Covid-19: Loop lig vir fopnuus

Deur Lynné Schoeman

Die ideale verspreidingsomstandighede vir fopnuus heers tans in Suid-Afrika.

“Misleidende inligting en waninligting floreer in tye van vrees en spanning,” sê William Bird, hoof van die waghondorganisasie Media Monitoring Africa (MMA). “Met die huidige korona-pandemie is mense onseker oor wat hulle mag en nie mag doen nie, hulle is in hul huise gekluister, daar is ’n onsigbare vyand en daar is reusegapings tussen kennis en vrees,” sê hy.

Volgens Carla de Beer, ’n mediaregspesialis van The Digital Law Company in Johannesburg, is fopnuus altyd gevaarlik, “maar tydens ’n pandemie kan dit ’n kwessie van lewe of dood beteken”.

“Fopnuus is inligting wat verdraai of versin word,” verduidelik dr. Marenet Jordaan van die Universiteit Stellenbosch se Departement Joernalistiek. “In sommige gevalle [is dit] omdat mense nie van beter weet nie, maar in ander gevalle omdat iemand spesifiek kwade bedoelings het.”

Dit is hier waar Bird ’n onderskeid tussen misleidende inligting en waninligting tref: “Terwyl misleidende inligting bloot verkeerde inligting is, soos ’n goedbedoelde knoffelresep wat kwansuis die virus weghou, is waninligting verkeerde inligting wat moedswillig versprei word om mense te bedrieg,” sê hy. “Sodra mense nie meer in staat is om ingeligte keuses uit te oefen nie, verloor hulle die vermoë om demokraties op te tree en dít is wat die skeppers van waninligting wil bereik: hulle wil demokrasie ondermyn.”

(Foto: pixabay)

Sosiale media bevorder fopnuus

“Sosiale media is soos olie op die vuur vir fopnuus,” sê Jordaan. “Hoewel sosiale media heelwat voordele inhou, word dit ongelukkig dikwels misbruik om wanligting te versprei.”

Bird beaam dat sosiale media en selfone fopnuusverspreiding vergemaklik: “Jou selfoon is ’n baie persoonlike toestel,” sê hy. “Jou foto’s, jou musiek en jou vriende en familie is daarop. Dit praat met jou op ’n manier wat televisie nie kan nie.”

Volgens Jordaan is mense geneig om te glo wat hulle op Facebook of Twitter lees, omdat dié inligting gedeel word deur mense wat hulle ken en vertrou. “Jou eerste instink is om die inligting te vertrou, want hoekom sal jou vriende probeer om jou ʼn rat voor die oë te draai?”

Bird vertel die meeste fopnuus wat by MMA se Real 411-feitekontroleringsafdeling aangemeld word, is inligting wat deur WhatsApp versprei word. “Die probleem met ’n WhatsApp is dit kom van iemand wat jy ken,” sê hy. “Dis nie net inligting wat jy iewers sien nie – dis iemand na aan jou wat dit vir jou stuur en dit gee daardie boodskap soveel meer geloofwaardigheid.”

Die redes vir fopnuus

By verlede jaar se Wêreldjoernalistiek-onderrigkongres in Parys, Frankryk, het Gifty Appiah-Adjei, joernalistiekdosent aan die Universiteit van Winneba in Ghana, gesê daar is drie hoofredes hoekom mense fopnuus vervaardig: “Mense doen dit vir die grap, vir finansiële voordeel wat deur klieke gegenereer word, of hulle versprei propaganda om politieke redes.”

Bird voeg by dat daar ook mense is wat inherent boelies is en genot daaruit put om vrees te saai. Tog glo hy “die meeste mense wil nie aspris ander seermaak of skade berokken nie” en hy meen die nuwe streng regulasies rakende korona-fopnuus “mag dalk daartoe lei dat mense die erns van die situasie besef en afsien daarvan om inhoud te skep wat skade kan aanrig”.

(Argieffoto)

Wat sê die wet

Die regulasies ingevolge die Wet op Rampbestuur wat sedert 18 Maart van krag is, bepaal dat enigiemand wat doelbewus en deur middel van enige platform bedrieglike inligting versprei oor Covid-19, iemand se Covid-19-status, of regeringstappe om Covid-19 aan te pak, ’n oortreding begaan.

So ’n persoon kan met R5 000 beboet word en/of ʼn vonnis van tot ses maande opgelê word. Maroela Media het berig ʼn persoon is reeds op 28 Maart in Kaapstad in hegtenis geneem, nadat hy na bewering op sosiale media aangevoer het Covid-19 bestaan nie. Intussen is ʼn 55-jarige man van die Wes-Kaap ook vasgetrek nadat hy ʼn video versprei het waarin hy beweer Covid-19-toetstoestelle is besmet.

Kimberley Tee van die prokureursfirma HJW wat onder meer in kuber- en sosialemediareg spesialiseer, beaam dat mense wat fopnuus versprei, vervolg kan word.

“Dit is die verantwoordelikheid van die sender om seker te maak inligting is korrek voor dit aangestuur word.” Indien mense dus die verantwoordelikheid neem om inligting te versprei, dra hulle ook die verantwoordelikheid om seker te maak dit is die waarheid.

“Indien die vals inligting boonop lasterlik is, kan elke persoon wat dit verder versprei aanspreeklik gehou word, ongeag of hulle gedink het die boodskap is waar of nie.”

Volgens Tee word daar nie onderskeid getref tussen die skepper en die sender van fopnuus nie, tensy jy kan bewys daar was geen bedoeling om iemand opsetlik te bedrieg nie.

Argieffoto: Pixabay.com

Die media het ʼn belangrike rol

“Dit is die verantwoordelikheid van die media om die publiek te help om die kaf van die koring te skei,” sê Jordaan. Sy meen die sêding dat almal deesdae ʼn joernalis kan wees, is ʼn drogbeeld. “Dit verg toewyding en deursettingsvermoë om inligting te verifieer en sinvol te verpak. Nie almal kan, of wíl, dit doen nie.”

Volgens Bird het die media selfs ’n groter verantwoordelikheid as die regering in dié krisistyd. “Terwyl die regering voortdurend noodsaaklike boodskappe soos ‘was jou hande’ uitstuur, doen die media dit ook, maar hulle het ook die verantwoordelikheid om inligting wat demokrasie ondermyn, teen te werk en die waarheid oor te dra. Terselfdertyd moet hulle ook ’n oog hou op diegene aan bewind, om seker te maak daar word nie persoonlik finansiële voordeel getrek wanneer daar byvoorbeeld ’n tender is om tente vir haweloses op te slaan nie.”

Jordaan meen dit sal nooit maklik wees om te besluit watter fopnuus om aan te raak, en wat om bloot te ignoreer nie. “Joernaliste loop die gevaar om fopnuus verder te versprei as hulle nie die teenwig van die vals inligting behoorlik uiteensit nie,” sê sy. “Waar fopnuus ʼn wesenlike gevaar vir die publiek inhou (soos kure vir Covid-19 wat mense regtig skade kan aandoen), behoort joernaliste die fopnuus onmiddellik en ingrypend te weerlê.”

Verhoed só dat jy fopnuus versprei

  1.   Wees op jou hoede vir inligting wat onmiddellik ʼn emosionele reaksie uitlok. “Emosie speel ʼn groot rol by die skep en verspreiding van fopnuus en hierdie soort waninligting het dikwels ten doel om mense te ontstel deur woede, vrees of verdeeldheid aan te wakker,” sê Jordaan.
  2.   Maak eers seker indien jy twyfel. “Indien jy enigsins wonder of daar waarheid steek in iets wat jy lees of hoor, gaan soek die oorspronklike bron,” maan sy. “Gebruik jou onderskeidingsvermoë en klop aan by betroubare nuusinstellings.”
  3.   “Pasop vir stemboodskappe,” sê De Beer. Tee beaam dit: “WhatsApp-stemboodskappe waar mense beweer hulle het inligting bekom by hulle oom se baas se vriend wat vir die regering werk, is gevaarlik.”
  4.   Besoek feitekontroleringswebwerwe soos Africa Check, Real 411, AFP Fact Check of die regering se fopnuusbestrydingsblad.
  5. Skrop jou brein. “Waninligting is ’n virus soos die korona,” sê Bird. “Nes jy jou hande vir 20 sekondes moet was, moet jy jou brein ook vir 20 sekondes skrop voor jy iets aanstuur.”

*Lynné Schoeman is ’n tweedejaar-meesterstudent in joernalistiek aan die École Supérieure de Journalisme de Lille in Frankryk. Haar tesis het gehandel oor die rol van sosiale media in fopnuus en feitekontroleringsjoernalistiek, met AFP se Fact Check-afdeling as gevallestudie. 

Wil jy op hoogte bly van alle nuus oor Covid-19 op Maroela Media? Klik hier om in te teken op ʼn daaglikse nuusbrief.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Jack ·

En wie bepaal wat fopnuus is????? Wie besluit watter bronne vals is ????? As ek vd regering verskil kan dit as fopnuus beskou word om my stil te maak, reg ????? My waarheid mag vir jou fopnuus wees en die regering se “waarheid” kan vir my fopnuus wees. Politici besluit wat fopnuus is sodra dit teen hulle beleid ingaan en dit hulle agenda ontbloot. Dus is die bepaling van fopnuus subjektief volgens wie die mag het.

Gawie ·

Daar is genoeg onafhanklike webwerwe waar jy maklik en vinnig die waarheid kan naslaan. Dis wanneer mens na nuuswerwe kyk wat ‘n noue verband met ‘n politieke party het wat die waarheid vertroebel word – vergelyk FoxNews in Amerika, wat heeltemal eensydig is oor hulle rapportering.

Gawie ·

Ek is die Admin op ‘n paar sosiale media-groepe, en dis nogal ‘n taak om fopnuus te keer. Ons het die reël ingestel dat slegs boodskappe met ‘n skakel na ‘n aanvaarbare bron wat die inligting kan bevestig aanvaar sal word. Dit het grootliks die fopnuus gestop. Om te sê jy het die boodskap by iemand gekry wat iemand ken wie se oom ‘n dokter in Italië is, tel nie as aanvaarbare bron nie!

Kosie ·

Sover ek onthou is Africa Check een van die organisasies befonds deur Soros. So, hulle sal nou besluit wat die waarheid is? Mense kan vir hulself oordeel, ons het nie ‘n spul front organisasies nodig om vir ons te besluit wat ons moet dink nie. O ja, en dan is daar ook altyd die ou dreigemente ook. “Indien jy nuus versprei wat nie ons goedkeuring weg dra nie is daar ‘n boete blah, blah, blah.” As jy oud genoeg is om te kan stem is jy oud genoeg om vir jouself ook te dink en te besluit, ons het nie ‘n spul denke polisie nodig nie.

Mieke ·

Teen hierdie tyd ken meeste van ons omtrent al die belangrikste feite. Wanneer daar nog verdere nuus artikels verskyn, gaan die meeste mense tog maar weet wat reg is of dan nie. Gebruik maar jou eie gesonde verstand voordat jy daarop gaan reageer!

Michael 1 ·

Dan is die regering skuldig met hulle misleidende inligting oor die statistieke en hulp aan alle klein besighede,alle boere wat gehelp gaan word ens ens

Johann ·

Wat my verstom is dat die toonaangewende nuusblaaie myns insiens netso daaraan skuldig is om paniek te saai op ongegronde ‘feite’ – soos bv nou onlangs: “Inperking dalk tot 4 maande langer”!

Daar is legio soortgelyke berigte wat op ander situasies betrekking het – maar met dieselfde effek! Haat, nyd, vrees!

Feit hier is dat die besluit oor verlenging al dan nie skynbaar binne die volgende 2 dae dalk geneem sal word. (Berig News 24 – betroubare bron) Nêrens is daar dus nog enige sprake daarvan nie! Almal skarrel paniekbevange rond – hoekom is dit geoorloof!?

Dalk het ek die kat aan die stert beet, ek weet nie, maar vir my lyk dit na dieselfde konsep, sonder enige sanksie!

Domeritus Danie ·

Weliswaar is die Covid-19 pandemie wat die totale kosmos bedreig skrikwekkend. Ek wonder egter oor die volgende:
1. Is daar al ‘n parallel getrek met die 1918 Spaanse (?) griep-epidemie wat byna die hele bevolking in die destydse Unie van SA uitgewis het en so byna-byna vir SANLAM wat in Junie 1918 gestig is, finansieel uitgeroei het ?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.