Meer skermtyd in afsondering: Versorg jou oë só

(Foto: Pixabay)

Tydens die landwye afsondering het mense se tuiste ook hul werkplek geword, kinders kyk meer televisie, vergaderings vind nou op ʼn rekenaar plaas, kinders moet voor ʼn skerm leer en selfs sosiale geleenthede vind aanlyn plaas. Die nuwe leefstyl veroorsaak ʼn groot toename in skermtyd vir kinders én ouers.

Dit is wonderlik dat ons digitaal met mekaar kan kommunikeer en dat die internet so ʼn goeie bron van inligting is, maar te veel van ʼn goeie ding kan ook sleg wees, veral wanneer dit by jou oë kom.

“Die verlengde gebruik van digitale toestelle plaas ongelooflike spanning op jou oë en kan jou sig beïnvloed,” sê Ruahan Naude, die uitvoerende hoof en stigter van Dynamic Vision Suid-Afrika.

Hy verduidelik dat blou lig, afkomstig van skerms van selfone, rekenaars, skootrekenaars en tablette, skadelik is vir jou oë omdat dit die hoogste vlak van energiegolwe vanaf sigbare lig uitstraal en dít penetreer reg deur die oog se natuurlike filter, tot by die agterkant van die oog.

Dié soort blootstelling oor ʼn tydperk kan skade aan die agterkant van die oog aanrig, wat die kans op ouderdomsverwante makulêre degenerasie (AMD) en permanente sigverlies vergroot.

“Meer onmiddellik, kan dit ook bydra tot moegheid, vervaagde sig, oë wat water en hoofpyne. Te veel skermtyd, veral net voor slaaptyd, kan jou slaap omkrap,” sê Naude.

Hierdie sigverwante probleme weens te veel tyd voor skerms word rekenaarvisie-sindroom genoem. Tekens dat jy dalk daaraan ly, behels:

  • Hoofpyn rondom die oë en voorkant van die kop
  • Seer, moeë oë
  • Moegheid, die wil om jou oë toe te maak
  • Visieskommeling (wanneer die spiere in die oog te gewoond raak om op ʼn digitale toestel te fokus en dan nie kan ontspan wanneer hulle na iets anders kyk nie)
  • Sensitiwiteit vir lig
  • Slegte nagvisie weens spanning in die oogspiere omdat dit aanhoudend op digitale toestelle fokus
  • Droë, rooi oë
  • Jeukerige oë wat jy heeltyd wil krap
  • Verminderde konsentrasie

Hoe kan jy jou oë help?

  • Plaas jou skerm ten minste ʼn armlengte weg van jou af en kantel die skerm weg van jou af sodat dit teen ʼn hoek van 10 of 20 grade is.
  • Plaas ook die skerm op so ʼn manier dat dit nie ʼn weerkaatsing vertoon nie.
  • Rekenaarskerms moenie te donker of te lig wees nie, anders kan dit spanning op die oë veroorsaak.
  • Maak seker die kamer waarin jy sit, het genoegsame beligting. Om by ʼn dowwe lamp te werk maak dit moeilik vir jou oë om te fokus en lei tot hoofpyn, droë oë en moegheid.
  • Moenie meer as 30 minute op ʼn slag na ʼn skerm staar nie. Staan op, kyk na iets weg van die skerm af en probeer fokus op iets wat verder weg is vir sowat twee minute.
  • Probeer om gereeld jou oë te knip. Wanneer ons na skerms kyk, knip ons ons oë baie minder, wat lei tot droë oë.
  • Probeer om oogoefeninge daagliks te doen. Doen dit só:
    • Kyk van links na regs en op en af, twee keer met jou oë toe.
    • Kyk nou na iets wat verder weg is en fokus daarop vir tien tellings. Kyk nou na iets naby en fokus daarop vir tien tellings.
    • Doen hierdie oefening vyf keer.
  • ʼn Maklike manier om jou oë te laat ontspan is om ʼn lappie in warm water te druk en dit dan vir ʼn paar minute oor jou oë te plaas.
  • Genoegsame slaap, ʼn gesonde dieet en baie water is ook belangrik vir gesonde oë.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.