Digitale demensie: Sosiale diskonneksie oor tegnologie

demensie

Volgens die jongste navorsing is ‘n derde van demensie gevalle voorkombaar. Foto: Verskaf.

Deur Heléne Richter

In die samelewing is demensie grootliks ’n ouderdomsverwante siekte waarin ’n mens se verstandelike en funksionele vermoëns geleidelik agteruitgaan. Mans en vroue kry demensie, en hoewel dit hoofsaaklik ouer persone raak, kan dit ook onder jonger mense waargeneem word.

Vandag word medici en mense egter al meer bewus van ‘n nuwe soort demensie wat met tegnologie verband hou, digitale demensie, en word hierdie onderwerp wêreldwyd al meer bespreek.

In ’n onlangse onderhoud op RSG met dr. Marlena Kruger, ’n neuro-opvoedkundige en tegnologieverslawingspesialis, stigter en uitvoerende hoof van MindUnique Education en TechnoLife Wise Foundation, die volgende paar vrae beantwoord:

Wat is digitale demensie?

Dit sluit aan by die gewonde definisie van die woord demensie. Dit is wanneer ons kognitiewe vermoëns afneem. Wanneer ons nie meer so goed kan onthou nie en ook wanneer ons onsself nie meer kan oriënteer nie.

In 2012 reeds het die Duitser Manfred Spitzer dit na baie jare se navorsing vasgelê en ook met die hulp van tegnologie bewys het dat hy kon sien dat die breinnetwerke vir party persone net ’n donker gat word. Met al die netwerke wat daar is, verdwyn dit mettertyd oënskynlik, maar die persoon word nie dadelik daarvan bewus nie.

Digitale demensie is soortgelyk hieraan en word toegeskryf aan die groot hoeveelheid inligting waarmee ons daagliks gebombardeer word.

twitter-sosiale-media-digitaal-oorlog-van-idees

Foto: Marten Bjork/Unsplash.com

Wat is die belangrikste simptoom van digitale demensie?

Vergeetagtigheid is een van die grootste simptome. Dit is die meeste waarmee ons gekonfronteer word. Dit is heel waarskynlik ook direk gekoppel aan die feit dat ons geneig is om ons brein al hoe minder te gebruik om enigiets te onthou. Ons het lui geword en het gewoond geraak om net knoppies te druk. Die Internet met soekenjins soos, byvoorbeeld, Google is so kragtig, met die gevolg dat die mens dikwels wonder hoekom ana ons ’n brein moet hê om te dink. Die inplanting van ’n rekenaarskyfie kan van mense supermense maak.

Aan die ander kant kan dit gebeur dat ons nie meer oor ’n brein beskik nie, want dit het net eenvoudig nie ontwikkel nie. Dieselfde gebeur wanneer ’n spier nie meer gebruik word nie. Alles is reeds klaar vir ons geprogrammeer en die brein gaan dan net deur die program en die regte knoppie word gedruk. Die brein word dus gemanipuleer net soos Google en Facebook ook ons denke manipuleer.

Die werklikheid is dat digitale demensie reeds vanaf ’n baie jong ouderdom ontwikkel. Normale ontwikkeling by kinders word dan beperk. Ons as mense is op ’n spesifieke manier geskep en ontwerp om te ontwikkel deur beweging, deur die gebruik van ons sintuie en deur elke situasie waarin ons geplaas word. Wanneer ons dan ons menswees driedimensioneel in al sy fasette ontwikkel wanneer ons werk en speel, is dit wonderlik.

Daar is al direkte navorsing in die verband gedoen en die toename in outisme en aandagafleibaarheid-hiperaktiwiteitsindroom (AAHS) word direk hieraan gekoppel. Ons breine word nie gesinchroniseerd ontwikkel om goeie sinergie te gee nie. Ons moet dus goed ingelig wees sodat ons ons menswees totaal beskerm en ontwikkel en gelukkig kan wees, sodat ons nie soos robotte en zombies word wat plat, oppervlakkig en manipuleerbaar is nie.

Kan ons die ontwikkeling van digitale demensie beperk of voorkom?

Ja, vir seker, as ons wakker is en as ons ons menswees deurlopend voor oë hou en bewus bly van hoe ons onsself in stand moet hou. Ons moet slegs tegnologie en skerms gebruik wanneer dit waarde toevoeg in ons lewe. Ons moet deurlopend die volgende vrae aan onsself stel: Is dit wat ons nou digitaal doen, nodig? Wat is die funksie daarvan? Dra dit by tot die kwaliteit van my lewe en tot die waarde van my menswees? As dit net ’n vermorsing van tyd is deurdat jy net na die skerm staar en jy net jou vinger gebruik om die skerm op en af te beweeg om na ander mense se goed te kyk, dan ontwikkel jy nie jouself nie en moet jy begin om die inligting wat na jou kom, te beperk en te leer om jou brein te oefen deur slegs waar te neem.

Wi-Fi Assist op iOS 9 (Argieffoto.)

Is daar enige verband tussen die oorgebruik van tegnologie en die sensitiwiteit van elektromagnetiese strale vanaf selfone en Wi-Fi?

Ja, dit is die werklikheid. Daar is heelwat onafhanklike navorsing hieroor gedoen, maar selfoonmaatskappye is huiwerig om hierdie uitkomste te deel. Goeie navorsing word ook op muise gedoen, waar gesien word dat die impak van elektriese strale, en meer spesifiek mensgemaakte strale wat gepulseer is soos wat die selfoonstraling en Wi-Fi is, ’n impak op ons breinselle en ander liggaamselle het.

Ons is geneig om te sê dat as dit ’n sekere minimum afstand van ons is, dan is dit veilig. Biologies is daar egter ’n uitwerking op ons DNA asook op die biologiese werking van ons brein. Dus is daar ’n direkte verband tussen digitale demensie en persone wat elektrosensitief is weens die oorbestraling waaraan hulle blootgestel word en in die toekoms nog meer blootgestel gaan word.

Ons sal meer ingelig moet word om wyser besluite te kan neem om al hierdie negatiewe aspekte te verhoed. Tegnologie hou baie voordele en nadele in, maar ons moet baie noukeurig kyk hoe ons dit hanteer. Dit moet ’n hulpmiddel wees om van ons opgewonde, volledig ontwikkelde mense te maak en nie ’n bron van spanning, depressie en kognitiewe afwykings nie.

 Bykomende bronne:

Hierdie artikel is met vergunning van die GranaatDie Dameskring se tydskrif, geplaas.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.