Hoekom gebruik mense Facebook?

Argieffoto

Argieffoto

ʼn Onlangse studie in ondernemingsbestuur aan die Universiteit Stellenbosch het antwoorde gesoek op sommige mense se obsessie met sosiale media, terwyl ander sirkels stap om dié neiging.

Die studie, uitgevoer deur dr. Albert Nelmapius, het bevind gebruikers én nie-gebruikers van sosiale media het hul spesifieke redes.

Nelmapius is ʼn dosent in die Departement Ondernemingsbestuur aan die Nelson Mandela Metropolitaanse Universiteit.

Hy het vir dié doktorale studie demografiese data van 307 gebruikers en 337 nie-gebruikers van Facebook ingesamel om meer uit te vind oor hul voornemens om die sosiale netwerk te gebruik of in die toekoms te gebruik. Voorts het hy gekyk na die motiverings en struikelblokke vir die twee groepe en watter belonings Facebook bied. Hy wou ook vasstel of bemarkers by hierdie inligting kan baat vind.

Nelmapius sê hy het op Facebook gefokus omdat dit die grootste en oorheersende sosiale netwerk ter wêreld is.

Vir die eerste kwartaal van 2016 het Facebook 1,6 miljard maandelikse gebruikers gehad. Dit is die eerste sosiale netwerk met meer as ʼn miljard geregistreerde gebruikers. Hy sê sy studie was omvattend genoeg om insigte te bied wat vir die meeste ander sosiale netwerke geldig kan wees.

“My navorsing het getoon mense gebruik Facebook hoofsaaklik om bestaande verhoudings met vriende in stand te hou, foto’s op te laai, status op te dateer en vir vermaak. Vroue bestee ook meer tyd op die netwerk per week as mans,” het hy gesê.

Hy het gesê mense gebruik Facebook ook omdat dit skynbaar genot bied en maklik bruikbaar is. “Facebook word ook gebruik omdat mense ʼn behoefte aan kognitiewe stimulasie het en vatbaar is vir groepdruk. Hierdie motiverings het presies dieselfde uitwerking gehad op gebruikers én nie-gebruikers se voorneme om Facebook te benut.”

Volgens Nelmapius hou drie moontlike hindernisse mense weg van Facebook, naamlik die gebrek aan disposisionele vertroue (die algemene geneigdheid om ander te vertrou), ʼn gebrek aan internet-selfdoeltreffendheid (die geloof in jou vermoë om die internet te gebruik) en sielkundige risiko (teleurstelling, ʼn gevoel van dwaasheid of verlies van die ego, verleentheid of verlies aan selfrespek omdat vriende of familie weet ʼn produk of diens het gefaal).

“Hierdie drie moontlike hindernisse het dieselfde invloed gehad op gebruikers en nie-gebruikers se voorneme om Facebook te gebruik,” het hy bygevoeg.

“Die een uitsondering is die vrees dat privaatheid in die slag kan bly. Dit was ʼn statisties beduidende hindernis vir diegene wat nie Facebook gebruik nie. Hierdie bevinding is belangrik vir sosiale media-bemarkers omdat dit wys dat vrese oor privaatheid gebruikers sodanig kan beïnvloed dat hulle sal kies om eerder nie tegnologie te benut nie.”

Nelmapius sê ontwikkelaars en bemarkers van sosiale netwerk-webwerwe se beplanning en ontwerp moet deeglik wees om vrese oor privaatheid te besweer en die risiko dat dit dalk in die slag kan bly te verminder.

Nelmapius wys daarop dat inligting oor die gebruik van ʼn sosiale netwerk-webwerf, die nakoming van beloftes, doeltreffende regstelling van foute, vertroulike mondelinge verwysings van vriende op sosiale netwerk-webwerwe, en voldoende aanlynsekuriteit om private inligting te beskerm, uiters belangrik is om mense se vertroue in ʼn webwerf te wen.

“Konstante en deursigtige kommunikasie, welwillendheidsgebare van ʼn sosiale netwerk, die nakoming van beloftes sonder kompromie, en handelsmerkbestuur wat ʼn webwerf se integriteit en betroubaarheid beklemtoon, kan help om met verloop van tyd vertroue te bou,” het hy gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Anton ·

Interessant dat die studie diegene wat verkies om nie facebook profiele te hê nie, as sielkundig afwykend beskryf. Daar word nie enige legitieme redes genoem by diesulkes nie, soos bv. dat van hulle meer waardering vir egte menslike verhoudings koester nie. Dit wys dat die navorser self simptome toon van die eintlike algemene nuwe sielkundige afwyking, naamlik die veronderstelling dat die virtuele nou bo die werklike verhef moet word.

Veritas ·

Ek kon nog nooit verstaan wat ‘Facebook’ nou eintlik is nie. Wie wil nou regtig weet waar en wat jy gister geëet het of dat jou vrou ‘n windjie in die bad gelos het? Net sosiaal wanaangepaste mense vind dit stimulerend.

Henda ·

Mense wat nie n lewe het nie gebruik facebook daar is baie ander goed om te doen as jy verveeld is. Om nou n studie te maak oor hoekom mense dit nie gebruik nie is absoluut belaglik.

Ghia ·

In 2016 het 1.6milj persone face-book gebruik terwyl +- 7 biljoen mense op aarde is. 22 profiele pp?
Mnr/Me Nelmapius is wiskundig wanaangepas – ek dink

Alois ·

@Anton-lees ons dieselfde artikel? Ek kon geen verwysing na “sielkundig afwykend” in die artikel kry nie, maar slegs “sielkundife risiko”. Kan jy dit spesifiek uitwys?
@Ghia-jy sal moontlik die artikel met die titel: “taaltoffie: Miljarde, biljoene en triljoene” nuttig vind, dan ken jy ook die verskil tussen miljard en biljoen :)

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.