Die ‘Doen-jou-eie-ding!’-ekspo

Sakeliga KragDag is ʼn inspirerende en leersame dag in ʼn karnaval-atmosfeer!

Dit is amper weer tyd vir KragDag, die grootste alternatiewe energie en selfstandigheid-ekspo in die land.

KragDag het in 2007 begin toe die energiekrisis in die land duidelik begin word het en die eerste KragDag-ekspo is in 2008 gehou, gelyklopend met die eerste rondte beurtkrag in Suid-Afrika.

Ná beurtkrag daarna herhaaldelik ingestel is, het Eskom in 2016 ʼn verklaring uitgereik en verklaar dat beurtkrag iets van die verlede is, danksy verhoogde kapasiteit deur twee omstrede nuwe kragstasies (en vernietiging van talle energie-afhanklike industrieë).

Die land het egter onlangs weer beurtkrag beleef as gevolg van ʼn onverwagse oorsaak – arbeidsonlus. ʼn Groot deel van die ooste van Pretoria het ook baie onlangs ʼn weeklange kragonderbreking verduur.

Ná meer as ʼn dekade se herhaaldelike terugkeer van hierdie probleem en historiese projeksies van die voorkoms daarvan reeds aan die einde van die vorige eeu, sal dit naïef en dwaas wees om die risiko van kragonderbrekings nie ernstig op te neem nie. Die beleggingsbank, Goldman Sachs, het immers verlede jaar verklaar dat Eskom die grootste bedreiging vir Suid-Afrika se ekonomie is.

Aan die positiewe kant het die prentjie en potensiaal van alternatiewe energie oor die laaste dekade geweldig verbeter, met tegnologiese vordering en ʼn drastiese daling van pryse, wat in talle gevalle die waarde van Eskom-krag verbygesteek het – geen wonder dat die regering nou weer wetgewing en regulasies van stapel wil stuur om mense se gebruik van alternatiewe energie te inhibeer nie.

Sakeliga KragDag 2018

Soos in 2008 fokus vanjaar se Sakeliga KragDag-ekspo steeds prominent op die uitstal van alternatiewe energieoplossings, maar nie net reaksionêr teen die bedreiging van Eskom nie – dit is eerder ʼn inisiatief om mense met oplossings toe te rus om selfstandig te raak – ook op die gebied van energie. Dit is vanjaar die tiende KragDag-ekspo en oor die jare het dit gegroei tot waar dit vandag ook blootstelling gee aan selfstandigheidsoplossings op verskeie ander lewensterreine.

Die doel met die ekspo is om tegnologie en mense se kreatiwiteit en inisiatief te vier, en terselfdertyd met die leuse Doen jou eie ding! mense aan te moedig om innoverend te bou aan ʼn volhoubare selfstandige vrywees-lewe, deur self verantwoordelikheid vir hulle lewens te neem. Die KragDag-tema strek tans naas energie oor verskeie terreine soos opvoedkunde, veiligheid, tegnologie, water, voedselproduksie, gesondheid, konstruksie, ontspanning, vervoer, ekonomie, finansies, doen-dit-self-planne, die bevordering van ʼn makersbeweging en entrepreneurskap en selfs ʼn bietjie lewensbeskoulike filosofie.

Ongeveer 13 000 mense het verlede jaar die Kragdag-ekspo bygewoon.

Die tema van hierdie jaar se ekspo is Grondslag vir Selfstandigheid! Teen die agtergrond van die huidige aktualiteit van grond en grondonteiening, word erkenning en beskerming van eiendomsreg in alle vryheidsindekse reg oor die wêreld beskou as een van die pilare van vryheid. Die grondslag vir selfstandigheid is wanneer jy self verantwoordelikheid neem vir jou en jou gesin se lewe.

KragDag bied ʼn inspirerende en leersame dag in ʼn karnaval-atmosfeer. Alhoewel jy ʼn groot hoeveelheid genot en vermaak by KragDag sal beleef, is KragDag uniek, omdat jy by die ekspo nie net ʼn vermaaklikheidtoeskouer is nie, maar ʼn deelnemer wat interaksie het met dinge wat ʼn verskil in jou lewe kan maak. Die effek van die vrywees-filosofie wat integraal deel is van KragDag en die uitstallings wat hiermee handel, kan ʼn groot impak op jou lewe maak.

Waar, wanneer en kostes?

KragDag vind vanjaar plaas vanaf Donderdag 9 Augustus (openbare vakansiedag) tot 11 Augustus op die KragDag-terrein te Diamantvallei Landgoed sowat 20 km oos van Pretoria (tik net “KragDag” in op Google Maps vir roeteaanwysings).

Een dag se bywoning is eintlik te min om by alles uit te kom en daarom word verskeie akkommodasiegeleenthede op KragDag se webwerf aangedui, wat ʼn kampterrein op die KragDag-perseel insluit. Daar is ook ʼn landingstrook vir helikopters op die terrein en ʼn vliegveld vir vliegtuie op die aanliggende Rhino Park.

Die KragDag-ekspo is ʼn gesinsgeleentheid en toeganklikheid vir gesinne word verhoog deur gratis ingang vir kinders tot 18 jaar. Vir volwassenes is die hekgeld R80 per persoon. Gratis ingang is egter ook moontlik indien jy teen 7 Augustus op KragDag se webwerf registreer. As jy vooraf geregistreer het of eenmaal deur die hek is, gee dit ook vir jou gratis toegang vir die ander twee dae.

Wat kan jy vanjaar te wagte wees?
* sowat 300 uitstallers, waarvan die belangrikste komponent uitstallers binne die selfstandigheidstema is;
* ʼn opvoedkunde sub-ekspo;
* ʼn snuffelmark;
* ʼn pretpark en helikopterritte;
* ʼn massiewe verskeidenheid verversings;
* junior entrepreneuruitstalling en -kompetisie;
* makerkompetisie;
* band omdop-wêreldrekordpoging; en
* gratis bywoning van lesings in die KragDag-raadsaal (20 sprekers oor drie dae) plus paneelbesprekings oor ekonomiese vooruitsigte (gelei deur die bekende ekonoom Dawie Roodt), veiligheid (gelei deur AfriForum en TLU SA) en eksponensiële tegnologie.

Diegene wat nie die geleentheid gehad het om die Jolt, Suid-Afrika se eerste elektriese 4×4-bakkie, by Nampo te besigtig nie, sal by KragDag die geleentheid kry. Tussen die ander elektriese voertuie en groot verskeidenheid uitstallings met interessante produkte is dit maar een van die dinge om na uit te sien.

Vir meer besonderhede, besoek KragDag se webwerf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.