Instagram wil angel uit sosiale media haal met nuwe funksies

Instagram het nuwe maatreëls op dié sosialemediaplatform ingestel in ʼn poging om die negatiewe aspekte van sosiale media te minimaliseer.

Dit is in reaksie op navorsing wat toon dat sosiale media dikwels ʼn negatiewe uitwerking op mense, veral jongmense, se geestesgesondheid en selfbeeld het.

Een van dié maatreëls is om weg te doen met die teks onderaan ʼn inskrywing wat toon hoeveel “likes” die inskrywing ontvang het. Hierdie maatreël word tans as deel van ʼn toetslopie in sekere lande, waaronder Ierland, Italië en Australië, ingestel.

Waar daar altyd onderaan foto’s gestaan het presies hoeveel mense “like” op die inskrywing geklik het, sal daar nou net ʼn gebruikernaam en “ander het van hierdie inskrywing gehou”, verskaf word. Gebruikers kan steeds op die teks klik om die lys van gebruikers te sien wat van die inskrywing hou.

BBC berig Instagram het in ʼn verklaring gesê hy hoop dié wysiging aan die platform verminder die druk wat Instagram-gebruikers voel om soveel moontlik “likes” op hul inskrywings te kry. Instagram sê hul doelwit is om gebruikers te laat voel asof hulle minder beoordeel word en eerder daarop fokus om hul stories te vertel.

Toe die maatreël vir die eerste keer in Kanada ingestel is, het Instagram-hoof Adam Mosseri gesê die doelwit is om gebruikers se stresvlakke te verminder oor hul aanlyn inskrywings waar gebruikers gereeld meeding oor die aantal “likes” wat hul inskrywings kry.

“Ons wil hê mense moet hulle minder bekommer oor hoeveel ‘likes’ hulle op Instagram kry en meer tyd afstaan om in verbinding te tree met die mense vir wie hulle omgee,” het hy destyds verduidelik.

Nóg ʼn maatreël wat onlangs deur Instagram ingestel is, het ten doel om kuberboeliery hok te slaan. Dié funksie word gedryf deur kunsmatige intelligensie en stel gebruikers in kennis wanneer hulle kommentaar lewer wat aanstoot mag gee. Dit gee die gebruiker dan kans om eers te heroorweeg en die kommentaar terug te trek, en verhoed ook dat die ontvanger ʼn kennisgewing van die aanstootlike kommentaar ontvang.

Instagram sê in ʼn verklaring hul voorlopige toetse van die funksie toon dat dit sommige gebruikers oortuig om eerder hul kwetsende kommentaar te verwyder en iets minder skadelik te deel wanneer hulle die kans kry om eers oor hul woorde te dink.

Mosseri het gesê aanlyn boeliegedrag is ʼn komplekse kwessie en daarom maak Instagram gebruik van die allernuutste tegnologie in hul voortdurende pogings om ʼn einde te bring aan gedrag wat mense sielkundige skade berokken.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Rubber ·

As jy die kamstige omgee van Zuckerberg glo is jy ‘n idioot. Dit gaan oor beheer en sosiale ingenieurswese. Oor mind control. Daar is alternatiewe sosiale media ver weg van Zuckerberg land. Soek net.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.