Chemo kan vingerafdrukke laat ‘verdwyn’

Foto: Pixabay

Met die tegnologiese revolusie wat besig is om momentum op te bou, word die gebruik van vingerafdrukke al hoe meer algemeen.

Vir die nuwe ID-dokumente word vingerafdrukke vereis, en so ook vir talle bankkaarte, OTM’s en selfs vir toegang tot jou eie selfoon of skootrekenaar, en om oorsee te kan reis. Dis nog nie oral ingestel nie, maar dis die plan en die databasisse word boonop onderling aan mekaar gekoppel.

Maar wat as ’n mens se vingers nie vingerafdrukke kan maak nie?

Met ’n onlangse slimfoonopgradering, word daar duimafdrukke van my verlang. Eers van die regterduim, en toe van die linkerduim. Nie een van die duime registreer ’n afdruk nie; nie eens ná verskeie pogings nie. Dit veroorsaak ’n hele klompie moeite, frustrasies en vertragings.

Kort tevore het ek en vroulief, nadat ons ná ses maande nog nie ons nuwe rybewyse ontvang het nie, gaan uitvind of dit nie dalk iewers in ’n laai beland het nie… Ná ’n lang soektog is ons voltooide aansoeke toe wel in ʼn laai opgespoor, maar ons hoor ons moet weer ons vingerafdrukke kom gee omdat dit die vorige keer nie “gewys” het nie.

Dit het toe nog nie by my opgekom dat die kanker, waarvoor ek al vir vier jaar behandeling ontvang, iets daarmee te make gehad het nie, want vroulief se vingerafdrukke “wys” ook nie, en sy kry beslis nie chemoterapie nie.

Wéér registreer ons vingerafdrukke nie, en ek skryf dit toe aan die (opsigtelike) ou toerusting by die verkeersafdeling. Dit word so half bevestig toe ons met ’n persoon gesels wie se vingerafdrukke by die verkeersafdeling ook nie geregistreer het nie, maar wel direk daarna by die bank. As ek stip met of sonder bril na my duime kyk, sien ek immers die groewe!

Hoe dan nou? Daar is nie ’n logiese verduideliking nie, behalwe dalk vir stukkende of verslete toerusting.

Ja, ek tik elke dag ’n enorme klomp letters, onder meer vir Maroela Media se daaglikse nuuskommentare, maar daarvoor span ek net my wysvingers in en dit het niks te make met my duime se afdrukke wat benodig word nie. Ek is nie skaam om met my hande te werk nie, maar ek is te swak om veel te vermag, dié bietjie “handearbeid” kon tog nie my duime se groewe laat slyt het nie?

Toe ons weer probeer om die selfoon aangeskakel te kry, en die masjientjie by die diensverskaffer se kantoor registreer wéér geen vingerafdrukke nie, vermoed ek dit moet óf met die kanker self verband hou óf met die 36 chemobehandelings wat ek die afgelope vier jaar ontvang het.

Ek het nog nooit van so iets gehoor nie, en besluit toe om maar die hulp van dr. Google in te span. En sowaar! Navorsing by die Erasmus Kankerinstituut in Nederland toon dat Capecitabine (of Xeloda, wat ʼn vorm van chemobehandeling is) wel die pasiënt se “vingerafdrukke” kan laat verdwyn!

Capecitabine is ʼn chemomiddel wat in kombinasie met ander chemomiddels gebruik word. Die verband tussen Capecitabine en die verdwyning van die natuurlike groewe op vingers om duidelike, unieke vingerafdrukke te maak, is eers betreklik onlangs deur navorsers by die Erasmus Kankerinstituut ontdek. (Lees hier meer oor die tegniese aspekte van die navorsing).

Capecitabine kan dus veroorsaak dat die groewe vir vingerafdrukke net onduidelik word. Daar is meer as ’n honderd soorte chemomiddels, en dié word boonop met groot kundigheid gemeng, ook vir bepaalde omstandighede of soorte kanker.

Nie almal het dieselfde effek of newe-effekte nie. In die vier jaar wat ek behandel is, is meer as een soort chemo op my gebruik. Die laaste soort, Ribomustin (of ook Bendamustine genoem) is eers sewe keer deur die mediese fonds afgekeur, maar het geblyk die een te wees wat ’n positiewe verskil maak.

Verskillende soorte chemobehandelings het natuurlik verskillende newe-effekte. Terloops, nie een van die behandelings het my hare laat uitval nie. Capecitabine word vir die behandeling van verskeie soorte kanker gebruik. Hieronder tel borskanker, kolon-, rektale-, maag-, esofageale (’n klep in die keel) en pankreaskanker.

Capecitabine laat die groewe vir duidelike vingerafdrukke van tussen 15 tot 40% van die gebruikers verdwyn. Ek kry geen teken dat enige van die twee kankers waarmee ek gelyktydig gediagnoseer is (prostaatkanker en Waldenstrom-sindroom) met Capecitabine behandel is nie. (Die prostaatkanker is al ʼn hele ruk in remissie en ek moet ses maandeliks vir opvolgondersoeke na die onkoloog gaan).

Capecitabine word beskryf as ’n “agent” in sekere chemomiddels wat in selle werk (wanneer nuwe selle vorm) in ’n proses wat bekendstaan as alkalisering. Dit is een van die verskeie bestanddele wat by alkalisering betrokke kan wees.

En dit is hier waar my navorsing vasgebrand het. Maak nie saak hoe ek soek nie, ek kon geen aanduiding kry dat Capecitabine in my behandeling gebruik word nie. Iewers was ’n verlore skakel.

Ek skryf aan prof. Ron Mathijssen, wat die navorsing by die Erasmus-instituut in Nederland gelei het, en hy antwoord volledig. Die lig gaan aan…

Hy verduidelik dat dit heel moontlik is dat Ribomusten óók die vinger se diep groewe kan laat verdwyn. Dit is egter nie nagevors nie. Ribomusten bevat, volgens hom, boonop ook ’n alkaliseringsmiddel.

Daar is vermoedens oor ander oorsake ook. Die gevoel is dat die dokter die pasiënt hieroor moet inlig, want veral sommige mense beland in posisies waar hul vingerafdrukke gereeld geneem moet word. Sommiges kan byvoorbeeld nie toegang tot hul eie selfone of skootrekenaars kry sonder vingerafdrukke nie. En om tussen lande te reis, kan problematies wees. Sommige skootrekenaars vereis die vingerafdrukke van gemagtigde gebruikers.

Capecitabine word ook geassosieer met periferale neuropatie (in Engels: hand-foot syndrome [HFS]) wat tussen 50 en 60% van die pasiënte wat hiermee behandel word, affekteer.

Dit veroorsaak ’n vreemde sensasie in die voete en hande, en bemoeilik die vermoë om te loop. Die sensasie kan die lyer erg uit die slaap hou. Die loopvermoë word verder geaffekteer deurdat dit disoriëntasie in die hand werk. Die uwe het kort nadat hy met chemoterapie begin behandel is, dit moeilik gevind om te loop, en was in ’n stadium baie afhanklik van krukke, en nog later ook van ’n rolstoel. Dit kan verlig word deur die middel Oxpola te gebruik wat aan lyers van rustelose voete voorgeskryf word.

Waldenstrom-sindroom, ’n baie skaars limfatiese kanker wat as ongeneeslik, maar nieterminaal beskryf word, kan op sy eie ook periferale neuropatie veroorsaak en dit is dus nie noodwendig dat ’n chemomiddel dit by my veroorsaak nie.

Mathijssen, wat die navorsing gelei het, sê pasiënte behoort deur hul dokters ingelig te word oor die moontlike verlies van “vingerafdrukke” as hulle met Capecitabine behandel word, en ook briewe aan die pasiënte te verskaf waarin hulle die posisie aan relevante owerhede verduidelik.

’n Man van Singapoer is, byvoorbeeld, met sy aankoms in die VSA in hegtenis geneem toe hy verdag voorgekom het en besluit is om sy vingerafdrukke te neem en met verskillende databasisse te vergelyk. Toe sy vingers nie afdrukke kon maak nie, was die suspisie nog erger en hy is eers vrygelaat nadat bevestig is dat hy kankerbehandeling ondergaan.

Die pasiënt behoort ingelig en voorberei te word sodat hy so ver moontlik voorsorg kan tref. Gelukkig keer die “vingerafdrukke” weer terug na die pasiënt wanneer hy of sy nie meer met Capecitabine behandel word nie, aldus Mathijssen.

Namate Suid-Afrika se onderling geïntegreerde vingerafdrukstelsel uitgebrei word, sal al meer mense sonder “vingerafdrukke” hulle in situasies bevind waar die afwesigheid van die vingergroewe (vir duidelike vingerafdrukke) allerlei probleme en ongerief veroorsaak.

  • Besondere dank aan prof. Ron Mathijssen vir die nagaan van hierdie artikel en bykomende advies.
Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Digitaal, Gesondheid, Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

blouapie ·

My broer het geen kanker behandeling gehad nie, hy het ook glad nie vinger afdrukke nie. Hy is 74 jaar oud. Kan iemand my antwoord asseblief??

MH ·

blouapie – Dit is maar die ouderdom se skuld. Ek is 75 en my vingers is nou so glad soos ‘n baba se wang. Groot pyn en lyding om ‘n rybewys hernu te kry.

Rina ·

Herman Toerien,
Baie dankie vir jou baie insiggewende artikel oor vingerafdruk verlies en ander kankerbenadeling newe effekte. Nuuskierige mense wat antwoorde soek is ‘n seën!

Robbie ·

En daarom raai ek al jaare aan dat fingerafdruk stelsels net gedeeltelik as ID gebruik moet word. Daar moet ‘n alternatiewe stelsel ook in plek wees.
Persone wat fisiese werk met hul hande doen ondervind ook probleme, enige nuwe skraap of letsel maak dat die goed nie werk nie. Ek praat nie eers van verf of gom dalk op die fingers is nie.

Papa G ·

My moeder is 74 jaar oud, blakend gesond en het geen buitengewone kwale of behandeling gehad nie. Sy het GEEN vingerafdrukke nie. Moontlik deur die jare afgewerk.

Linette Sauer ·

Ek was nog nie 50 nie, toe was my vingerafdrukke weg. Geen Chemo gehad nie. My bestuurslisensie is al 2 keer heruithereik met geen vingerafdrukke nie. Ek moet ‘n paspoort kry, nou wonder ek wat gaan gebeur?

Nettie ·

100%

En dit is maar een van die min naarhede en waarhede van chemo wat dokters jou NIE vertel nie. Ja, hulle vertel jou van die kans dat jy kan naar word, hare uitval, vel afskilfer ens. ens. ens. Maar NIE dat jy jou vingerafdrukke kan verloor en dat baie kankerbehandelings nie effektief is nie. Vra my, ek het die paadjie van chirurgie, chemo (mondelings en IV) en bestraling met my Ma gestap (en ja, sy het ook nie meer vdie groewe op die vingers wat mens vingerafdrukke gee nie) en nou het die onkoloog maar net gesê: “Ag, weet jy, tannie – jy is darem al 77, jy het ‘n goeie lewe gehad, so gaan nou maar dood, toe?”.

Michelle ·

Dis absoluut waar – ons moes aansoek doen vir paspoorte en my ma, wat onder chemo behandeling was, kon nie ‘n vingerafrdruk kry nie. Sy moes spesiale bewys saam neem om te wys dat sy onder behandeling is.

Dis Nou ·

My man doen fisiese werk – sy vingerafdrukke ook afgewerk nog voor hy 50 was

John ·

Daar is planne om die iris van die oè in te span vir uitkenning. Hoe gesond dit kan wees is ‘n ander kwessie. Die handpalms van mense verskil ook. Gesigsvorms word in gevorderde sekuriteitselsels gebruik. Bère solank ‘n kissie vol dollars onder die bed vir nood. Die drs in Zim staak juis vir $’s in die sak.

Lourens ·

Ek en my vrou (altwee 67) het ook al by paar plekke nie vingerafdrukke kon gee nie. ‘n Dr. vir wie ek gevra het daarna, sê toe dat jou afdrukke oor jare “afplat” en dus al moeiliker gelees kan word. Selfs afdrukke by SAP het op papier net “gesmeer” uitgewys.
So ja, ek sal ook graag wil weet, “Nou hoe nou”.

Karin ·

Raad van ‘n beampte by lisensiekantoor: vryf met jou duim langs jou neus. En voila! Die vingerafdruk kan ge’scan’ word. Die effense olierigheid van die vel maak die verslete groewe meer sigbaar. Afleiding? Ons is te skoon….

Elmer Swanepoel ·

Ek dink oor die algemeen dat vingerpatrone met ouderdom stadig verdwyn. Ek is 82 en het ook nou ‘n probleem met lisensies. Die ergste was dat met my 80ste my kinders ‘n ete gereel het by ‘n plek in Centurion. Dit is binne ‘n kompleks met toegangsbeheer. Met die ingang was my duimpatrone geneem maar met die uitgang wou die masjien nie my patrone “match” nie. Die man wou nie hek oopmaak nie en ek sit nou nog daar sonder ‘n druppel!

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.