Facebook het Donderdag ʼn splinternuwe kenmerk op Facebook beskikbaar gemaak vir gebruikers om 360 grade-foto’s op te laai.
Buiten die foto’s wat met ʼn spesiale kamera geneem is, kan panorama-foto’s, wat met ʼn gewone selfoon geneem is, ook omskep word in 360 grade-foto’s op ʼn gebruiker se Facebook-blad.
Die foto’s is beskikbaar op toestelle wat virtuelewerklikheidstoepassings kan akkommodeer, het Facebook verduidelik.
Voglens die sosiale netwerk kan die foto’s op die webwerf gesien word en met die jongste weergawe van die Facebook-app op Android en iOS.
Neem bloot ʼn panorama-foto met jou selfoon en plaas dit op Facebook soos ʼn gewone foto. Die sosiale netwerk sal dan outomaties die foto verwerk in ʼn 360 grade-foto wat jou vriende kan ondersoek, net soos die 360 grade-video’s waaroor Maroela Media vroeër berig het. Draai bloot jou selfoon in die rondte om die foto te ondersoek, of klik en skuif met jou rekenaarmuis oor die foto rond.
Dié foto’s kan maklik op jou Facebook uitgeken word: kyk bloot na die kompas-ikoon op die regterkant van die foto.