[Entrepreneurskap] Tegnologie en mediese nooddiens ontmoet mekaar hier

jaco-gerrits

Jaco Gerrits. Foto: Verskaf.

Jaco Gerrits bedryf reeds die afgelope 14 jaar tegnologiebesighede, die nuutste maatskappy is CrashDetech, ʼn slimfoon-applikasie (app) wat outomaties ongelukke aanteken.

Gee ons ʼn opsomming van die soort besigheid en bedryf waarin CrashDetech hom bevind.

Ons is van nature in die tegnologiebesigheid en die bedryf waarin hierdie spesifieke app gebruik word, is die mediese nooddiens. So, dit is maar eintlik ʼn healthtech-besigheid. Wat ons met die tegnologie probeer aanspreek, is mediese nooddienstye asook pasiëntinligting. Ons het gevind dat mediese nooddienstye kritiek is in terme daarvan om lewens te red, en daarbenewens is dit ook baie belangrik om seker te maak die paramedici het die regte inligting sodat hulle die pasiënt natuurlik behandeling kan gee. Ons app raak albei kwessies aan.

Watse probleem los jou besigheid op?

Padsterftes en ongelukke is ʼn wêreldwye  probleem, en die Verenigde Nasies het ʼn tydperk vir padveiligheid, The Decade of Action for Road Safety, van stapel gestuur wat van 2011 tot 2020 duur. Hulle het gevra almal moet saamwerk om hierdie probleem aan te spreek, en een van die pilare wat geëien is, is na-ongelukreaksie. Sodra ʼn voertuigongeluk plaasvind, is hoe vinnig ons reageer op daardie ongeluk en ook hoe goed ons dit doen, kritiek om lewens te kan red. Net om dit weer terug te bring en in konteks te plaas: Daar is 1,3 miljoen padsterftes elke jaar met 50 miljoen ernstige beserings dwarsoor die wêreld, en in Suid-Afrika is daar gemiddeld 47 padsterftes per dag. Dit is duidelik ʼn baie groot probleem en die tegnologie wat ons ontwikkel het, pas in by een spesifieke segment, en dit is die na-ongelukreaksie. So, vir ons is dit baie belangrik om so gou moontlik vas te stel indien iemand wel in ʼn ongeluk was, en dan ook so gou moontlik die naaste ambulans by die pasiënt te kry.

Julle het die toekenning Social Enterprise of the Year in Suid-Afrika gewen. Maar is dit iets wat jy raakgesien het? Het jy ʼn hart vir hierdie spesifieke tegnologie en wat het hierdie idee teweeggebring?

Ek sê altyd, as ʼn mens ʼn probleem het, moet jy jou waardestelling-aanbod rondom die probleem formuleer, maar snaaks genoeg het hierdie besigheid ietwat anders begin. Ek is iemand wat baie lief is vir lees, en van nature lees ek baie oor tegnologie. Ek het nagelees oor spesifieke sensors wat deesdae op slimfone beskikbaar is. Die idee het my net te binne geskiet dat ons voertuigongelukke sal kan monitor. Aanvanklik, toe die idee ontstaan het, het ek nooit besef hoe moeilik dit sou wees om die tegnologie te ontwikkel nie. Daar is verskeie uitdagings verbonde aan hierdie soort tegnologie, onder meer false positives. As jy byvoorbeeld  ʼn foon laat val, kan dit moontlik deur die algoritme beskou word as ʼn ongeluk. So, om die tegnologie regtig by ʼn punt te kry waar dit betroubaar is, en waar ons dit so kan posisioneer dat ons kan sê die tegnologie is ontwikkel om lewens te kan red, was vir ons tegnies ʼn baie groot uitdaging. Net om terug te keer na jou vraag, dit het dus begin met baie leeswerk. Toe ons begin navorsing doen oor hoe groot die probleem werklik is, het ons oë oopgegaan. Ons het besef dis ʼn probleem wat nie net relevant is vir ontwikkelende lande nie, maar regtigwaar ʼn wêreldwye probleem.

Wat kompetisie betref, is daar ouens daarbuite in die mark wat hierdie soort ding doen? Is die tradisionele definisie van kompetisie relevant in julle bedryf of vat julle hande? Hoe werk dit met so ʼn social enterprise?

Ek dink uiteindelik is ʼn sosiale besigheid nog steeds ʼn besigheid. Kompetisie is nie noodwendig ʼn slegte ding nie. Dit dryf ons almal om natuurlik die beste waarde-aanbod na die mark te bring, wat dan ook die sosiale uitwerking sal verbeter. Hoewel ons kompetisie verwag, het ons nie regtig tans mededinging nie. Die soort kompetisie of soortgelyke tegnologie wat jy tans sal sien, is die telematiese maatskappye, maar dit vereis ʼn toestel wat geïnstalleer moet word in ʼn voertuig en weereens is die voordeel verbind aan die voertuig. As jy byvoorbeeld ʼn Uber-taxi gebruik of saam met ʼn vriend ry, het jy nie regstreeks self die voordeel nie. Dis regtig wat ons probeer oorkom het, en om seker te maak dat ons tegnologie ontwikkel wat altyd saam met jou as persoon kan reis.

Wie is julle teikenmark of ideale kliënt?

Ek dink die natuurlike tendens is om te sê mense wat voertuigeienaars is, maar vir ons is dit nie so nie – dis regtigwaar enige padgebruiker. In Suid-Afrika het ons baie mense wat ons padnetwerke bereik en gebruik maak van openbare vervoer. Daar is taamlike risiko’s verbonde aan openbare vervoer. So, ons teikenmark is eintlik enigiemand wat ʼn Android of IOS-toestel het, en gebruik maak van ons padnetwerk.

Hoe werf julle nuwe kliënte? Is motorhandelaars een van julle kanale? En dan natuurlik, wat kos dit, watse produkte het julle?

Ons het vier intekening-modelle; die eerste een is heeltemal gratis, maar ons het ʼn perk van 30 ritte per maand. Dan, op die premiumweergawes het ons ʼn klassieke intekening (lidmaatskap) wat ʼn crash alert bevat. Ons het ook ʼn mediese noodknoppie wat jou verbind met ʼn mediese agent, en hulle kan vir jou vooraf hulpriglyne of -diens gee, soos byvoorbeeld KPR, totdat die ambulans opdaag. Dan het ons ook ʼn mediese ID, wat jy kan gebruik om in jou regterkantste agtervenster te plaas, sou die paramedici opdaag en jy het nie jou foon by jou gehad nie. Die laaste voordeel op Classic is ʼn medical emergency assist, en dit is die grootste nasionale netwerk van mediese nooddienspersoneel. Op enige gegewe oomblik in Suid-Afrika het ons toegang tot 5 000 paramedici om te kan reageer op jou oproep. Dis vir ons baie belangrik om ʼn netwerk op te bou van verskillende privaat mediese nooddiensmaatskappye om seker te maak dat ons die grootste netwerk het en sodoende die gouste moontlik by jou kan uitkom. Op die premiumpakket, wat ons saam met road cover aanbied, sal ʼn padongeluksfondseis namens jou fasiliteer – ons doen al die wetlike en administratiewe werk. Dan is daar ook die family protect, waar jy die voordeel op vyf fone kan installeer. Dit bied basies dekking vir jou hele familie. Die laaste een wat ons het, is elite, met al die voordele wat ek reeds genoem het, plus twee nuwes, die een is road secure, vir as jy dalk langs die pad gestrand raak en jy voel onveilig. Dan kan jy die knoppie druk en ons sal vir jou in Suid-Afrika ʼn gewapende veiligheidswag binne 40 minute stuur. Ons heel laaste produk is Lawyer SOS – as jy enigsins ʼn prokureur benodig, stuur ons vir jou ʼn strafregkenner (prokureur) om jou saak direk te behartig en ons sal ook aansoek doen om borgtog.

Wat is die grootste besigheidsfout wat jy tot dusver gemaak het en wat het jy daaruit geleer?

Ek dink die grootste fout was definitief om vanaf my aannames te werk en nie die aannames eers teen die waarskynlike mark te toets nie. Ek sê altyd, en ek lag baie daaroor, dat jy gewoonlik jou idees deel met die mense wat die naaste aan jou is. As jou ma dink dis ʼn great idee, en jou sussie dink dis wonderlik, en jou meisie dink jy is die beste, is dit dalk nie wat die gebruikers van jou produk dink nie. Dit is dus belangrik om altyd die aannames teen die mark te gaan toets. Ons sê ook altyd, misluk vroeg, leer daardie lessie en maak seker dat jy vinnig omdraai en die waardevoorstel of -aanbod aanpas na ʼn goeie markpassing. Ter opsomming is dit definitief om teen aannames voort te gaan en produkontwikkeling te doen. Ek het dus ʼn paar harde lesse geleer in die lewe.

Wat is tans of histories ʼn groot pyn in julle besigheid?

Een van ons grootste uitdagings was die ontwikkeling van die tegnologie self. Tegnologie gaan gewoonlik maar gepaard met groot oorhoofse koste in terme van ontwikkeling. Waar ons  aanvanklik ʼn idee gehad het in terme van wat ons tydlyne sou wees om algoritmes te skryf, het dit uiteindelik drie keer so lank geduur. So, weereens, dit is ʼn tipe tegnologie wat geskryf word om lewens te red. Dis baie belangrik dat die tegnologie uiters betroubaar is. Vir ons was dit tegnies ʼn kopseer om die algoritme by ʼn punt te kry waar ons persoonlik gemaklik was daarmee om dit mark toe te vat. Ons moes letterlik van die eerste lyntjie af kodeer, en natuurlik het ons pasgemaakte ontwikkeling gedoen vir IOS en Android. Daarmee saam moes ons ʼn back-end-stelsel rondom die intekening- oftewel lidmaatskapmodelle ontwikkel. Dit was nogal ʼn kopseer om alles van die grond af te kry.

Luister na hierdie episode op www.klipkouers.com

Klipkouers is ‘n weeklikse podsending waar sakeman, Jacques Basson, met plaaslike en internasionale Afrikaner entrepreneurs en impakmakers gesels ten einde die beste praktiese besigheids-en lewensadvies met jou te deel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.