Dít is vanjaar die meeste gesoek op Google

Verwoesting wat deur orkaan Irma gesaai is (Foto: Jonathan Falwell via AP)

Google het die lys van die mees gesoekte onderwerpe wêreldwyd op dié internetsoekenjin bekendgemaak.

Heel bo aan die lys van mees gesoekte terme is orkaan Irma, wat in Augustus vanjaar verwoesting in die Karibiese Eilande gesaai het.

Die omstrede en veelbesproke iPhone 8- en iPhone X-selfone beklee onderskeidelik die tweede en derde plek op die lys.

Die Amerikaanse aanbieder van The Today Show, Matt Lauer, beklee die vierde plek op die lys. Lauer is in November vanjaar die trekpas gegee ná ʼn vroulike kollega hom van onvanpaste seksuele gedrag beskuldig het.

Tom Petty. Argieffoto: Amy Harris/Invision/AP

Vyfde op die lys is die Hollywood-aktrise en eersdaagse Engelse koninklike, Meghan Markle. Die musikant Tom Petty, wat op 3 Oktober aan ʼn hartaanval dood is, het die sewende plek op die lys gehaal terwyl Chester Bennington, hoofsanger van die groep Linkin Park, in die negende plek is. Bennington het homself op 20 Julie in sy huis in Kalifornië gehang.

Die gewilde Netflix-reeks 13 Reasons Why het die sesde plek op die lys gehaal. In die agtste plek is die “fidget spinner”, die gewilde speelding wat sedert die begin van die jaar die wêreld aan die gons het. Die nasionale Indiese krieketspan is nommer 10 op dié lys.

Google het ook die lys bekendgemaak van internasionale nuusgebeure wat die meeste op Google gesoek is, en orkaan Irma was ook hier die mees gesoekte term.

Orkaan Harvey is sesde op dié lys terwyl orkaan José die agste plek beklee en orkaan Maria die negende plek. Harvey het in Augustus vanjaar in Houston, VSA chaos gesaai. José het in September grootliks in die Bahamas amok gemaak, en Maria het die Karibiese Eilande in September getref.

Tweede op die lys is Bitcoin, die digitale geldeenheid wat wêreldwyd opslae gemaak het.

Polisiebeamptes op die toneel van die skietery by ʼn musiekfees in Las Vegas (2 Oktober 2017). Foto: AP Photo/John Locher

Die Las Vegas-skietvoorval is derde op die lys. Maroela Media het vroeër berig ʼn skieter het in Oktober vanuit die 32ste vloer van ʼn hotel vir minstens twee minute lank op konsertgangers by ʼn musiekfees oorkant die straat losgebrand. Minstens 59 mense is in die voorval doodgeskiet en 527 gewond.

Noord-Korea is vierde op dié lys terwyl Manchester die sewende plek beklee. Twee-en-twintig mense, insluitende kinders, het gesterf het toe ʼn selfmoordbom by ʼn Ariana Grande-konsert in Manchester afgegaan het.

April die kameelperd het die 10de plek op die lys opgeraap. April het bekendheid verwerf toe regstreekse video’s van die geboorte van haar kalfie op YouTube uitgesaai is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.