Die Vierde Industriële Revolusie: wetenskapfiksie of werklikheid?

Foto ter illustrasie. (Foto:
ThisisEngineering RAEng/Unsplash.)

Deur Marinda Schutte

Ons staan op die drumpel van ’n tegnologiese revolusie wat die manier waarop ons dink, werk, leef en met mekaar omgaan, drasties gaan verander. Die term Vierde Industriële Revolusie word die afgelope paar jaar wyd gebruik vir die veranderinge wat wêreldwyd plaasvind. Wat beteken dit en wat moet ons weet om by die veranderinge te kan aanpas?

Die Eerste Industriële Revolusie het water en stoom gebruik om produksie en vervoer te meganiseer. Die Tweede Industriële Revolusie het plaasgevind toe elektrisiteit gebruik is om massaproduksie te skep. Die ontwikkeling van elektronika en die inligtingsontploffing het aanleiding gegee tot die Derde Industriële Revolusie, waar produksie geoutomatiseer is. ’n Vierde Industriële Revolusie (4IR), die digitale revolusie, groei uit die tegnologiese ontwikkelinge van die inligtingsera. Dit word gekenmerk deur die vermenging van tegnologie op so ’n wyse dat die grense tussen fisieke, digitale en biologiese sfere verdwyn.

Wat maak hierdie veranderinge dan so ingrypend?

Eerstens is dit die spoed waarteen dit plaasvind. Met die ontwikkeling van tegnologie, is enige verandering binne sekondes binne die bereik van die hele wêreld. Tweedens word kennis nie van mond tot mond oorgedra nie, maar duisendvoudig deur die internet vermenigvuldig en ons deur middel van deur ’n klein apparaat soos ’n slimfoon toegang tot ’n onuitputlike bron bied.

Digitale intelligensie (artificial intelligence), robotte, 3D-drukwerk, nanotegnologie, biotegnologie, alternatiewe energie en die stoor van energie, die ontwikkeling van nuwe vorme van materie en kwantumberekeninge is nie meer onbekende begrippe nie. Digitale intelligensie is oral om ons: van selfaangedrewe voertuie en hommeltuie (drones) tot virtuele assistente (Siri). Ingenieurs, argitekte, ontwerpers en selfs wetenskaplikes en medici kombineer sagteware met nuwe materiale en sintetiese biologie om ’n simbiose te skep tussen mikroörganismes, ons liggame, die produkte wat ons verbruik en selfs die plekke waar ons bly.

Dit klink soos wetenskapfiksie, maar dit is werklik en dit is die nuwe wêreld waarin ons bly.

Uitdagings en geleenthede

Soos met die vorige industriële revolusies, het die Vierde Industriële Revolusie die potensiaal om inkomstevlakke wêreldwyd te verhoog en die lewensgehalte van bevolkings oor die hele wêreld te verbeter.  Tegnologie het nuwe produkte en dienste wat ons lewe vergemaklik, moontlik gemaak. Alles kan elektronies en vanaf ’n afstand (of foon) gedoen word: inkopies, besprekings, rolprente, musiek, speletjies speel, bankdienste en so meer. Op die lang termyn is die voordele dat kommunikasie en vervoerkoste sal daal, winkels en verskaffers sal meer effektief funksioneer wat pryse kan laat daal, en nuwe markte, dienste en produkte wat werk verskaf sal ontstaan.

Daar kan egter ook nadele aan hierdie ontwikkelings wees. Werkers (veral laaggeskoolde werkers) kan hul werk verloor. Die voordele is ook slegs beskikbaar aan diegene wat toegang tot tegnologie en die internet het, wat baie ontwikkelende lande uitsluit. Die verskaffers van die intellektuele en fisiese kapitaal – soos die ontwikkelaars, aandeelhouers en beleggers – trek geweldig baie voordeel, terwyl die werkers baie min voordele uit die nuwe ontwikkelinge beleef. Soos tegnologie ontwikkel, gaan daar naderhand net aanvraag wees vir hooggeskoolde werkers – wat, weereens, die ontwikkelde lande verder bevoordeel en ontwikkelende lande ver agterlaat.

Die impak op ondernemings

Daar is vier afdelings van die besigheidswêreld wat deur hierdie revolusie geraak word, naamlik die verwagtinge van die verbruiker, die ontwikkeling van produkte, innovering deur samewerking tussen verskillende bedrywe en die struktuur van die organisasie of bestuur. Besighede is verbruiker-gesentreer en die wyse waarop dienste aan verbruikers gelewer word en in hul behoeftes voorsien word, bepaal die aktiwiteite in die ekonomie. Vervaardigde produkte word verbeter deur tegnologiese byvoegings en dienste beskik oor uitgebreide databasisse waartoe die verbruiker toegang het.

Die grootste verandering is vir seker die ontwikkeling van globale platforms vir enige behoefte waaraan jy kan dink: handel, vermaak, kulturele bedrywighede, sosiale en politieke aksies. Hierdie platforms kan ’n groot invloedsfeer hê en besighede moet hulle bestuur en kommunikasie aanpas om hieruit voordeel te trek en om nie aan die verkeerde kant van hierdie meningsforums te land nie. Dit kom dus daarop neer dat die grootste verandering vir besighede in hul bestuursformule lê: hulle moet bereid wees om vinnig en innoverend te dink en te handel, vinnig van rigting te kan verander en hul kommunikasie moet deursigtig en deurlopend wees.

Impak op regerings

’n Industriële revolusie het hoofsaaklik te doen met veranderinge in die industrieë en ekonomie, maar soos ons uit die geskiedenis gesien het, beïnvloed dit alle vlakke van die samelewing. Die 4IR kan die industriële revolusie wees wat die grootste impak op regerings kan hê. Deur tegnologie het die mense onmiddellik toegang tot inligting, regerings is baie meer blootgestel aan kritiek, en die kiesers is oor die algemeen beter ingelig oor omstandighede in ander lande en wêrelddele. Hulle kan dus meer eise aan hul regering stel.  Regerings word genoodsaak om hul kiesers soos verbruikers te hanteer en word verplig om onmiddellik gehoor te gee aan hul griewe en eise. Regerings het nie meer die luukse van lang besluitnemingsprosesse nie.

Aan die ander kant het regerings skielik toegang tot tegnologie wat hulle in staat stel om mense te beheer deur digitale infrastrukture en elektroniese waarnemingstelsels. Ons is almal bewus van die debatte wat plaasvind betreffende privaatheid en die reg van regerings om toegang te kry tot inligting op jou slimfoon, rekenaar, ensovoorts. Regerings loop op ’n baie fyn lyn tussen die skending van ’n persoon se regte en die reg om ter wille van sekuriteit sekere tegnologiese ingrype toe te laat. Internasionale digitale misdaad is ook vir regerings ’n groot kopseer en sekuriteitstelsels is maklik kwesbaar vir hierdie internasionale misdadigers.

Impak op mense

Die Vierde Industriële Revolusie gaan nie net verander wat ons doen en ervaar nie, maar ook wie ons is, ons identiteit. Dit affekteer ons privaatheid, ons begrip van eienaarskap, verbruikerspatrone, die tyd wat ons aan werk en ontspanning spandeer, die manier waarop ons vaardighede ontwikkel en inligting bekom, die wyse waarop ons mense ontmoet, kommunikeer en verhoudings bou. Tegnologie het so vinnig ontwikkel, dat ons in ons eie huise alreeds die effek daarvan op ons eie kinders kan sien. Dit hou geweldig baie voordele in, maar die invloed van konstante (oppervlakkige) konneksies kan alreeds in die verhoudingsvaardighede van jongmense gesien word.

’n Ander gevaar is die onvergenoegdheid wat kan ontstaan met hierdie oormaat van inligting wat beskikbaar is. Sosiale media en die onmiddellike beskikbaarheid van inligting het die potensiaal om mense meer verdraagsaam en ingelig te maak ten opsigte van verskille in lewenswyse, kultuur, gewoontes en wêreldbeskouings. Die gevaar is egter dat ’n dominante groep (weer eens die groep mense wat meer en maklike toegang en kapitaal het) as die rolmodel gesien kan word en dat alle ander groepe ’n gevoel van onvergenoegdheid of hulpeloosheid kan ervaar.

Voordele van die 4IR vir die mens lê veral op die vlak van die wetenskap. Die voordele wat dit inhou vir mediese navorsing, is verstommend. Dink maar aan die ontwikkeling van 3D-drukwerk, waar selfs die vervaardiging van ledemate en organe in die toekoms lê. Nanotegnologie en biotegnologie maak mediese ingrype wat vroeër ondenkbaar was, ’n werklikheid. Die wetenskapfiksie-idee dat jy met klein robotjies binne-in jou kan leef, klink nou glad nie meer so vergesog nie.

Die toekoms is hier

Met die aanbreek van die Vierde Industriële Revolusie tree ons letterlik oor die drumpel na die toekoms.  Gaan dit soos ’n golf oor ons spoel of is ons voorbereid om dit te hanteer? Hoe gereed is jy vir hierdie nuwe wêreld? Of voel dit vir jou nog so onwerklik soos ’n wetenskapfiksiefliek? Bespreek die volgende paar punte met jou gesin of vriende en  bepaal dan vir jouself of jy intellektueel, fisiek en emosioneel gereed is vir die toekoms.

  1. Hoe tuis is jy met tegnologie en is jy bereid om, byvoorbeeld, deur ’n mikroskyfie wat in jou hand ingeplant word, jou banksake ens. te doen?
  2. Dink julle dat die Vierde Industriële Revolusie net voordelig is vir ryk of ontwikkelde lande of kan ons land met sy hoë werkloosheidsyfer daarmee tred hou? Gaan dit die gaping tussen die rykes en armes groter maak?
  3. Moet die regering toegang hê tot inligting om te sien wie het hul belasting betaal of nie? Mag die hof toestemming gee dat ’n verdagte se selfoon ingedring word (hacked)?
  4. Watter eienskappe van die mens dink julle is onmisbaar en kan nooit deur tegnologie vervang word nie?
  5. Met enige of alle veranderinge word mense in vier groepe verdeel volgens hul reaksie en gevoelens daaroor: die innoveerders of pioniers; die leiers of voorlopers; die stille massa; en die vastrappers of teenstanders. Dit is normale reaksies en hang dikwels van jou persoonlikheid ook af. Bepaal in jul takverband wie in watter groep val en hoekom. So kan ’n mens mekaar beter leer verstaan.

Hierdie artikel is met vergunning van die GranaatDie Dameskring se tydskrif, geplaas.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

3 Kommentare

jongste oudste gewildste
Pieter

Daar is nie n manier wat iemand iets in my plant of sit nie. Veral nie as jy n kind van die Here is nie. Jy gee my iets wat ek kan neersit as ek wil en privaatheid is vir elkeen n moet en mag.

Marthinus

Digitale boeke en aanlynnuus het die moontlikheid om groter ongeletterdheid en onkunde te veroorsaak. Vandag kan jy n ou gedrukte koerant, tydskrif of boek opn ashoop optel en lees. Of familie of vriende kan ou boeke, koerante en tydskrifte skenk aan iemand wat dit wil lees.
In die suiwer digitale wêreld sal dit nie kan gebeur nie. Veral as jy nie toegang tot rekenaars, slimfone, ens het nie. Jy sal `n e-boek slegs op digitale platforms kan lees, tensy iemand dit iewers vir jou kan druk. Dieselfde geld tydskrifte. Wie gaan sulke drukwerk kan bekostig?

Pieter Rubeus

Ek werk met tegnologie elke dag vir baie jare al en is intensief betrokke in die ontwikkeling van sagteware vir websites en robots (AI). Ek wil net vir sê dat mense ernstig en met perspektief moet kyk na die inligting wat hul ontvang en verwerk en dit bly uitluitlik jou keuse om dit te aanvaar. Ongelukkig is daar ongelooflik baie doem profete en vals inligting beskikbaar wat nie die feite weergee nie. Tegnologie word gebou om ons lewens baie gemakliker te maak en ons ervaar dit elke dag. Elke ding in die lewe het sy voordele en nadele. Dis vir… Lees meer »