Covid-19: Ken fopnuus só uit

Lynné Schoeman, ’n meestersgraadstudent in joernalistiek aan die École Supérieure de Journalisme de Lille in Frankryk het ondersoek ingestel na ʼn paar fopnuus-plasings oor die koronavirus wat die afgelope tyd op WhatsApp die ronde gedoen het.

Sy deel haar wenke oor hoe sy kon vasstel dat dié inligting fopnuus was.

Op 26 Maart ontvang ek ’n boodskap met tien foto’s op ’n WhatsApp-groep. Daar word oënskynlik ’n prentjie geskets van die situasie in Italië, ’n land wat tans gebuk gaan onder die Covid-19-pandemie. By dit is ʼn foto van die Italiaanse eerste minister, Giuseppe Conte, en ʼn aanhaling waarin die minister sy misnoeë met die situasie uitspreek en sê dat Italië se hande nou afgekap is.

Die eerste ding wat ek opmerk, is die foto wat by die aanhaling van die Italiaanse eerste minister geplaas is. Ek weet nie hoe Conte lyk nie, maar ek is seker ek het die man op die foto al elders gesien. Om seker te maak, neem ek ’n skermgreep van die man se gesig en ek loods ’n “Google Reverse Image”-soektog deur na Google Prente te gaan en op die kamera-ikoon te kliek. Ek kliek op “Upload an image” en “Choose file”, wat my toelaat om die gestoorde skermgreep van my rekenaar op Google te laai. Die soekenjin bevestig wat ek vermoed het: Die man op die foto is Jair Bolsonaro, president van Brasilië, en nié die eerste minister van Italië nie. By verdere ondersoek, sien ek Africa Check het reeds ’n feitekontroleringsartikel oor dié foto geplaas.

ʼn Plasing op Facebook toon ʼn foto van honderde doodskiste en die opskrif lui: “Vir diegene wat grappe oor die virus-epidemie maak! #Coronavirus is ’n werklikheid. Hierdie is die lyke van Italiaanse slagoffers. God, wees ons asseblief genadig.”

Weer loods ek ’n omgekeerde Google-soektog en ek vind ’n feitekontroleringsartikel deur AFP Fact Check. Die foto’s is in 2013 geneem en die lyke is dié van migrante van Afrika wie se boot in die Middellandse See omgeslaan het.

Nóg ’n fotosoektog het my gelei na ’n Facebook-inskrywing van 22 Maart, die dag toe daar ’n aardbewing in Zagreb, Kroasië, was. Ek het twee foto’s op ’n skarefinansieringsblad vir die slagoffers van dié aardbewing gevind.

Ek het ook ’n video op Twitter gevind en ’n geel baadjie, ’n geel paal, ’n afdak, ’n padteken, ’n boom en ’n gebou wat ooreenstem het my genoeg rede gegee om te glo dat dit by dieselfde geleentheid geneem is. Hierdie foto’s is dus nié in Italië geneem nie, maar in Kroasië, waar sokkerondersteuners wat hulself die Bad Blue Boys noem, hospitaalpersoneel gehelp het om ʼn hospitaal ná die aardbewing te ontruim.

Lees hier meer oor wat presies fopnuus is en hoe die verspreiding daarvan jou beïnvloed.

Wil jy op hoogte bly van alle (ware) nuus oor Covid-19 op Maroela Media? Klik hier om in te teken op ʼn daaglikse nuusbrief.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Die Wolf ·

Klink vir my dat van die joenaliste en media enigiets sal doen om n storie te publiseer.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.