Gebruikers gewaarsku om WhatsApp op te dateer

Argieffoto (Foto: heikoAL)

WhatsApp het gebruikers versoek om dié app op hul foon na die jongste weergawe op te dateer ná berigte dat gebruikers moontlik blootgestel kan word aan kwaadwillige spioenware wat sonder hul medewete op selfone geïnstalleer word.

Die jongste weergawe van die app het egter die nodige sekuriteitsmaatreëls om die spioenware te keer.

Die maatskappy het laat Maandag gesê dié spioenware is deur ʼn groep gevorderde kuberkrakers ontwikkel en slaan munt uit ʼn fout in die gewilde WhatsApp-app deur selfone vanaf ʼn veraf ligging te kraak. WhatsApp het die kuberkrakers beskryf as “’n private maatskappy wat bekend is daarvoor om saam met regerings te werk om spioenware vry te stel”.

The Financial Times het berig die spioenware is ontwikkel deur die Israeliese kuberspioenasiemaatskappy NSO Group. ʼn Woordvoerder van WhatsApp het later bloot gesê: “Ons ontken beslis nie enige berigte wat tot dusver hieroor gepubliseer is nie.”

Die spioenware kan deur gemiste oproepe deur die app se belfunksie op die foon geïnstalleer word, het ʼn woordvoerder van die Facebook-filiaal gesê. ʼn Onbekende aantal mense se fone is reeds deur dié skadelike sagteware geraak teen die tyd dat die maatskappy dit vroeg vandeesmaand agtergekom het.

John Scott-Railton, ʼn navorser vir die internetwaghond Citizen Lab, het die fout as “’n baie kommerwekkende sekuriteitsprobleem” bestempel. “Daar is niks wat ʼn gebruiker kan doen om dít te keer nie, behalwe om nie die app te hê nie,” het hy gesê.

Die woordvoerder het gesê die fout is vasgestel terwyl WhatsApp se span besig was om bykomende sekuriteitsmaatreëls in te stel rakende stemoproepe. “Ingenieurs het gevind mense wat deur die spioenware geteiken word, sal een of twee oproepe van ʼn nommer kry wat hulle nie ken nie. In die belproses word hierdie kode oorgeplaas.”

WhatsApp, wat meer as 1,5 miljard gebruikers het, het onmiddellik vir Citizen Lab en menseregtegroepe genader, dadelik die fout reggestel en die bygewerkte weergawe op app-winkels uitgereik. Die woordvoerder het gesê WhatsApp het ook inligting aan Amerikaanse owerhede gestuur om hulle te help met hul ondersoek.

“Ons is baie bekommerd oor die misbruik van sulke vermoëns,” het die maatskappy in ʼn verklaring gesê.

NSO het in reaksie op The Financial Times se berig gesê sy tegnologie is gelisensieer aan goedgekeurde regeringsagentskappe “vir die uitsluitluike doel om misdaad en terreur te beveg”. Die maatskappy het gesê hy sal in geen omstandighede betrokke wees by die bedryf of identifisering van teikens vir sy tegnologie nie, aangesien dié tegnologie “slegs deur intelligensie- en wetstoepassingagentskappe bedryf word”.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Cherokee ·

Nou..?? Volledige(r) inligting sou tog wees om weergawe nommers te plaas. Ek gebruik Version 2.19.134. (2019-2019), Is dìt die een wat vervang moet word? Dankie vir/as iemand hierop antwoord.

Alta ·

Watter update kies mens op jou cell in playstore. Daar is soveel ek weet nie watter een om te kies nie

Wanda ·

Jy gaan op Play Store en dan na my app toe,al jou app sal dan daar wys en kliek op whatsapp en sê upgrade

Kerrie Vlamskiet Briekstreep ·

Wie het oorspronklik die idee gehad vir Facebook…die platform waar persoonlike inligting vrylik openbaar gemaak word deur die gebruiker self….?
.
.
Wie besit nou WhatsApp ?
.
.
I rest my case.
.
.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.