Bly in die bed én onderneem ʼn sonopkomssafari

Foto ter illustrasie. (Foto: Unsplash)

Natuurliefhebbers wat as gevolg van die uitbreking van die koronavirus (Covid-19) wêreldwyd noodgedwonge die verkykers en safarihoede in die kas moet bêre, kan nou met ʼn koppie boeretroos in die bed virtuele internettoere van die wêreld se grootste wildreservate onderneem.

WildEarth.tv is ʼn digitale uitsaaier wat regstreekse, virtuele wildritte in die Djuma-wildreservaat in Sabi Sands, Mpumalanga en die Beyond Ngala-wildreservaat in Polokwane aanbied. Beeldmateriaal vanuit die Masai Mara-reservaat in Kenia is ook beskikbaar.

Daar is ook beeldmateriaal van onder meer ʼn trop wildehonde en ʼn trop hiënas wat saam met ʼn swartrugjakkals baklei oor ʼn koedoe wat vroeër deur die wildehonde platgetrek is, en ander hoogtepunte wat deur die sogenaamde Dam Cam vasgevang is.

Die diere het al soos wafferse karakters in ʼn realiteitsreeks geword en kykers kan saam met bewaarders uitkyk vir luiperds soos Thandi en Tingana.

Safari’s vind elke oggend om 06:00 tot 09:00 (CAT) en smiddae om 15:30 tot 18:30 (CAT) plaas. WildEarth se video’s kan ook op die YouTube-kanaal gekyk word.

Die Shamwari-wildreservaat in die Oos-Kaap is ook gesluit vir besoekers tydens die algehele afsonderingstydperk. Die diereryk is egter salig onbewus van die koronaviruskrisis wat tans die wêreld verswelg en nou bied dié reservaat ook virtuele wildritte aan.

Foto ter illustrasie. (Foto: Unsplash)

Hoofbewaarder Andrew Kearney is steeds elke oggend douvoordag op sy pos om wildritte en begeleide staptoere in die reservaat deur middel van die internet aan te bied.

Kearney het self met dié inisiatief vorendag gekom en gebruik sy selfoon om video’s van sy daaglike ekskursies in die reservaat op te neem terwyl hy sy kennis oor die veld met kykers deel. Dié video’s kan gesien word op die reservaat se YouTube-kanaal.

Wil jy op hoogte bly van alle nuus oor Covid-19 op Maroela Media? Klik hier om in te teken op ʼn daaglikse nuusbrief.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Steady Eddie ·

Die “skape video op die rondomtalie” laat my dink aan die engelse gesegde “monkey see, monkey do !!!”
In ons dierbare land, sou hulle dalk in ‘n pot beland het !!!
Ek sê maar net …

Wielspore ·

World Earth se lewendige uitsendings soggens en saans is puik, ons kyk nou al ‘n paar dae daarna. Die kommentators is professioneel en die inligting is waardevol, oud en jonk kan kyk, dit is gratis, jy het net data nodig. Opnames word gemaak vanuit die groter KNP.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.