Google beëindig Huawei se Android-gebruik

Google se kantoor in New York. (Argieffoto: IANS)

Google het gebruikers van Huawei-slimfone Maandag gerusgestel dat die Amerikaanse maatskappy se basiese dienste vir tyd en wyl steeds op bestaande Huawei-slimfone sal werk ná Google se besluit om Huawei se gebruik van sy Android-bedryfstelsel te staak.

Dié aankondiging kom na ʼn opdrag deur die Trump-administrasie aan plaaslike maatskappye om die lewering van onderdele en/of programmatuur aan Huawei Technologies Ltd te staak omdat dit volgens die regering ʼn sekuriteitsrisiko inhou.

Huawei is die wêreld se tweede grootste slimfoonvervaardiger en gebruik Google se Android-bedryfstelsel op sy slimfone. Die maatskappy, ook die wêreld se grootste vervaardiger van netwerktoerusting vir telefoonmaatskappye, se hoofkantoor is in Shenzhen.

Google, ʼn eenheid van Alphabet Inc., sê hy gee gehoor aan en “hersien die implikasies van” die vereistes vir uitvoerlisensies vir tegnologieverkope aan Huawei. “Ons verseker jou terwyl ons aan die Amerikaanse regering se vereistes gehoor gee, sal Google Play en die sekuriteit van Google Play Protect steeds op jou bestaande Huawei-toestel funksioneer,” het Google op Twitter gesê.

Techradar berig gebruikers wat tans ʼn Huawei-slimfoon besit, sal vir die afsienbare toekoms steeds toegang tot die Google Play Store en sagteware-opgraderings hê. Die toestelle sal egter nie die jongste weergawe van die Android-bedryfstelsel kan aflaai nie.

Dit beteken as Huawei voortgaan om die Android-bedryfstelsel te gebruik, sal hy die Android Open Source Platform (AOSP) moet gebruik, ʼn gratis platform wat enige handelsmerk as onderliggende basis vir sy produkte mag gebruik. Slimfone wat egter van AOSP gebruik maak, sal nie toegang hê tot gewilde Google apps soos YouTube, Chrome of Google Maps nie.

Dit is tans nie duidelik hoe lank Google bestaande Huawei-slimfooneienaars toegang tot sy Google Play Store sal gee nie.

‘n Man voor ‘n Huawei-winkel in Beijing. (Foto: AP Photo/Ng Han Guan)

Huawei het intussen gesê hy sal voortgaan om sekuriteitsopgraderings te verskaf, maar het nie aangedui watter selfoondienste geraak sal word nie. Die maatskappy het ook ontken dat hy Chinese owerhede met spioenwerk help.

“As een van Android se internasionale sleutelvennote, het ons nog altyd ten nouste saamgewerk met hierdie platform om ʼn ekostelsel te ontwikkel wat beide gebruikers en die industrie bevoordeel,” het die maatskappy in ʼn verklaring gesê.

Huawei het gesê hy sal steeds sekuriteitsopgraderings en na-verkope diens vir alle slimfone en rekenaartablette lewer wat onder sy Huawei‑ en Honor-handelsmerke verkoop is.

Intussen het ʼn woordvoerder vir China se departement van buitelandse sake gesê die Chinese owerhede “sal die verwikkelinge monitor”, maar het geen aanduiding gegee van hoe Beijing gaan reageer nie. Die regering het ná die aankondiging gesê hy sal stappe doen om Chinese maatskappye se regte in die buiteland te beskerm, maar nog geen verdere besonderhede oor die stappe bekendgemaak nie.

Lu Kang, die woordvoerder, het gesê China sal altyd Chinese maatskappye ondersteun en het “wetlike wapens” om hul regte te beskerm.

Die opdrag van die Amerikaanse regering het Donderdag in werking getree en vereis dat die regering goedkeuring gee vir Huawei en 68 ander geaffilieerde ondernemings se aankoop van Amerikaanse mikroskyfies, sagteware en ander komponente wêreldwyd. Huawei sê dié aankope het verlede jaar $11 miljard beloop.

Die Amerikaanse regering sê Chinese verskaffers, insluitend Huawei en sy kleiner kompetisie, ZTE Corp., hou ʼn spioenasiebedreiging in omdat hulle wetlik verbind is aan China se regerende Kommunistiese Party. Amerikaanse amptenare het egter geen bewyse voorgehou dat enige Huawei-toerusting opsetlik deur Beijing vir spioenasie gebruik is nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

David ·

Trump het so pas die doodsvonnis van baie mense in die derde wêreld geteken.

Nou kan China na hartelus komponente en sagteware gebruik, met agterdeure in, en sodoende autokratiese leiers / state bemagtig om hulle magsposisie te handhaaf.

Die ANC steek al lankal kers op by China oor hoe om die internet te polisieër, so donker tye is op ons.

Haan ·

Die kwessie is nie óf daar gespioneer word nie, die kwessie is wíé spioneer. En die Amerikaners kan nie bekostig dat ander lande hul kosbare spioenasie geleenthede opraap nie.

Cherokee ·

Dìt sal lastig wees want ek gebruik Huawei Mate 10 Pro en my vrou het twee vergelykende Huawei’s.

Gerhard ·

Dit sal net n probleem wees vir nuwe fone wat op die mark kom.

Lord Oom Piet ·

Soek “Intel Management Engine” en lees dan oa die wikipedeablad daaroor.

IME word sedert 2008 op alle Intel CPUs installeer en kan gebruik word om jou rekenaar “remotely” te beheer deur n (Intel) “administrateur “, en alles wat dit impliseer…

Lees dit gerus. Raak bewus.

Susan ·

Ek het onlangs opgegradeer en is nou spyt dat ek ‘n Huawei geneem het.

Eddie ·

Ek ook Susan, ek het nou Januarie opgradeer en nou kry mens sulke nuus.

marco polo ·

Ek verstaan nie regtig die bohaai en vrese nie. Ek leef al jare sonder Google, Youtube en Facebook in China, sonder dat ek iets oorgekom het. Daar is ander apps wat jou dieselfde bied, maar nou ja, as jy verslaaf is aan jou foon, soos baie mense deesdae is, kan jou lewe dalk versuur word. Ek gaan eersdaags vir my n nuwe Huawei uittrek.

Koos ·

Daar is heelwat apps op Google Play waarsonder mens deesdae nie meer kan klaarkom nie. Whatsapp is die hoof kommunikasie tussen my en my kinders, projekte by die werk, skool kommunikasie en geselsies met familie en vriende. Mens kan nie van almal verwag om oor te skakel na ‘n ander app omdat die Huawei fone dit nie meer gaan ondersteun nie. Ek skakel eerder oor na ‘n ander foon. Ook heelwat ander apps wat ek daagliks gebruik: Gmail, Office vir Android, Fitbit, Google Maps, ens. YouTube bied baie vermaak en is baie waardevol vir skooltake en enigiets wat mens wil weet hoe om te doen. Kan nie daarsonder nie! Dis nie dat mens verslaaf is aan jou foon nie, dis net dat mens se foon deesdae soveel funksies verrig dat mens nie meer daarsonder kan klaarkom nie.

marco polo ·

Ek hoor jou Koos, my punt is dat ons nie te veel moet bekommer nie. Ek gebruik Wechat ipv Whatsapp, wat in elk geval net werk wanneer dit wil, en baie van my vriende en familie is reeds daarop. Dis soos ‘n whatsapp en facebook in een. Google is nie die enigste soekenjin nie, daarvoor gebruik ek Yahoo of Bing. Wat navigasie en kaarte betref, is daar hordes, soos bv maps.me. Wat het ons gedoen voordat daar apps was?

Gerhard ·

Daar sal geen opdatering wees vir sekeruteit nie on nuwe fone nie.

Kerrie Vlamskiet Briekstreep ·

.
.
Enige gratis platform of sagteware myn jou persoonlike inligting en dit word bymekaar gesit in n databasis vir die groei van jou unieke persoonlike profiel op die wêreldwye web…alles wat jy op n rekenaar,tablet,selfoon en tv doen word bymekaar gesit…wees gewaarsku.
.
.

Linda ·

Ek ook, het my Huawei 2 maande en wat gaan presies gebeur met AL DIE MENSE wat Huawei fone het?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.