Chané Grobler: SA se eie TikTok-koningin

Chané Grobler by ‘n TikTok-toekenningsgeleentheid (Foto: Instagram)

“Ek het nooit beplan om ʼn influencer te word nie, dit was nie deel van my plan nie. Ek beskou nog steeds nie myself as ʼn ‘bekende’ nie, net as iemand met baie volgelinge op sosiale media.”

Só sê Chané Grobler, Suid-Afrika se gewildste vroulike TikTok-ster. Chané is 20 jaar oud en het tans 2,2 miljoen volgelinge op dié video-app. Maar sy vertel dat sy net soos enige ander meisie van haar ouderdom is.

“Ek het grootgeword in Pretoria waar ek saam met my ma, boetie en ouma woon. Ek was in Hoërskool Wonderboom en het in 2018 daar matriek klaargemaak.”

Chané is ʼn ekstrovert wat daarvan hou om tyd saam met haar vriende en familie deur te bring en om nuwe mense te ontmoet. Sy knoop maklik ʼn geselsie met enigeen aan, maar sy hou tog van haar eie ruimte en om nie alles met almal te deel nie.

Sy het in Desember 2017 vir die eerste keer ʼn video op TikTok geplaas. Teen daardie tyd het sy net sowat ʼn duisend volgelinge gehad, hoofsaaklik vriende en kennisse.

“As ek nou terugkyk na daardie video word ek sommer kriewelrig. Dit was ʼn klank van Marge Simpson met ʼn swart-en-wit filter. Ek het dit nie gedoen om volgelinge te kry nie, ek wou maar net pret hê.”

Chané Grobler (Foto: Instagram)

Dit was ʼn ander video – een waar sy en ʼn vriend langs mekaar staan en klere omruil op die maat van die musiek – wat aandag gelok het.

“Ek dink daardie video het amper 600 000 ‘likes’ gekry. Ek dink my video moes op ʼn ander land se ‘for you’-bladsy beland het, want ná daardie video het ek volgelinge van reg oor die wêreld gekry, maar steeds min vanuit Suid-Afrika.”

Chané se volgelinge het veral uit Amerika, Filippyne, Verenigde Koninkryke en Indië gekom.

In Maart 2019 het nóg een van haar video’s soos ʼn veldbrand op TikTok versprei en het nou reeds 3,5 miljoen “likes”.

“Dis nét so simpel video, ek is nie eens in die video nie, dis net my hand!”

Dié video was ʼn gier op TikTok wat sy nagemaak het met haar eie kinkel. Mens skryf verkillende instruksies op jou hand en vra iemand om dit te voltooi. Aan die einde van die video het Chané “Marry Me?” op die palm van hand geskryf. Omdat sy as ʼn vrou vir ʼn man gevra het, was kykers gaande daaroor.

“Mense het dit letterlik opgeneem, maar ek is glad nie van plan om nou te trou nie – dit was net ʼn grappie,” sê sy. Die einste video het egter gesorg vir haar eerste miljoen volgelinge en van daar af het dit meer en meer geword, soveel so dat sy dit nou ʼn voltydse werk gemaak het.

Chané Grobler (Foto: Instagram)

Chané was van plan om ʼn onderwyser te word en sy was reeds besig met praktiese opleiding by skole toe sy haar eerste miljoen volgelinge kry.

Dit was vir haar moeilik om ʼn onderwyser én ʼn sosialemedia-ster te wees op dieselfde tyd, omdat die kinders in haar klas haar begin herken het. Sy skerts dat die kinders haar meer vrae oor TikTok gevra het as die skoolwerk waarmee hulle besig was.

Daarom het sy in Maart vanjaar besluit om vir eers haar studies opsy te skuif om voltyds op sosiale media te fokus.

Chané sê dit is meer as net nou en dan video’s op TikTok laai wat sy nou moet doen. Talle handelsmerke gebruik haar om jonger mense na hul mark te lok.

Sy sal byvoorbeeld na ʼn geleentheid toe gaan om ʼn produk te bemark, ʼn praatjie te lewer of om bloot daar te wees sodat aanhangers haar kan ontmoet. Sy probeer ook om daagliks inhoud vir haar sosialemediaplatforms, en veral vir TikTok, te skep.

Chané sê dit is partykeer moeilik om vir handelsmerke nee te sê, maar dat sy sterk waardes het wat sy nie bereid is om te buig nie. Sy moet ook haar jong mark respekteer.

“Ek het baie jong kinders wat na my video’s kyk, so ek probeer al my video’s so familievriendelik as moontlik hou. Meeste van my volgelinge is tussen 12 en 18, maar ek het ook wat selfs jonger is. So ek sal nie vloek of iets publiseer wat suggestief is nie. Dis net nie wie ek is nie. As mense boude wil sien, gaan hulle dit nie by my kry nie, maak nie saak hoeveel hulle betaal nie.”

Chané Grobler (Foto: Instagram)

Chané sê sy vra ook gereeld haar 13-jarige boetie se insette as sy onseker is of iets aanvaarbaar is vir ʼn jonger mark of nie.

“Ek wil nie in ʼn posisie kom waar ouers nie wil hê hul kinders moet my volg nie. Ek wil eerder ʼn voorbeeld wees en iemand wees wie jong kinders graag sal wil wees.”

Sy dink tog daaraan om weer te gaan studeer en sal graag dié keer ʼn rigting in die skoonheidbedryf oorweeg, omdat sy lief is vir grimering, naels, hare en velsorg. Só is sy ook van plan om haar volgelinge te behou wanneer hulle bietjie ouer raak, en om ʼn meer volwasse mark te betree.

Chané sê die nuwe era van sosiale media is vir haar opwindend en belowend.

“Dit bied mense die geleentheid om ʼn ‘influencer’ te word. Ek het dit glad nie verwag nie, en nou is dit my voltydse werk. Dit is ʼn werk wat vir my baie lekker is om te doen – dit voel eintlik nie soos ʼn werk nie, ek geniet dit baie. Dit is ʼn hele ander wêreld nou as wat dit selfs net een jaar gelede was – almal kan ʼn ‘influencer’ wees en ek is so bly ek kan dit ervaar.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.