Ligloop met stellings op sosiale media

Grafika: www.destinywordoftheday.com

Grafika: www.destinywordoftheday.com

Van kleins het ek wyse advies gekry om ’n wag voor my mond te sit, maar helaas is dit nogtans moeilik (dalk onmoontlik) om in alle situasies beleefde en korrekte stellings te maak.

Die Bybel leer ons veral om nie te veel te praat nie en ons woorde te weeg want anders raak jy onbesonne en kwetsende goed kwyt waaroor jy later spyt is. Maar ons raak kort gebakerd, ongeduldig, ons emosies hardloop met ons weg oor ander mense se politieke stellings en rassisme, ons is moeg en sommige van ons se persoonlikhede is ingestel op luister om te reageer, eerder as op begrip om te doen. Dis als menslik.

Ek wil tog egter ’n pleidooi aan die begin van 2015 lewer om groter omsigtigheid in te span wanneer ons op die sosiale media en internet kommentaar lewer. Die groei van die internet het die media en verbruikers daarvan met groter anonimiteit en meer seepkiste toegerus. Die maklike skep van skuilname en valse profiele in digitale kommentaarruimtes het die idee onwillekeurig by miljoene mense laat posvat dat enigiets nou gesê kan word en die gewone reëls oor beskaafdheid, laster en etiek geld nie meer nie. Skamerige mense wat voorheen nie die durf gehad het om hul menings in ’n klas met ’n paar studente te deel nie en sommiges met opgekropte woede en geen natuurlike uitlaatklep nie, is skielik bemagtig op die Internet om gal te braak sonder om te wys wie hulle is. Sommiges doen dit selfs onder hul eie name. Hulle beledig en krenk ander mense in die persoon, dig eienskappe aan groepe toe weens die optrede van een of twee vrot appels, raak kras goed kwyt, gebruik krutaal en pleeg bowenal haatspraak (en weet nie eens hulle doen dit nie). Sommiges doen dit boonop in die naam van hul kultuur, ras, godsdiens, werkgewer of dergelike hoedanighede – sonder om hul genote, vennote en kollegas te raadpleeg of hulle dit goedkeur.

Ander verveel ons nou weer net op Facebook met hul konstante negatiwiteit, swartgalligheid en skynbaar droewige lewens wat elke dag ’n donker put is. My simpatie met laasgenoemde het ook opgeraak en dit stoot my irritasievlakke op, maar dit het ten minste nie wyer of ernstige implikasies as eersgenoemde soorte kommentaar nie.

Twee soorte gevolge

Die skade wat hierdie stellings aanrig is grootliks tweërlei. Eerstens berokken dit jou as indiwidu skade en dit kan jou professionele en persoonlike lewe verwoes. Jy kan selfs finansiële verliese ly, glo dit of nie. Tweedens word daar dadelik aan die skrywer van enige kommentaar se groep ’n bepaalde konnotasie geheg.

Onlangs was Maryke Lötter, ’n administratiewe klerk by ’n polisiekantoor in Germiston, in die nuus nadat sy op Facebook haar mond uitgespoel het. Sy het die volgende oor bruin mense kwytgeraak (met vergunning van Netwerk24): “Die rou Engelse het die Africans as slawe misbruik, verkrag en klomp goeitjies/rondekop huisdiere wat spore trap soos mense gemaak wat nie weet of hulle wit of swart is nie . . . En vandag nog steeds seker maak dat coloured en swart kinders wat op straat bly kos in hulle magies het, want hulle ouers is either the gedrug of te crap sleg om te werk (sic).” Sy verdedig en versag dit met “maar van my beste vriende is bruin mense!”. Nou ja, met sulke vriende…

In Desember lees ek in Sunday Times ’n storie oor hoe apartheid steeds op Suid-Afrika se strande voortleef. Daarin word vermeld hoe die Facebook-groep Vreesloos Afrikaans ’n foto van ’n Durbanse strand met slegs swartmense geplaas het. Sunday Times, waarskynlik die mees invloedryke koerant en die grootste weekblad in Suid-Afrika, noem dan diegene wat kommentaar by die foto gelewer het, by name in die artikel. Die kommentare sluit onder meer in “Kry die Doom!!” en “Wanneer is daar ’n tsoenami as jy een nodig het??” Hul name gaan dus weens die digitale argiewe van die koerant vir ewig met daardie kommentare verbind word. So ook Lötter s’n weens die gevolglike media-aandag wat haar herrie veroorsaak het.

Toekomstige werkgewers gebruik deesdae juis die internet en veral sosiale media om agter die ware kap van die byl oor potensiële werknemers se karakters te kom. Die implikasies vir bogenoemde mense se loopbane en interpersoonlike verhoudinge is klokhelder en diegene op Vreesloos Afrikaans het waarskynlik nie gedink hul name gaan in Sunday Times beland nie. Maar dit het.

Dit kan nie net jou reputasie oneer aandoen nie, maar ook jou in diep geregtelike sop laat beland. In Australië is ’n voormalige leerling aan ’n skool beveel om $100 000 op te dok oor lasterlike twiets teenoor ’n onderwyser. In Brittanje was daar in 2014 ’n 23% styging in defamasie-hofsake teenoor 2013 wat feitlik alleenlik aan laster op sosiale media toegeskryf word. ’n Toetssaak oor haatspraak op sosiale media waarby die aktivis en sangeres Sunette Bridges betrokke is, draai ook tans in die gelykheidshof. Klagtes oor rassisme op sosiale media maak nou sowat 20% van die Menseregtekommissie se haatspraaksake uit. Die onmiddellikheid en mag waarmee Facebook en Twitter gewones en bekendes toegerus het, maak dat aanstoot gee en laster soveel makliker geraak het – en regstappe ook.

Die redenasie word dan ook geopper dat indiwidue geregtig is op hul mening en hulle dit in hul persoonlike hoedanigheid lewer. So eenvoudig is dit egter nie. In ons rasbewuste (-behepte?) samelewing word sulke kommentaar dadelik op daardie persoon se kulturele en etniese groep, asook hul taal, se brood gesmeer. Dit word skietgoed om hulle almal by te kom en groepsgebaseerde diskriminasie en haat te regverdig. Die “rassis”-kaart word reeds kwistig en onbillik teen ons as Afrikaners ingespan en die laaste ding wat ons wil doen is om dit gestand te doen. Vra jouself af voordat jy iets skryf: Baat dit my? Baat dit my gesin, vriende en kollegas? Baat dit my kultuur en sy mense? Gaan dit enigsins iets verander? As die antwoord “nee” is op enige van hierdie vrae, gee jouself nog tyd om oor jou kommentaar na te dink en laat jou ergernis eers afkoel. Dit sal onskuldiges ’n etiket en pyn spaar wat hulle nie verdien nie en jou huidige werk en toekoms sal nie onnodig in die gedrang kom nie.

Almal is skuldig

Hierdie raad geld natuurlik almal. Op my onlangse vakansie in KwaZulu-Natal het ek ongelukkig drie keer gehoor hoe Afrikaanse mense in die openbaar en onbeskaamd die k-woord gebruik. Die een seun was maar omtrent 16 jaar oud en mens wonder waar leer hy dit. Daar is rassisme in ons geledere wat ’n klad veroorsaak, maar beslis ook in ander kulture en onder ander rasse – al wil Beeld se rubriekskrywers en die ANC ons ook wat vertel. Ons (en diegene in die media) verstaan nie Zoeloe of Sotho nie en daarom kan ons nie altyd swart rassisme ontbloot nie. Maar die k-woord is alombekend in Suid-Afrika ongeag watter taal jy praat en jy wil jouself nie in ’n tugverhoor by die werk of selfs teenoor die media weens die gebruik daarvan verduidelik nie. Los dit eerder want jy gaan jouself net in die moeilikheid kry terwyl dit buitendien niks gaan doen aan die diegene waarteen dit gerig is nie. Ons is beter as dit en ons moet eerder aan ander doen wat ons aan onsself gedoen wil hê.

Laat daarom ook ander se rassisme van jou afrol deur dit af te lag, aan die kaak te stel of bloot net te ignoreer. Niemand het geldige aansprake op meerderwaardigheid teenoor ander nie en deur kwaad te word en terug te beledig, laat jy hulle wen. Al hierdie vriendelike advies beteken ook nie ons moet onsself nie op die sosiale media en in internet-kommentaarkolomme laat geld nie. Dit tel onder die vernaamste moderne openbare meningsruimtes en ons moet dit ten goede en onverskrokke gebruik. Maar laat ons deur ons juiste argumente en gevatte antwoorde die stryd om idees en harte voer en wen, nie deur banale beledigings, growwe veralgemenings, ad hominem aanvalle en goedkoop retoriek nie. Vryheid van spraak beteken nie vryheid van haat nie.

Hierdie meningstuk is deur ʼn onafhanklike persoon opgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Eugene Brink

Meer oor die skrywer: Eugene Brink

Dr. Eugene Brink is strategiese raadgewer vir gemeenskapsake by AfriForum.

Deel van: Digitaal, Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

4 Kommentare

Rene ·

Baie goed gestel. Mense val maklik aan so gesigloos oor die net. En daar word geglo daar is geen nagevolge nie. Maar die nadraaie is dalk ongesiens of vêr van jou af. Vir ‘n rukkie, en dan bars ‘n bom. Ekself het al aan die kortste end van ‘n internet storm getrek omdat iemand anders nie besef het alles wat hulle skryf is daar vir die hele wêreld om te sien nie. Wat die persoon vergeet het is dat hul nie net Facebook gebruik het waar hul privaatheid seker min of meer beskermd is nie, maar ook Linkedin. En daarop bemark hulle hulself en hul besigheid, met die besigheid se adres ensovoorts. Dis gevaarlike terrein as jy iemand begin viktimiseer en jou info is daar vir ‘n iedere en ‘n elk om te sien.

Rex ·

Al hoe meer regsake in die verband kom voor en mense besef nie die gevaar van onverantwoordelike gebruik van die sosiale media nie. ‘n Hofuitspraak in 2013 deur regter Satchwell, waar die NG Kerk ‘n interdik aangevra het om ‘n webwerf eienaar te keer om sekere skadelike materiaal teen die kerk te gebruik, is ‘n voorbeeld. Die regter het dit baie duidelik gemaak dat die skepper van die webwerf self verantwoordelikheid aanvaar vir alles wat in daardie webwerf staan. Nog ‘n 2013 gerapporteerde saak, is die van “H” versus “W”, waar regter Nigel Willis die volgende bevel uitgereik het: “The respondent is to remove all postings which she has posted on Facebook or any other site in the social media which refer to the applicant”.

Piet Snot ·

Uitstekend, Eugene.
Hierdie artikel hoort op Maroela se voorblad.

Dorothea Nortje ·

Uitstekende artikel. Dit skok my dat van die kruuste taal deur vroumense geskryf word.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.