In ʼn vreemde land? Jou slimfoon kan help met vertaling

Argieffoto (Foto: Gerd Altmann/Pixabay)

Google het pas bekendgemaak dat hulle vertalingstoepassing wat oombliklike vertaling moontlik maak, nou in nog meer tale gebruik kan word. Dit sluit Afrikaans in!

Met dié toepassing kan jy jou slimfoon se kamera op teks in ’n ander taal rig, en dit sal die teks dan dadelik in jou taal van keuse vertaal. Dit is veral van groot hulp vir reisigers wat dalk instruksies of aanwysingsborde moet ontsyfer.

Soms sukkel mense om vas te stel watter taal op die bord of kennisgewing verskyn wat hulle wil vertaal, maar die toepassing is nou só gevorderd, dat jy eers kan vra dat dit die taal bepaal, en dan die vertaling kan bekom.

Voorheen kon enige taal net in Engels vertaal word, maar nou kan kruisvertaling wat Engels uitsluit, plaasvind.

Daar kan uit 88 tale in meer as ʼn honderd tale vertaal word. Dit is opwindend dat hierdie klein groepie uit die wêreld se ongeveer 7 100 tale, Afrikaans insluit en wys hoe Afrikaanse IT-deskundiges moeite doen om met vertaling tegnologie in ons eie taal toeganklik te maak.

Die toepassing is nog nie geheel en al foutvry nie, maar deurlopende ontwikkeling en verbetering verseker dat foute al minder word.

Een van die oorlewingsvereistes vir tale in die 21ste eeu is dat nuwe tegnologie ook daarin toeganklik moet wees. Hierdie aankondiging is dus van groter betekenis as net vir diegene wat die toepassing gaan gebruik – dit raak die oorlewing van Afrikaans direk.

Afrikaanssprekendes word aangemoedig om gereeld te kyk watter nuwe funksies en toepassings in Afrikaans beskikbaar geraak het. Soms mag ’n funksie of program dalk nog nie in jou taal van keuse bestaan nie, maar moenie moed verloor nie. Wag ’n paar weke en probeer weer, want die ontwikkeling geskied vinnig. Hoe hoër die aanvraag vir Afrikaanse programmatuur ook is, hoe meer regverdig dit die hulpbronne wat vir die vertaling nodig is.

Soms klink ’n program of toepassing se taal dalk vreemd, maar laat ons maar eerlik wees, die eerste keer wat ons terme soos “inbox” en “default” gehoor het, was dit ook vreemd. Elke terrein het ’n unieke woordeskat wat bemeester moet word – Afrikaans in die ekonomie, teologie, regswêreld en mediese veld kan ook maar soms raar klink, nie omdat die terme swak vertaal of laf is nie, maar bloot omdat ons nog nie gewoond daaraan is nie.

Moedig daarom vandag nog vriende en familie aan om rond te speel en te kyk watter funksies hulle alles op hulle slimfone of rekenaars in Afrikaans sal kan gebruik.

Klik hier om meer te lees en te sien hoe die toepassing werk.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Schalla ·

Dis wonderlike nuus! Ek het in Mei navraag gedoen by Google rondom wanneer Google Home ondersteuning vir Afrikaans gaan hê. Het onder andere genoem dat ek ernstig oorweeg om een te kry maar dat Afrikaans vir my ‘n vereiste sal wees. Het ook terloops vir hulle vertel hoe Afrikaans die 3de grootste taal in SA is en dus ‘n groot mark het.

Moet sê die ou met wie ek gepraat het het dit laat klink of hulle baie hard daaraan werk. Ek dink dit was egter net verkoopsman-taktiek. Maar ek moet sê die Android Google Keyboard program het ook ‘n verstelling vir Afrikaans en dit werk wonderlik. En bg artikel wys ook darem dat dinge gebeur in Afrikaans! Dit het my sommer aangespoor om te antwoord op die laaste korrespondensie wat ek van Google rondom my navraag gehad om op te volg wat die nuutste stand van sake is ivm waneer Google Home ook in Afrikaans beskikbaar gaan wees. Dit sal darem maar lekker wees om net te sê “Hey Google – sit aan die ligte” pleks van “Hey Google – switch on the lights”

As genoeg mense vra dan luister hulle!

Cherokee ·

Alhoewel ek in ‘n absoluut Engelse omgewing woon en slegs Afrikaans tuis praat, is ek lief vir Afrikaans, maar daar is twee plekke waar Afrikaans nie werk nie en dus ‘n onbekende taal is. Ek spandeer ure per dag op rekenaars en ek sal nie waag om MS Office of Adobe Photoshop in Afrikaans te benader nie. Die IT-taal is Engels. En dan onthou ek die dag toe ek by ‘n motor-onderdele winkel ingestap het en vir twee straal vliegtuie gevra het. Toe die verslae verkoopsman my met so dom uitdrukking aankyk, het ek verduidelik ek het twee jets vir ‘n carburetor nodig. Ons het lank daarna steeds gelag daaroor.

Annie Webb ·

Google se “vertalings” in Engels is so onverstaanbaar vrot dat ek nie eens sal oorweeg om daarop staat te maak nie. Wat nog te sê in ander tale. Taal is eenvoudig nie syfers nie en nie aan dieselfde onveranderlike “wette” onderhewig as syfers, wat laasgenoemde toeganklik maak vir blikbreine nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.