Kunsbeleggers bie miljoene op Stern, Pierneef en kie

Pierneef se monumentale landskapskildery, Bosveld, met ʼn geskatte waarde van tussen R9 en R12 miljoen, is in 1953, ʼn latere tydperk in Pierneef se lewe, geskilder (Foto: Verskaf)

Ondanks ekonomiese krisistye en druk op verbruikers is kunswerke en versamelwyn ter waarde van ongeveer R64 miljoen die afgelope naweek by Strauss & Co se tweede aanlyn veiling vir 2020 opgeveil.

Kunsbeleggers kon bie op kunsskatte wat landskapskilderye, beeldhouwerk en versamelwyn insluit.

Dié veiling deur Strauss & Co het regstreeks vanaf 26 tot 28 Julie plaasgevind en het hoofsaaklik naoorlogse kontemporêre kuns en versamelwyn van Suid-Afrikaanse wynmakers opgeveil.

Maroela Media het vroeër berig dat Pierneef se Bosveld-skildery, met ʼn geskatte waarde van tussen R9 en R12 miljoen, die hoofitem van die veiling is. Dié bosveldtoneel is vir R10 242 000 opgeveil.

Stern se Congo Forest Scene (Foto: Verskaf)

Irma Stern se landskapskildery van ʼn Kongolese woud se waarde is tussen R4 en R6 miljoen bereken. Die afslaer se hamer het op R8 535 000 geval, ongeveer R2,5 miljoen meer as die geskatte waarde.

ʼn Veilingrekord vir Suid-Afrikaanse wyn is ook die naweek opgestel toe Paul Sauer van Kanonkop se vertikale versameling Bordeaux-versnitwyne vir ʼn allemintige R546 240 (koperspremie en belastingwaarde ingesluit) opgeveil is.

Dit is vooraf gewaardeer vir tussen R200 000 en R250 000 en bestaan uit 19 bottels van 5 liter elk wat tussen 1988 en 2006 gemaak is.

Die fynwynverkoping het ​​uit 124 lotte bestaan en drie vooraanstaande Kaapse produsente, waaronder Kanonkop, Klein Constantia en Boekenhoutskloof, verteenwoordig. Dié wynmakers het ʼn algehele verkope van R2 264 429 behaal en al die lotte wat aangebied is, is suksesvol opgeveil.

ʼn Volledige lys met resultate van die virtuele veiling is op Strauss & Co se webwerf beskikbaar.

Paul Sauer van Kanonkop se vertikale versameling Bordeaux-versnitwyne is vir ʼn allemintige R546 240 (koperspremie en belastingwaarde ingesluit) opgeveil (Foto: Straussart.co.za)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.