DemZa: Ken nismark soos sy handpalm

riaan-van-wyk-klipkouers

Riaan van Wyk. Foto: Verskaf.

Jacques Basson van Klipkouers gesels met Riaan van Wyk, die eienaar van DemZa Bake ʼn Pack, die man wat weet hoe om sy nis-teikenmark met 7 000+ produkte gelukkig te hou.

Gee ons ʼn opsomming van die tipe besigheid en bedryf?

Ons word algemeen gedefinieer as kleinhandel; ons lewer meer as 7 000 verskillende items direk aan die instappubliek. Die items wat ons lewer, is  aan enigiemand wat verpakkingsmateriaal benodig, alle bakbestanddele en- benodigdhede, en dan ook alle items wat nodig is vir gebeure wat gereël word, groot of klein, asook verjaardagpartytjies waarvoor ons allerhande opvoedkundige speelgoed het.

Die opvoedkundige speelgoed is die bekende handelsname en ons is een van die bevoorregte verskaffers van Lego in Suid-Afrika. Ons verskaf ook die gewilde Melissa and Doug, A Toy For You – al die bekende handelsname wat ʼn mens kry in terme van opvoedkundige speelgoed. Die teikenmark van kinders in hierdie stadium is van twee tot 13 jaar oud.

Watse probleem los jou besigheid op?

Toe my vrou net begin het, was die besigheid se hooffunksie om vas te stel wat iemand se behoefte was en dan het sy dit gaan kry. Ek dink in groot mate is dit steeds vir ons nodig om spesifiek die gewone mens in die straat se behoeftes te ken en dan aan hulle te kan lewer teen ʼn baie mededingende prys. Mense moet waarde kry, en dis vir ons uiters noodsaaklik dat hulle nooit moet voel hulle het te veel betaal nie. Ons sorg dus dat ons kostestruktuur baie gedissiplineerd is sodat ons baie mededingend aan mense se behoeftes kan voldoen.

Wat maak jou besigheid anders as die kompetisie s’n? Is dit daardie kragtige kostestruktuur van julle wat uniek is?

Ja, ons maak nie winkels in ʼn winkelsentrum oop nie, al het ons al geleenthede gehad, en van die ouens met winkels in die winkelsentrums het nou al by ons verskaffers gekla dat ons te goedkoop is. So, ek dink dat dit in ʼn mate die effek van die kostestruktuur bewys. Mens betaal natuurlik ʼn prys daarvoor, want jy’s afhanklik daarvan dat mense na jou toe moet ry – daar is nie ʼn toevallige instapbesigheid nie, maar dit werk vir ons. Jy vra wat maak ons bietjie anders, en dan moet ek in alle eerlikheid sê dis omdat ons nie in die besigheid is vir die geld nie, maar wel omdat dit vir ons lekker is. Ja, ek weet, mens het geld nodig soos wat jy suurstof benodig, maar jy beplan nie heeltyd of jy suurstof het of nie. Jy gaan net aan.

Hoe lyk julle teikenmark of daardie ideale kliënt? Jy’t nou natuurlik reeds kinders, bakkers, partytjies en so aan genoem, maar is daar ʼn spesifieke kliënt of ʼn spesifieke teikenmark wat vir julle meer geld inbring?

Ons kyk nie na watter produk nou eintlik meer geld inbring nie. Ja, ons doen wel van tyd tot tyd evaluasies om seker te maak dat ons nie dooie ruimte het met tierlantyntjies wat daar lê nie, en as ons dit agterkom, werk ons dit uit en vervang dit met iets anders. Maar die benadering vir ons is meer in terme van hoekom sal jy na ʼn spesifieke plek toe gaan, hoekom sal jy ʼn spesifieke kleinhandelwinkel kies teenoor ʼn ander ene – en ek glo persoonlik daaraan dit gaan oor die geheel, die pakket wat aangebied word, nie oor ʼn spesifieke produk nie. En deel van dié pakket is veilige parkering. Ek glo jou kliënte moet voor die winkel parkeer, net kan inloop en altyd veilig voel.

Wat is die grootste besigheidsfout wat jy tot dusver gemaak het, en wat het jy daaruit geleer?

Ons maak baie meer foute as wat ons goeie besluite neem, so ons moet net sorg dat ʼn goeie besluit so goed is dat hy ʼn honderd foute kan uitskakel. Maar die grootste besigheidsfout wat ek seker in my lewe gemaak het, was deur te dink dat mense met slimpraatjies jou sal help om ʼn besigheid suksesvol te kry. Ek het baie besighede probeer deur met goeie kundige mense te gesels, en toe kom ek agter nee wat, die ouens met wie jy kan saamwerk, is dié wat saam met jou kan deurdruk, wat die sak sout saam met jou kan opeet wanneer hy geëet moet word. So, dit het my baie duur gekos om besigheid te probeer doen met slim mense en nie met deursetters nie.

Hoe gaan jy te werk om nuwe kliënte te werf? Jy’t vroeër vir my genoem julle het ʼn nuwe e-winkel wat in aantog is. So, hoe kry julle daardie mense om te kom koop?

Gelukkig is daar ander slim mense, want ons het ʼn paar goeters probeer, maar in hierdie stadium is die goed wat die beste vir ons werk maar die normale Facebook. Facebook en e-posse en SMS’e – ons probeer om so goed moontlik binne die persoonlike ruimte van belangstellendes uit te kom. Wat altyd goed gewerk het, was pamflette in die Vaaldriehoek hier waar ons is, maar ek dink hulle verloor hulle krag, want almal doen dit en dan word jy oorval daardeur. So, in hierdie stadium werk Facebook die beste vir ons. Ons bestee nogal heelwat om mense direk op ons blad ingeteken te kry, maar dit lyk asof dit goed vir ons werk.

Wat is tans of histories ʼn groot pyn in die besigheid?

Ek weet nie, ek geniet dit so dat ek nie tyd kry om iets te sien nie; en as daar iets is wat ons kwaad maak, kry ons dit afgehandel en gaan aan. Ek weet nie, ons kan almal saam kla oor die arbeidswetgewing en oor dit en oor dat – hier is beslis genoeg dinge om oor te kla in Suid-Afrika! – maar ek glo daaraan: In plaas daarvan dat ons 80 goed kry om oor te kla, moet ons eerder 20 goed kry om oor bly te wees.

Hoe kan die Klipkouers met jou kontak maak?

My e-posadres is [email protected].

NB! Onthou om na Riaan van Wyk as mens se onderhoud te luister.

Luister na hierdie episode op www.klipkouers.com

Klipkouers is ‘n weeklikse podsending waar sakeman, Jacques Basson, met plaaslike en internasionale Afrikaner entrepreneurs en impakmakers gesels ten einde die beste praktiese besigheids-en lewensadvies met jou te deel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Peet Schabort ·

Veels geluk met julle winkels ook in Sasolburg (h/v President Steyn- en William Stow str’e.) en Vanderbijlpark (Col. Gordonstr. besigheidsentrum).
Vir die afgelope agt jaar het my vrou tot haar afsterwe in Junie 2016 jul produkte gebruik en nooit ooit was daar ontevredenheid oor die kwaliteit. Die personeel is ook altyd vriendelik en hulpvaardig.
Deur weg te bly van die groot besigheidsentrums (malls) is ‘n wenner ook wat parkeerplek betref.
Sterkte vorentoe.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.