Facebook koop WhatsApp vir $16 miljard

WhatsApp

WhatsApp

Facebook het die boodskapdiens WhatsApp vir $16 miljard (R177 miljard) gekoop.

Besonderhede van die transaksie is Woensdag bekend gemaak. Facebook het tans ongeveer 1.2 miljard gebruikers en WhatsApp het sowat 450 miljoen gebruikers. WhatsApp sal steeds onafhanklik met sy eie raad bedryf word.

Mark Zuckerberg, stigter van Facebook, het gesê WhatsApp is dié bedrag werd, aangesien die boodskapdiens binnekort moontlik ook met minstens 1 miljard gebruikers sal spog. Zuckerberg het glo die voorstel aan WhatsApp se medestigter, Jan Koum gemaak. Hy beskryf Koum as ʼn “waardevolle meningsvennoot” en ʼn “jarelange vriend”.

Die twee vriende het glo 11 dae gelede gesels en Zuckerberg het voorgestel dat samewerking tussen die twee platforms tot groter konnektiwiteit wêreldwyd kan lei. “Hy het deur die loop van die week daaroor gedink, en aangedui hy stel belang,” het Zuckerberg gesê.

Die aankope sluit $12 miljard in Facebook-aandele, en $4 miljard kontant in. Daar is ook ʼn bykomende $3 miljard in beperkte aandeeleende wat in ʼn vestigingsperiode van vier jaar aan die WhatsApp-stigters en –werknemers beskikbaar gestel sal word. -SAPA

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.