Atterbury-teater en Optog! se e-konsertreeks ʼn reusesukses

Atterbury-teater Maroela Media het vroeër berig dat die Atterbury-teater en Optog! binne enkele dae ʼn e-konsertreeks vir die afsonderingstydperk saamgestel het.

Die eerste e-konsert was gratis en het op 29 Maart in die Atterbury-teater plaasgevind. Na die sukses van hul eerste aanlyn geleentheid het die span besluit om dit weer aan te pak.

“Ons het reeds twee van die drie e-konserte agter die rug en wat ’n reusesukses is dit nie,” vertel Matthys Maree, wat in 2018 die Optog!-projek begin het.

Die span was in rep en roer. Maree vertel dat die hele reeks binne twee dae aanmekaar gesit is.

“Ons het kunstenaars gereël en die opnames gedoen. Ons moes seker maak dat alles gereed is teen die tyd wat die afsonderingstydperk aanbreek,” verduidelik hy.

“Dit was ’n geskarrel, maar baie beslis die moeite werd! Die terugvoer [van kykers] was ongelooflik goed. Baie mense wil weet of die kunstenaars ‘live’ optree en hoe ons dit regkry.”

“Ek dink Maree se kreatiewe en ondernemingstalent was absoluut ongelooflik,” sê Johrné van Huyssteen, aanbieder van die e-konsertreeks. Van Huyssteen het groot lof vir Maree se vermoë om binne enkele dae ʼn span bymekaar te kry wat wonders agter die skerms verrig het. “Ek is net só dankbaar hy het my genooi,” skerts hy.

Nataniël (Foto: Verskaf)

Ander bekendes wat ingestem het om deel van die konsertreeks te wees, is Nataniël, Amanda Strydom, Jannie Moolman, Jak de Priester, Ricus Nel, Corlea Botha en Kevin Leo.

Weens groot belangstelling in die eerste week het Maree en sy span besluit om die konsert op 5 April vroeër te “open”. Dit was vroeg Sondagoggend reeds vir kykers beskikbaar.

“Die stelsel het swaar getrek en ons moes noodgedwonge planne beraam om seker te maak ons platforms kan die aantal gebruikers dra,” sê Maree. Hoewel hulle vermoed het dat kykers van die konsep sal hou, het die oorweldigende belangstelling hul verwagtinge oortref. Maree meen ook dat dié aanbiedings volhoubaar is.

“In die stadium is die toekoms baie onseker en onduidelik vir almal,” erken hy. “Maar een ding is seker – mense geniet dit om in die gemak van hul eie huise konsert te kyk. Die gevoel dat iemand soos Amanda Strydom of Robbie Wessels in jou huis konsert hou, is lieflik.”

Maree voeg by dat hulle hard daaraan werk om die konsert so bekostigbaar as moontlik te maak. Met die ekonomie wat tans swaartrek, haal almal vlak asem wanneer hulle aan die toekoms dink.

“Optog! se fokus was nog altyd om kuns en musiek na mense reg oor die land te bring. Mense kort nou, meer as ooit, vermaak en iets wat hulle momenteel laat ontsnap van die vreemde realiteit waarin ons onsself bevind,” voeg hy by.

Kykers skakel wêreldwyd in om Sondae na die konsert te kyk. Van die interessantste plekke sluit in Katwijk Aan Zee in Nederland, Botkyrka in Swede, Limoges-Cite in Frankryk en Winnipeg Beach in die Kanadese provinsie Manitoba.

Van Huyssteen moedig kykers aan om komende Sondag in te skakel vir die laaste konsert.

“My boodskap is dat jy jouself in donker tye met positiewe mense moet omring (al is dit virtueel). Lees, luister musiek en kyk dokumentêre – en moenie die laaste e- konsert mis nie.”

Die laaste e-konsert word op 12 April aangebied. Kykers kan hier kliek om saam te kyk.

Wil jy op hoogte bly van alle nuus oor Covid-19 op Maroela Media? Klik hier om in te teken op ʼn daaglikse nuusbrief.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.