Belastingseisoen: Beskerm jouself só teen kubermisdaad

Argieffoto

Die belastingseisoen is hier en terwyl duisende belastingbetalers elke dag hul belastingopgawes indien, is kubermisdadigers besig met allerhande truuks om niksvermoedende belastingbetalers in hul strik te laat trap.

Carey van Vlaanderen, uitvoerende hoof van ESET Suid-Afrika, sê hoewel internetgebruikers al meer paraat raak teen kuberslenters, dink kubermisdadigers voortdurende nuwe maniere uit om hul kuberaanvalle uit te voer. Indien een nie werk nie, verfyn en verbeter hulle bloot hul plan en probeer weer.

“Spies-uitvisaanvalle” (“spear phishing”) gebruik mense se persoonlike inligting om die betrokke individu te oortuig dat die boodskap of e-pos geldig is. “Dié aanvalle is baie meer soepel as die destydse slenter-e-posse met swak spelling waaroor komediante gelag het,” sê Van Vlaanderen.

Alles word deesdae digitaal gedoen – van bankdienste tot belasting. Hoe kan jy jouself teen kubermisdadigers beskerm? Van Vlaanderen gee die volgende raad:

Foto ter illustrasie. (Foto: pixabay)

– Bekommerd dat dit ʼn uitvisaanval is? Kyk na die aas

“Kyk waar die e-pos vandaan kom. Dit is moontlik om enige e-posadres te vervals, maar nie alle kubervissers is so slim nie – hulle mag dalk ʼn lukrake e-posadres gebruik wat hulle planne weggee. Kyk of die skakel waarop jy moet klik na die regte webtuiste gaan lei deur jou muis oor die skakel te beweeg (sonder om te klik!) en op die opspring-boodskap te kyk waarheen die skakel gaan. Kyk baie mooi. Maak die adres sin? As daar enige rooi ligte is, moet nie daarop klik nie.”

– Alles kan ʼn kuberaanval wees

Vir ʼn kubermisdadiger is daar geen perke nie – huweliksuitnodigings, fakture en belastingopgawes is alles taktieke wat gereeld gebruik word. Dink altyd eers mooi voordat jy enige aanhegsel oopmaak, selfs wanneer dit van vriende kom. Is dit vir jou vreemd dat die Suid-Afrikaanse Inkomstediens vir jou ʼn e-pos stuur om jou belastingopgawe in te dien? Indien wel, moet nie daarop klik nie.”

– Wees bedag op kortskakels

“As daar nie ʼn beperking is op die hoeveelheid letters wat in ʼn skakel gebruik kan word nie, hoekom is dié skakel verkort? Jy kan nie net sonder meer aanvaar dat ʼn verkorte skakel jou na ʼn veilige en geldige webtuiste sal neem nie.”

Argieffoto

– Telefoonnommers is geen waarborg nie

“Moet nie e-posse vertrou bloot omdat dit professioneel lyk en daar ʼn telefoonnommer by verskyn nie – dit kan net nog ʼn kubermisdaadtruuk wees. Die nommer mag dalk werk, maar jy sal verbind word met die kubermisdadiger eerder as die maatskappy waarna jy op soek is – en hulle gaan probeer om jou te flous om nog meer persoonlike besonderhede aan hulle te verklap.”

– Moet nie foto’s outomaties laat aflaai nie

“Maak seker jou e-posboodskappe is só gestel dat beelde en foto’s nie outomaties aflaai nie – dit kan dien as ʼn teken aan die kubermisdadigers. Beelde word dikwels op die misdadiger se bediener gestoor en is uniek aan jou e-pos. Deur hierdie beelde af te laai van die bedrieër se bediener af, wys jy vir hulle jy bestaan regtig en jou e-posadres is aktief.”

– Is dit regtig Jan Taks wat bel?

“Dit is onwaarskynlik dat die inkomstediens jou sal bel en hulle gaan beslis nie vir jou enige prys of geskenkbewys aanbied om jou belastingopgawe vroeg in te dien nie. As jy verdagte e-posse of telefoonoproepe ontvang, ignoreer dit of sit die foon neer.”

(Argieffoto: Pixabay)

– Enkripsie is die pad na veiligheid

“Wanneer jy jou belastingopgawe indien, kyk vir die webtuiste wat met enkripsie beveilig is. Maak seker daar staan https vooraan die skakel van die webtuiste. Gewoonlik sal die skakel ʼn groen of grys slot hê om te wys dit is ʼn veilige konneksie. Die laaste ding wat jy wil doen is om jou uiters private belastinginligting op ʼn webtuiste in te sleutel wat nie veilig is nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

SêMaarNet ·

Gee die terme in Engels. Geen “hacker” praat Afrikaans nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.