Foto’s en video: Apple stel 3 nuwe iPhones bekend

Foto: Foto: AP Photo/Marcio Jose Sanchez

Apple het Woensdag drie nuwe iPhones, insluitend sy duurste en grootste slimfoon nog, bekend gestel.

Tim Cook, uitvoerende hoof van Apple, het die iPhone XS, iPhone XS Max en die iPhone XR bekend gestel.

Die iPhone XS en XS Max lyk dieselfde as die iPhone X wat verlede jaar bekend gestel is, net groter en beter. Daar is ook verbeteringe in terme van spoed, verwerking en die gehalte van foto’s en video’s.

Daar is soos met die iPhone X weggedoen met die “tuisknoppie” en 3D-gesigherkenning word gebruik om die toestel te ontsluit. Die iPhone XS se skerm is 14,7 cm groot terwyl die XS Max spog met iPhone se grootste skerm nog – 16,5 cm.

Die iPhone XS Mac en iPhone XS. Foto: AP Photo/Marcio Jose Sanchez

Beide die XS en XS Max bevat ʼn A12 Bionic-skyfie wat 5 000 miljard berekeninge per sekonde kan uitvoer en volgens Apple sal die fone se batterye minstens ʼn uur en ʼn half langer hou as die iPhone X.

Die iPhone XS se prys begin by $999 terwyl die iPhone XS Max jou minstens $1 099 uit die sak gaan jaag. Dié fone sal na verwagting reeds teen die einde van die maand in Suid-Afrika beskikbaar wees, maar die plaaslike pryse is nog nie bekend nie.

Foto: AP Photo/Marcio Jose Sanchez

Apple het ook sy “goedkoper” iPhone bekend gestel, naamlik die iPhone XR. Die skerm is van goedkoper LCD-tegnologie en is 15,5 cm groot. Daar is ook hier met die “tuisknoppie” weggedoen. Die foon se prys begin by $749 en sal van ongeveer einde Oktober beskikbaar wees. Die iPhone XR bevat ook die A12 Bionic-skyfie.

Daar is verder tydens die bekendstelling van die fone aangekondig dat die jongste Apple-bedryfstelsel volgende week uitgereik sal word.

Foto: AP Photo/Marcio Jose Sanchez

Apple het ook veranderinge aan sy nuutste horlosie, die Apple Series 4, aangekondig. Dit sluit in ʼn hartmonitor wat volgens die maatskappy ʼn onreëlmatige hartklop sal kan identifiseer en ʼn  elektrokardiogram kan uitvoer.

Die horlosie sal glo voorts kan bespeur wanneer iemand val, en boonop kan onderskei tussen wanneer iemand net struikel of val. Indien die gebruiker glo nie binne ʼn minuut ná ʼn val reageer nie, sal die horlosie mediese bystand ontbied.

Dit is nog nie duidelik wanneer die nuwe horlosie beskikbaar sal wees nie.

Apple's big news in 108 seconds

The all new iPhone XS, iPhone XS Max, iPhone XR and Apple Watch Series 4 are here. Learn more www.apple.com

Posted by Apple on Wednesday, September 12, 2018

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Ouboet ·

Die iPhone is soos die “top of the range” Toyota Fortuner: duur, maar sal jou nooit in die steek laat nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.