Apple stel goedkoper iPhones, TV-stromingsdiens bekend

Tim Cook, uitvoerende hoof van Apple, praat oor die nuwe iPhone-modelle tydens die bekendstelling van nuwe Apple-produkte in Cupertino, Kalifornië. (Tony Avelar/AP)

Apple het Dinsdag sy nuwe goedkoper horlosies, iPhones en televisiestromingsdiens bekendgestel.

As daar een ding is wat duidelik is ná Dinsdag se bekendstelling, is dit dat Apple graag wil hê jy moet sy produkte besit, ongeag wat jy in jou bankrekening het.

Die jongste reeks iPhones bring beter funksies en beter foto-kwaliteit met sy kameras, verbeterde batterylewe en ʼn aanloklike prys. Die iPhone 11, wat twee kameras het, begin by $699 – aansienlik minder as die $1 000 waarteen Apple sy nuutste fone die afgelope paar jaar voor verkoop het.

Die $1 000-prysetiket is nou op die iPhone 11 Pro wat drie kameras het.

Die groot vraag vir verbruikers is of die nuwe funksies en verlaagde pryse ʼn opgradering die moeite werd maak, en of hulle eerder nog ʼn jaar of twee met hul huidige selfoon moet uithou – iets wat toenemend ʼn gewilder opsie raak. Die gemiddelde verbruikers gebruik nou ʼn selfoon vir drie jaar, wat ʼn demper op verkope in dié bedryf plaas.

Apple het Dinsdag aangekondig sy twee nuwe intekeningsprodukte, Apple Arcade en Apple TV+, wat albei later vanjaar van stapel gestuur word, kos albei slegs $4,99 per maand. Dit is net meer as R70 hoewel die Suid-Afrikaanse pryse van dié produkte nog nie bekendgemaak is nie.

Apple Arcade is ʼn speletjiesdiens waarop maandeliks ingeteken kan word, terwyl Apple TV+ ʼn televisiestromingsdiens is soortgelyk aan Netflix.

Kaiann Drance, senior direkteur van produkbemarking vir die iPhone, praat tydens die bekendstelling van nuwe Apple-produkte in Cupertino, Kalifornië. (Tony Avelar/AP)

iPhone 11, iPhone Pro en iPhone 11 Pro Max

Die nuwe iPhone-modelle is soortgelyk aan verlede jaar se iPhone XR, XS en XS Max. Die fone het dieselfde ontwerp, maar met meer vertoonruimte, minder buiterand en geen tuisknoppie nie.

Al drie nuwe iPhone-modelle kom met ʼn langer batterylewe, ʼn A13 bioniese prosesseerder vir vinniger werking en kom in ʼn nuwe reeks kleure.

Die nuwe iPhone-kameras se “portrait mode” werk nou ook met troeteldiere, nie net met mense nie. Apple het ook ʼn ekstra kameralens by elke model bygevoeg. Die twee duurder modelle het reeds ʼn telefotolens vir beter zoom. Nou het hulle ook ʼn wyehoeklens by om ʼn groter deel van ʼn toneel vas te vang as gewone foto’s.

Kamerasagteware is ook verbeter om outomaties oor te skakel na aand-modus om beter foto’s in donker beligting te neem.

Die nuwe iPhone-modelle sal van 20 September beskikbaar wees, maar kan van 13 September vooraf bestel word.

Tim Cook, uitvoerende hoof van Apple, praat tydens die bekendstelling van nuwe Apple-produkte in Cupertino, Kalifornië. Die Apple-horlosie is agter hom sigbaar. (Foto: Tony Avelar/AP)

Apple TV+ en die Apple-horlosie

Apple TV+, Apple se aanlyntelevisiestromingsdiens, sal na verwagting op 1 November in meer as 100 lande bekend gestel word. Apple TV+ het volgens berigte ʼn begroting van $6 miljard en sal ook sy eie oorspronklike televisieprogramme en rolprente vervaardig. Apple TV+ sal gebruikers ook die opsie bied om dié oorspronklike programme en flieks af te laai en sonder internet te kyk.

Soos Netflix sal Apple TV+ geen advertensies hê nie. Dit sal ook deel vorm van Apple se familie-deelopsie waar tot vyf familielede toegelaat word om een intekening te deel. Apple het ook aangekondig dat mense wat van die nuwe produkte koop ʼn jaar se gratis toegang tot Apple TV+ sal kry.

Apple het ook ʼn nuwe weergawe van sy digitale horlosie bekendgestel. Die maatskappy hoop om met die Apple-horlosie die deur oop te maak na die winsgewende gesondheidsorgbedryf, ʼn bedryf wat analiste glo kan help om winste vir die maatskappy te ontsluit.

Die nuwe iWatch 5 word uitgestal tydens ʼn bekendstelling van nuwe Apple-produkte in Cupertino, Kalifornië. (Foto: Tony Avelar/AP)

Apple se nuwe horlosie, die vyfde weergawe van die toestel, het ʼn skerm wat altyd aan is. Die skerm van die vorige horlosies het afgegaan om batterylewe te spaar. In die ouer horlosies het die toestel waargeneem wanneer die gebruiker sy of haar pols oplig en dan het die skerm aangegaan. Apple onderneem egter dat ondanks die skerm wat altyd aan is, die nuwe Apple-horlosie se battery net so lank sal hou.

Die Apple-horlosies begin by $399 en sal van 20 September in die VSA beskikbaar wees. Apple het ook aangekondig die prys van die Apple Horlosie 3 val na $199.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Judge Dredd ·

Koop ‘n Samsung/Huawei met beter funksionaliteit vir helfde die prys.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.