30 Junie gaan sekonde langer wees

Die skrikkelsekonde wat in 2012 bygevoeg is Foto: NASA

Die skrikkelsekonde wat in 2012 bygevoeg is Foto: NASA

Wanneer die horlosie op 30 Junie middernag in Greenwich slaan, gaan dit ’n sekonde later weer so maak. Dan kry die aarde ’n skrikkelsekonde by, maar dit kan tot grootskaalse rekenaarprobleme lei.

Die skrikkelsekonde word genoodsaak om die aarde se tydhou by te hou by die feit dat die aarde geleidelik al stadiger om sy eie as draai. Die hoofoorsaak is die sleureffek van die maan se swaartekrag op die aarde – trouens, omgekeerd het die aarde die maan se omwentelinge tot “stilstand” gebring sodat dieselfde kant altyd na die aarde gekeer is.

Die aarde het sedert 1972 reeds 25 skrikkelsekondes bygekry.

Met die vorige, op 30 Junie 2012, het verskeie webwerwe soos Reddit, Gawker en Yelp ineengestort. Die lugdiens Quantas se rekenaars waarmee besprekings gedoen is, het ook gesneuwel.

Dit kom daarop neer dat die meeste moderne rekenaars nou gereeld hul eie horlosies via die internet met ’n erkende tydhouer sinchroniseer. Die skrikkelsekonde “bestaan” egter nie, die rekenaar word verwar en die stelsel kan in duie stort.

Google het die probleem oorkom deur in die loop van die dag waarop die skrikkelsekonde bykom, reeds vroeg ’n millisekonde by te werk, sodat wanneer die skrikkelsekonde kom, alles weer presies gelyk is.

Die afgevaardigdes van die World Radiocommunication Assembly het tydens hul vergadering in 2012 besluit om in 2015 te stem oor of die skrikelsekonde nie afgeskaf moet word nie. Hulle het by dieselfde geleentheid besluit dat daar vir drie jaar na die 2012-aanpassing, ’n moratorium op skrikkelsekondes sal wees.

Die vraag is of tydhou op aarde met die aarde se rotasie gesinchroniseer moet word, en of volstaan moet word by die tydhou van atoomhorlosies. Die afskaffing sal vir ’n lang ruk geen sigbare invloed hê nie, maar in beginsel kan dit oor jare daardie lei dat ryp in die “somer” val, en dat winters snikheet warm kan wees.

Lees gerus meer in die Christian Science Monitor hier.

Bykomende inligting kan hier en hier gelees word.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

zahn ·

Met die “Global warming” soos dit tans is, sal ons in elk geval nie meer vir lank die seisoene ken soos nou nie. Magtie, dink nou net, dis hoekom skoonma deesdae so oud lyk, sy is 25 sekondes ouer as wat sy moet wees!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.