – ʼn visuele wêreld waarin mense verlore kan raak. The Lost Botanist is ʼn droom wat werklikheid geword het,” vertel Ree, die kreatiewe direkteur van die Kaapstad-gebaseerde studio Tulips & Chimneys.  

Rick is medestigter van Eden Labs, ʼn maatskappy in Johannesburg wat fokus op tegnologienavorsing en -ontwikkeling. “The Lost Botanist verskil van ander VR-ervarings, waaronder die ongewone gebruik van 2D-animasie in ʼn 360°-omgewing en die gebruik van ʼn Oculus Go-kopstuk wat met behulp van ʼn 3D-drukker omskep is in die vorm van ʼn uil se gesig (wat self soos ʼn kunswerk lyk en voel),” verduidelik hy.

Rick en Ree beplan nog bykomende vlakke van The Lost Botanist, ʼn fliek wat op die verhaal gebaseer is, ʼn aangevulde realiteit (AR)-speletjie, en ʼn reeks bykomstighede wat speelgoed, inkleurboeke vir volwassenes en legkaarte sal insluit. “Hierdie is maar net die inleiding vir ʼn baie groter ervaring,” voeg Rick by, wat al saam met kunstenaars soos William Kentridge en Mary Sibande gewerk het.

Markus Wormstorm, die Suid-Afrikaanse elektroniese musikant, sorg dat die ervaring musikaal net so vermaaklik is.

Ree sê hulle is reeds in onderhandelings om seker te maak dat The Lost Botanist ook aan die publiek beskikbaar gemaak kan word, as jy self VR-toerusting by jou huis het.

Intussen kan feesgangers by die Grahamstad-kunsfees (27 Junie – 7 Julie 2019) en Comic Con (2020 in Kaapstad) uitsien na dié prettige ervaring.

Volg The Lost Botanist op sosiale media:
Facebook
Instagram

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.