Die koning van e-spoeg-en-plak is dood

Deur Riana Crafford

In die fot van die 1970’s wat deur Xerox PARC verskaf is, gebruik Larry Tesler die Xerox Parc Alto-rekenaar. (Foto: Xerox PARC via AP)

Die einde van ʼn era is stadigaan besig om aan te breek: Die jare stap aan vir die oorspronklike nerds wat baanbrekerswerk in die rekenaarbedryf gedoen het. Hul produktiewe jare mag wel verby wees, maar ons kan steeds met waardering dink aan hulle en hul vindingryke produkte wat ons tot vandag toe nog met groot vrug gebruik.

Een so ʼn stukkie genialiteit is die konsep van “cut-and-paste”. (Is dit net ek wat spottenderwys daarvan praat as “spoeg en plak”?) Larry Tesler – nie net die vader van hierdie nuttige funksie nie, maar ook van die term “gebruikerskoppelvlak” – is verlede maand in die ouderdom van 72 oorlede ná ʼn lewe van vindingrykheid en waagmoed.

Larry en sy span by Xerox was ook beroemd vir hul werk op grafiese gebruikerskoppelvlakke en hoe om die muis in te span om hierdie koppelvlak te gebruik. Dit is juis op hul goeie fondament wat Steve Jobs gebou het om sy verbeterde weergawe van hierdie idees vir Apple-produkte aan te wend. (Vinnige lessie: oppas wat jy vir jou mededingers wys. Hulle mag dalk jou idees “steel”!)

Dis baie moeilik om te bereken presies hoeveel mense Larry se geesteskind gebruik (en gebruik het), maar dis geen oordrywing om te sê dis biljoene nie! Dankie, Larry! Hoeveel ure het jy ons elkeen nie al gespaar nie!

Dit bring ons by maar net een rede hoekom dit enige regdenkende persoon sal betaam om bietjie meer moeite te doen om tegnologie beter te verstaan. Wil jy nie ook die onnodige herhaling en sleurwerk uit jou dagtaak snoei nie? Hiervoor is die rekenaar by uitstek in die wieg gelê. Dit bly die moeite werd om die fynere digitale kunsies aan te leer!

Meeste van ons is bloot rekenaargebruikers (en baie dankbaar vir Larry se koppelvlak of graphic user interface – GUI), maar hier is ʼn woord van aanmoediging vir eietydse nerds of geeks:

Wil jy ook dalk oor ʼn halwe eeu onthou word as ʼn baanbreker? Wat is die verskil tussen jou en Larry Tesler? Is dit dalk dat jy rondloop met ʼn vindingryke idee, maar niks gedoen het om die idee om te sit in iets tasbaars nie? Waarvoor wag jy? Kan jou geesteskind dalk die (klein) begin wees van ʼn groot deurbraak om armoede, hongersnood, siekte, pyn, werkloosheid en al die ander nare goggas van die 21 ste eeu te help troef?

Inligtingstelsels bied gelukkig goeie ondersteuning aan uitvinders en entrepreneurs. Dink maar aan die rol wat skarebefondsing, blogs en aanlynforums speel om nuwe idees te ondersteun vanaf die fase wat dit nog net ʼn vonkel in jou oog is, reg deur tot waar jy ʼn prototipe ontwikkel het en die alfa-en-beta-toetsing voltooi het. Die internet bring almal nader aanmekaar; dus is jou teikengroep binne trefafstand, so ook jou borge en jou geek-vriend wat jou gaan help om jou idee te maak werk.

Géén begin is te klein nie! Volgende keer as jy dink: “Sou dit nie lekker gewees het as …”, moenie ophou dink nie!

Jy hoef ook nie noodwendig self ʼn tegniese foendie te wees nie – baie keer is dit moeiliker om by die unieke idee uit te kom as om dit uit te voer (of te laat uitvoer).

My punt: die Larry Teslers van hierdie wêreld bly nie net in Amerika nie, hulle bly ook in Suid-Afrika. In die verlede het verskeie Suid-Afrikaners ons al verstom op die gebied van tegnologie. Ons eie uitvindings het al verskeie kere gehelp om die wêreld te verander. Boonop is ons uitvindings geneig om baie prakties te wees – geskep uit nood. Hierdie baanbrekers het gewoonlik daarvoor gesorg dat ʼn voorheen ingewikkelde proses vereenvoudig word.

Vyftig jaar gelede was daar al ʼn Suid-Afrikaner, nogal van Benoni, wat die internasionale vermaaklikheidswêreld se aangesig vir altyd verander het: hy het die eerste gerekenariseerde, gesentraliseerde kaartjieverkopeproses ontwerp – Suid-Afrikaners ken dit as Computicket.

Dan is daar CyberTracker, deur twee Suid-Afrikaners ontwerp vir waar ongeletterdheid in die natuurbewaringswêreld ʼn werklikheid is. Ongeletterde natuurbewaarders (in ons geval veral spoorsnyers) kan nou tred hou met die beweging en gedrag van diere deur middel van hierdie beeldryke koppelvlak. So word CyberTracker in die Kongo, die Himalajas, Switserland, die Amasone, Mongolië, Kalifornië en Antarktika gebruik om gorillas, sneeuluiperds, skoenlappers, voëls, wilde perde, dolfyne en walvisse te monitor.

Moet tog net nie vergeet van Mark Shuttleworth nie, Suid-Afrika se spogseun en entrepreneur van formaat, wat die Ubuntu-bedryfstelsel van stapel gestuur het.

Twee Suid-Afrikaanse medici het in die afgelope dekade mooi prestasies gelewer: een het die wêreld se eerste digitale laser ontwikkel. Verlede jaar het die ander een die eerste spesialis geword wat 3D-gedrukte beentjies gebruik het in middeloorchirurgie.

Het jy geweet dat rekenaartomografie (ons ken dit as CAT scans) deur ʼn Kaapse Nobel-pryswenner ontwikkel is?

ʼn Suid-Afrikaanse onderneming wat spesialiseer in virtuele werklikheid (VR), het die Working at Heights VR-ervaring ontwerp om maatskappye soos ArcelorMittal by te staan met hul opleiding van werkers wat hoog op stellasies moet werk. So kan mens bepaal of jy hoogtevrees het of nie, sonder om ooit die grond te verlaat!

Hierdie oud-Tukkie mag nou in Amerika bly, maar Elon Musk bly vir ons die toonbeeld van ʼn Suid-Afrikaanse entrepreneurskap. PayPal en Tesla is van sy geesteskinders.

Laastens is watersportaanhangers baie dankbaar vir die Suid-Afrikaanse produk Shark Shield, ʼn draagbare elektroniese toestel wat ʼn elektromagnetiese veld uitstraal. Skubaduikers, kajakvissermanne en branderplankryers is baie dankbaar dat hulle haaie hiermee kan wegjaag.

Ek dink julle kry die idee: Suid-Afrikaners is kreatief en kom met interessante nuwe idees vorendag. Gaan jy die volgende katoeter (vindingryke uitvindsel) uitdink? Ek wag in spanning …

Die e-spoeg-en-plak-koning is dood, lank lewe die nuwe katoeter-koning!

  • Riana Crafford is ’n dosent aan Akademia in bedryfsinligtingstelsels

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Cherokee ·

Moet nie alleen voel nie Riana. Ek spoeg en plak ook. Ek dink egter nie dat ons hordes kollegas het nie. Die gemiddelde Afrikaanssprekende is verknog aan mengeltaal.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.