Altyd die(self)de: Selfies en digitale narsisme

kim kardashian selfie

Kim Kardashian neem ‘n “selfie”. Argieffoto.

Deur Amanda du Preez

Om te sterf terwyl jy ʼn selfie neem is meer waarskynlik as om byvoorbeeld deur ʼn haai aangeval en gedood te word. Klink dit belaglik? Ongelukkig is dit waar.

In 2015 het daar 15 mense gesterf terwyl hulle ʼn selfie geneem het teenoor die agt wat gesterf het in haai-aanvalle. Die sterftes het voorgekom terwyl die selfie-nemers hulle in uiters gevaarlike plekke begewe het soos op hoë brûe, afgronde of op bewegende treine. Die situasie word tans vererger deur die gebruik van selfie-stokke omdat dit beteken dat veral toeriste nie meer kyk waar hulle loop nie, maar eerder die kamera volg. Dit het baie besienswaardige plekke genoop om nou inligtingsborde op te rig om mense te waarsku teen die moontlike gevare van selfie-stokke.

Wat gee aanleiding tot dié selfie-beheptheid? Wel dit is heel eenvoudig: erkenning en aandag.

Dit is ʼn bekende feit dat diegene wat selfies op sosiale netwerke laai en wat geneem is op gevaarlike plekke en onder ekstreme toestande, met goedkeuring (“likes”) beloon word en aanmoediging word deur ander deelnemers op die platforms. Persone wat selfies oplaai saam met ʼn aanstormende groot bruin beer in die agtergrond, of terwyl hulle staan op onmoontlike hoogtes, word bestempel as die helde van ons tyd. Hulle lok baie aanlyn-aanhangers en volgers.

In ʼn wêreld waar die visuele beeld oorweldigend toeneem neem die selfie ʼn besonderse plek in. ʼn Mens kan selfs begin spekuleer dat jy net so gewild is soos die aantal volgelinge en respondente op jou vorige selfie. Dit beteken dat tieners in besonder weerloos is en dit moeilik vind om die druk van “always on” te weerstaan as gevolg van die vrees dat hulle dalk iets gaan mis (fomo – fear of missing out).

Een van my studente noem daarom nou die dag heel nonchalant dat indien ʼn mens nie op Facebook is nie, bestaan jy letterlik nie. Dit kan moontlik vertaal word in die diktum: Ek het Facebook daarom bestaan ek, of nog beter, Ek neem ʼn selfie daarom bestaan ek.

Terwyl ek hier sit en skryf sien ek twee jong vroue oorkant my in die restaurant wat selfies neem van elke hoek en kant. Dit is veral die insuig van die wange (“duck face”) wat gewild is. Hulle is skynbaar onbewus van die wêreld om hulle. Die hier en nou het verdwyn in ʼn tydlose aanlyn-teenwoordigheid.

Beteken dit noodwendig dat ons almal narsiste is wat verlief is op ons eie beelde? Hoewel die jongste navorsing daarop dui dat narsiste wel aangemoedig word deur die gebruik van sosiale media en veral deur die plaas van selfies, asook dat die neem en plaas van selfies narsisme kan aanmoedig, moet ʼn mens versigtig wees om alle selfies as blote narsisme af te maak.

Selfies vertel ons meer van ons verhouding met tegnologie en die belangrike rol wat tegnologie speel as bemiddelaar in die skep van publieke en private (alhoewel krimpende) personae. Miskien is die probleem eerder dat die private nou in die publieke geïmplodeer het. Daar is nie meer heilige koeie of versluierde geheime nie, want alles word onmiddellik versend en uitgebasuin via sosiale netwerke. Ons leef in ʼn kultuur met ʼn ongekende drang na onmiddellikheid en erkenning wat deur digitale tegnologie bemiddel word. Die selfie het die embleem van hierdie kultuur geword.

Daarom verwys talle kenners na “digitale narsisme” om ʼn onderskeid te tref met ouer weergawes van narsisme. Digitale narsisme word skynbaar nie uitsluitlik gemotiveer deur selfsug nie, maar eerder deur ʼn verlange om die self in ʼn beter verhouding tot die samelewing uit te beeld. Of dan om die self in verhouding met ander uit te beeld. Dit is dus ʼn wekroep tot verbintenis: “Hier is ek, maak kontak met my!”

In Vanity: 21st Century Selves (2013) word hierdie nuwe drang tot erkenning onder meer met “relasionele ydelheid” geassosieer wat letterlik beteken dat dit ʼn poging is om verhoudings (relasies) met ander te stig. Volgens die boek bied opkomende tegnologieë en sosiale netwerke nuwe wyses om te dink oor ydelheid.

In sommige omstandighede kan ydelheid met ʼn goeie selfbeeld, self-ekspressie en selfs selfreflektiwiteit geassosieer word. Ydelheid het natuurlik ook sterk negatiewe kante wat gekenmerk word deur oordrewe selfliefde en ʼn ongekende drang om die self en eie belange te bevorder ten koste van ander. Volgens die outeurs van Vanity: 21st Century Selves (2013) is dit raadsaam om ook die positiewe aspekte van ydelheid raak te sien veral as dit tot self-insig kan lei.

Dit is nie om dowe neute nie dat sosiale netwerke as deelnemende media geïdentifiseer word. Dit lok ons immers tot deelname en interaksie. In en deur die neem van selfies bestaan die moontlikheid dat ʼn nuwe visuele paradigma geskep kan word wat beteken dat die magspel tussen die objek wat kyk en die kykende subjek verander en meer dinamies word. Is die nemer van ʼn selfie immers nie die objek én die agent van die uitbeelding nie? Dit beteken selfies kan moontlik die interpretatiewe voorwaardes vir die verbruik van hierdie beelde verander juis omdat dit ʼn deelnemende agent mag skep wat die komplekse vrae soos “wie is ek?” en “hoe sien jy my?” dalk op ander terme kan onderhandel.

Ek moet egter bieg dat in die geval van Kim Kardashian my antwoord op “hoe sien jy my?”, onveranderd bly: “Altyd dieselfde”.

  • Amanda du Preez is ‘n professor in visuele kultuurstudies aan die Universiteit van Pretoria.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Kim ·

Al probleem wat ek met selfies het is dat die mense NIE KLAARKRY nie. Was onlangs weer in Europa en liewe hemel, hoeveel fotos by die Colosseum kan een mens van homself neem? JA JA Jy het die reg om soveel fotos te neem soos wat jy wil, maar daar is duisende ander toeriste wat ook op ‘n spesifieke plek of by ‘n standbeeld of fonteintjie ‘n foto wil neem, dan staan die Madam met haar stokkie daar en honderde fotos neem van haarself, kyk hulle eers deur en begin dan weer. Regtig, is dit ‘n aandenking of is dit selfbeheptheid. In die Louvre staan mense vir ure reg voor ‘n skildery of standbeeld en fotos neem, jy wag en wag en sien later hulle gaan nie waai nie,dan neem jy maar die skildery of standbeeld af MET die vrou MET haar stokkie in, dit gaan oor respek vir ander en ‘n bietjie konsiderasie, almal wil fotos neem by ‘n bekende beeld of gebou, maar neem ook die ander in ag. AS jy onverskillig is wanneer jy ‘n selfie afneem, en iets oorkom, kan jy net jouself daarvoor blameer. Wat het van gewone fotos geword, Hoekom moet daar altyd iets gevaarliks daarin wees? Meestal word selfies vir Profile Pics gebruik so eintlik gaan dit oor die persoon self.

Denise ·

Nee kyk die mens het nou wragtig verwaand geraak wat is nou so snaaks aan n selfie en soos die kardashians aangaan lyk my het hulle nie n lewe nie hoe vervelig !!! Een selfie is sekerlik meer as genoeg daar waar n T gekoppel word raak dit T VEEL!!!!

Denise ·

Nee kyk die mens het nou wragtig verwaand geraak wat is nou so snaaks aan n selfie en soos die kardashians aangaan lyk my het hulle nie n lewe nie buiten selfies wat netsoos die vorige een lyk hoe vervelig !!! Een selfie is sekerlik meer as genoeg daar waar n T gekoppel word raak dit T VEEL!!!!

My tweesent bydrae ·

Ek het al my sosiale media rekeninge gesluit . Ek het nog nooit beter gevoel nie . Instede van om my tyd te mors met vals kommunikasie kyk ek mense in die oe en beofen ware kommunikasie .

Joh. 3:16 ·

Dankie. Die is nou ‘n sinvolle berig. Ek het ‘n beter begrip van ydelheid en armoede van ‘n identiteitskrisis.

Leeukuil ·

Neewat, geen selfies vir my nie. Ek sien my self mos smorens in die spieël as ek
skeer, en dit is genoeg, dankie. En die res van my wêreld sien my gesig eerstehands, en sterkte vir hulle.

Otter ·

Interessant, dit laat mens dink. Ek dink ‘n bydraer van selfiegewildheid is dat tegnologie (toestel, internet en sosiale netwerk) mens deesdae instaat stel om sonder moeite en byna kosteloos jou beeld met ander te deel in ‘n konteks waarmee hulle kan assosieer (plek, situasie). Dit bevestig jou bestaan vir jouself.

John ·

Eintlik moet mens vra hoekom is daar nie iemand anders by wat die foto kon neem nie. Is die persoon te oulik vir hom/haarself of verskriklik eensaam of vreeslik onseker oor sy/haar voorkoms, vandaar die herhaaldelike skote om perfeksie te bereik.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.