Facebook wil só help om selfmoord te bekamp

Argieffoto (Foto: Simon, Pixabay)

Die sosialemediareus Facebook gebruik nou kunsmatige intelligensie in ʼn poging om die regstreekse video-uitsending van selfmoorde in die kiem te probeer smoor.

Die maatskappy het gesê ʼn funksie is geïmplementeer om deur plasings of video’s op die netwerk te sif en dan aan te dui wanneer iemand moontlik beplan om selfmoord te pleeg. Dié funksie is beskikbaar vir meeste van Facebook se twee miljard gebruikers wêreldwyd, hoewel beskikbaarheid beperk is tot sekere gebruikers in die VSA.

Die doel van die kunsmatige intelligensie- program is om kommerwekkende plasings vinniger te identifiseer, aangesien tyd ʼn sleutelfaktor is in die voorkoming van ʼn selfmoord.

Facebook het gesê dit sal patroon-erkenning gebruik om alle plasings en kommentare met sekere frases te skandeer en te identifiseer wanneer iemand hulp nodig het. Daar sal ook kunsmatige intelligensie toegepas word om verbruikers se rapportering oor moontlike selfmoorde te prioritiseer. Die maatskappy het gesê frases soos “is jy oukei?” of “kan ek help?” kan seine wees dat ʼn verslag dringend aandag moet kry.

In die geval van regstreekse video-uitsendings kan gebruikers die video rapporteer en ʼn hulplyn kontak om bystand aan ʼn vriend te verleen. Facebook sal ook aan diegene, wat regstreekse video-uitsendings doen, die opsie bied om ʼn hulplyn of ʼn ander vriend te kontak.

Gebruikers word ook inligting gegee om wetstoepassers te kontak indien dit nodig is.

“Ons ondervind dat hierdie versnelde rapportering wat aandui dat iemand onmiddellike aandag nodig het, twee keer so vinnig by die plaaslike owerhede aangemeld word as gewoonweg,” het Guy Rosen, visepresident van produkbestuur vir Facebook, in ʼn blog-inskrywing gesê.

Facebook het die program getoets in die VSA en sal dit uitbrei na meeste van die ander lande waarin die program werk, met die uitsondering van diegene in die Europese Unie. Die maatskappy het nie uitgebrei oor redes waarom Europese lande nog nie kan deelneem aan die program nie. Europa se privaatheid- en internetwette verskil egter van die VSA s’n. Facebook het gesê hy is in gesprek met owerhede oor die beste manier om die program te implementeer.

Die sosiale netwerk fokus nou op die identifisering en bekamping van potensiële selfmoorde nadat Facebook ʼn vlaag regstreekse selfmoorde beleef het in April vanjaar, waarvan een dié is van ʼn pa wat sy babadogtertjie vermoor voordat hy sy eie lewe geneem het. Die maatskappy het in Mei gesê hy sal 3 000 bykomende personeellede aanstel vir sy gemeenskapsoperasie-span wat plasings en ander inhoud nagaan wat aangemeld is vir gewelddadige of ander kommerwekkende inhoud.

Die uitvoerende hoof van Facebook, Mark Zuckerberg, het toegegee dit is ʼn moeilike probleem om op te los. “Ons sal nooit genoeg mense in ons span kan hê wat na alles sal kan kyk nie,” het hy in Mei gesê.

Die kunsmatige intelligensie-funksie onderskryf Facebook se afhanklikheid van algoritmes om die netwerk te monitor en polisieer. In hierdie geval bepaal die algoritmes nie net watter plasings nagegaan moet word nie, maar ook in watter volgorde dit deur mense nagegaan moet word.

Facebook gebruik kunsmatige intelligensie oral op sy webwerf om verskeie take te verrig. Dit skandeer plasings vir byvoorbeeld gevalle van kinderpornografie en ander aanstootlike inhoud wat verwyder moet word. Dit leer ook robotte om menslike gesigsuitdrukkings te lees. Die maatskappy het nie bevestig of hy ʼn soortgelyke kunsmatige intelligensie-funksie gaan gebruik vir ander situasies wat kommer wek by die netwerk nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.