Die druk Kaapstad-verkeer kan dalk binnekort baie draagliker raak of tot ʼn einde kom danksy ʼn splinternuwe app wat hom vir saamrygeleenthede beywer om sodoende minder motors op Kaapstad se paaie te hê.
Dié nuus is positief vir Kapenaars aangesien ʼn omvattende studie deur INRIX, ʼn internasionale maatskappy wat jaarliks data ontleed en gedetailleerde tabelle van verkeersopeenhopings saamstel, onlangs bekendgemaak het dat Kapenaars die langste in Suid-Afrika in verkeersknope vassit.
Dié studie het getoon dat motoriste in die Moederstad gemiddeld 49,1 uur per jaar in die verkeer deurbring, terwyl Johannesburgers kort op hul hakke is met ʼn gemiddelde 46,8 uur per jaar.
Die app, genaamd uGoMyWay, beoog om motoriste en passasiers wat in dieselfde rigting ry, met mekaar te verbind sodat daar eerder een as twee motors in dieselfde rigting op die paaie is.
Die app stel gebruikers in staat om roetes wat hulle gaan ry uit te lê om sodoende ander motoriste of passasiers daarby te betrek. Die gebruikers kan dan ook met mekaar kommunikeer via die app.
Volgens die webwerf Cape Town Etc het meer as 90% van gebruikers reeds daarin geslaag om saamrygeleenthede op die app te vind.
Dit is nog onseker of die app later na ander groot stede in Suid-Afrika uitgebrei gaan word.
Laai die app vir Android of iOS af.
Lees die volledige INRIX-studie.
Bron: Cape Town Etc