Gewilde KragDag-ekspo na 2021 uitgestel

KragDag 2019 (Foto verskaf aan Maroela Media)

Stad Tshwane se Events Management-afdeling het die organiseerders van die jaarlikse Sakeliga KragDag-ekspo verbied om met die ekspo voort te gaan wat op 3 tot 5 Desember 2020 sou plaasvind.

Die Sakeliga KragDag-ekspo is ‘n drie dag lange opelug-ekspo wat fokus op volhoubaarheid en selfstandigheid.

Dit volg nadat ʼn afvaardiging, wat bestaan het uit bestuurslede van Sakeliga en KragDag, bygestaan deur ʼn mediese span en regulasievoldoeningsprokureur, verlede Vrydag ʼn positiewe vergadering met Tshwane se nuwe DA-burgemeester gehad het, waarin die teenwoordige raadslede hulle ondersteuning vir die hou van die ekspo aangetoon het en die waarde daarvan vir die mense van Pretoria bevestig het.

“Om die Sakeliga KragDag 2020 buitelug-ekspo te verbied asof grendelstaatregulasies so bepaal, terwyl daar daagliks winkelsentrums reg oor die land oop is met veelvoude meer besoekers, maak egter geen sin nie,” sê HP Steyn, woordvoerder van KragDag, in ʼn verklaring. “Die besluit van die gesamentlike bedryfskomitee (JOC) kom nieteenstaande die organiseerders se reëlings om die ekspo binne die grendelstaatregulasies aan te bied. As bykomende voorsorg sou die ekspo in nege verskillende buitelug-areas op die meer as ses hektaar perseel verdeel word en sou besoekers in die onderskeie areas beperk word tot onder die maksimumgetalle in grendelstaatregulasies.”

Daar sou ook mediese spanne wees om toegangsbeheer en toetsing vir Covid-19 toe te pas. Die resultaat sou wees dat die ekspo soortgelyk aan ʼn opelug winkelsentrum sou wees, maar met veel beter toegangsbeheer, higiëne en ruimte.

KragDag 2019 (Foto verskaf aan Maroela Media)

Meer as 450 uitstallers sou by die ekspo, wat verlede jaar deur 21 000 mense oor drie dae besoek is, uitgestal het. Dit is meer uitstallers en minder besoekers as wat daagliks in vele winkelsentrums besoek word en besoek aflê. Baie van hierdie ondernemings het as gevolg van die wurggreep van die regering se grendelstaat ʼn moeilike jaar beleef en sommiges het op die ekspo gereken om hulle te help oorleef.

Die Sakeliga Kragdag-ekspo sou hierdie jaar vir die twaalfde jaar aangebied gewees het op Diamantvallei Landgoed (20 km oos van Pretoria) op ‘n uitstalterrein wat oor 6 hektaar strek (die grootte van 12 rugbyvelde). Vir baie is dit besig om die plek wat die Pretoria skou in die verlede gehad het, in te neem en begin mense na die landbou afdeling te verwys as die Nampo van Gauteng. Die ekspo se fokusareas sluit in alternatiewe energie, water, riool, sekuriteit, voedselproduksie en agterplaasboerdery, onderwys, entrepreneurskap, nuwe tegnologie en ‘n makersbeweging, “homesteading”, buitelug kragtoerusting, ʼn buitelug lewenstyl asook elektriese- en sonkragvoertuie.

Verlede jaar is ‘n landbou-sub-ekspo in samewerking met die landbou-unie TLU SA bygevoeg en hierdie jaar sou daar ook ‘n Omgeemark in samewerking met Solidariteit Helpende Hand aangebied word om klein ondernemings te ondersteun wat gewoonlik op feeste en weeklikse markte hulle brood verdien, maar wat hierdie jaar grotendeels daarvan ontneem is.

Ten spyte van die positiewe vergadering met Tshwane se DA burgemeester het die Tshwane Events Management-komitee egter KragDag verbied om met die ekspo voort te gaan.

Piet le Roux, hoof- uitvoerende beampte van Sakeliga, het, na afloop van die vergadering met die burgemeester, aan verteenwoordigers van die Events Management-komitee die aanbod gemaak om die munisipaliteit behulpsaam te wees met ʼn regsopinie oor die regulasie ten einde ʼn korrekte toepassing van die regulasie te verseker, maar die aanbod is nie aangeneem nie.

“Dit bly vir KragDag vreemd hoe, as daar na die motiverings teen die hou van die ekspo geluister word, die Covid-19-virus blykbaar groot geleenthede wat slegs een maal ʼn jaar plaasvind teiken, terwyl talle markte wat elke week, of winkelsentrums wat daagliks deur groot getalle mense besoek word, blykbaar grotendeels deur die virus vermy word,” voeg Steyn by. “Dit is vir die KragDag span en talle van sy uitstallers teleurstellend en hartseer dat die plaaslike munisipaliteit, te midde van ʼn noodkreet van mense, nie ʼn meer rasionele benadering volg om die inwoners binne sy jurisdiksiegebied toe te laat om in hierdie tyd te oorleef nie. Dit, terwyl daar in die regulasies ruimte vir so ʼn benadering gelaat word.”

Die ekspo is uitgestel na die eerste kwartaal van 2021. Meer inligting hieroor sal binnekort bekendgemaak word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

domheks ·

Weet die mense iets wat ons nie van bewus is nie? Klink na nog ‘n ‘lockdown’?????

Hennie ·

Die stadsraad weet dat Kragdag hul inkomste wegkalwe, dis hoekom! Witmense wat die tegnologie kan bekostig is ook die wat hul elektriese rekeninge pligsgetrou betaal…

Anel ·

Die metro en hulle our people kry seker niks hier uit nie. Dis mos meer ‘n blanke ekspo en dit wat uit gestal word maak dat die munisipaliteit op die ou einde geld verloor sois mense oorskakel na alternatiewe krad. En dít kan hulle nie toelast nie. Maar hulle gee toestemming dat duusende in die strate betoog. Verstaan gladnie hulle logika nie. In elke geval, waar wandel die virus nou?

Genis ·

Ag lamsakige DA julle kry lank nie meer my stem nie… dis julle wat in koalisies met die EFF gaan…

Pieter J ·

Ek sal graag wil hoor wat is hulle verduideliking hiervoor.

Jan ·

Die hele covid-ding is op patetiese wyse vir duistere agendas misbruik en ons mense, VF+ en Afriforum inkluis het ANC meelopers en Volksverraaiers in die proses geword.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.