China maak weer stem dik oor sosiale media

Argieffoto

Argieffoto

China se internet-reguleerder, Cyberspace Administration, het vandeesweek nuuswebwerwe verbied om internetbronne vir berigte te gebruik sonder dat dié bronne behoorlik nagegaan is.

Dit volg nadat Xu Lin, voorheen die adjunkhoof van die organisasie, twee weke gelede as hoof van die organisasie aangestel is.

“Dit is van vandag verbode om hoorsê of vervalste internetbronne te gebruik om nuus te skep en te versprei. Dit gaan dikwels gepaard met verkeerde feite, en lesers glo dit,” het die organisasie in ʼn verklaring gesê.

Die organisasie het ook verskeie berigte met onakkurate inligting by die verklaring aangeheg.

Die organisasie hou vol dat dié nuwe wet nie onderdrukking van mediavryheid is nie. “Joernaliste moet bloot verseker dat die nuus waar, objektief en in konteks is en dat behoorlike bronne en verwysings gebruik word.”

Mense wat hulle skuldig maak aan foutiewe beriggewing sal aan die pen ry deur boetes te betaal.

Bykans 3 000 apps en webwerwe is ook laat verlede jaar deur China se sogenaamde “great firewall” versper. Webwerwe soos Google, Yahoo Japan, Instagram, The New York Times, Amazon Japan en BBC het in die slag gebly.

Bron: The Guardian

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.