5 gratis apps vir oefeninge by die huis

Oefeninge is ʼn moeilike onderwerp wanneer dit by die koronavirus (Covid-19) kom. Maroela Media het vroeër berig oor of ʼn mens nog die gimnasium veilig kan besoek. Die feit bly staan dat dit nou dalk veiliger is om vir eers nie plekke waar ʼn klomp mense bymekaar kom, te besoek nie.

Dit hoef egter nie die einde van jou oefenprogram te beteken nie. Dit is inteendeel belangrik om oefeninge te doen en gesond te eet om sodoende jou immuunstelsel sterk te hou.

Hier is vyf apps wat jy gratis van die Play Store kan aflaai, wat jou help om gemaklik oefening by die huis te doen:

BodBot

Dié app laat jou toe om te kies of jy oefening met of sonder toerusting wil doen. Jy identifiseer spiere waaraan jy wil werk en dit gee vir jou ʼn oefenprogram. Dit is gepas vir enige fiksheidsvlakke.

Die meeste van BodBot se dienste is gratis, maar vir ʼn program wat vir jou persoonlik uitgewerk word, kan jy ʼn rekening open.

Freeletics

Freeletics fokus op oefening wat slegs jou liggaamsgewig gebruik; geen toerusting is dus nodig nie. Dié app gebruik besonderhede soos jou ouderdom, fiksheidsdoelstellings, fiksheidsvlak en liggaamsmassa-indeks (BMI) om oefenprogramme voor te stel.

Die app laat jou toe om die gratis oefenprogramme te sorteer volgens onder meer moeilikheidsvlak, tydsduur en liggaamsdeel.

8fit

8fit bevat tydhouers en bewegende prente wat jou wys hoe om die oefening reg te doen. Jy kan jou fiksheidvlak spesifiseer, en betaalde opsies is beskikbaar vir oefeninge soos joga.

Seven

Seven is vir mense wat nie baie tyd het om oefeninge te doen nie. Dit bied die gebruiker liggaamsmassa-oefeninge wat net sewe minute lank is. Jy het ook nie enige toerusting nodig vir die app se oefeninge nie.

Die gratis weergawe van die app gee jou toegang tot ʼn daaglikse gratis oefenprogram. Dit bied ook ʼn bekendstellingsprogram wat 12 basiese oefeninge aan jou verduidelik. Elke twee maande kry gratis-gebruikers ʼn nuwe oefenprogram.

Keep

Keep se oefenprogramme fokus op spesifieke uitkomste – dit bied rehabilitasie en strekoefeninge wat spesifiek gerig is op byvoorbeeld postuur en pyn. Hierdie app is ook benoem as een van die beste selfontwikkeling-apps van 2018 op die Play Store.

Jy kan ook jou gunstelingoefeninge stoor en ander gebruikers se oefening en prestasies volg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.