‘Model’ op Instagram laat mense kopkrap

Lil Miquela. (Foto: Instagram)

Lil Miquela. (Foto: Instagram)

Miquela Sousa, ʼn 19-jarige Spaans-Brasiliaans-Amerikaanse model en popster, beter bekend as Lil Miquela, het meer as 1,1 miljoen volgelinge op Instagram.

Net soos ander popsterre dra Miquela net ontwerpersklere, pryk op tydskrifvoorblaaie en sluit kontrakte met groot name in die modebedryf.

Daar is egter een groot verskil tussen Miquela en ander bekende modelle – sy bestaan nie werklik nie.

Hoewel sommige sosialemediagebruikers vas oortuig is dat die sproetgesigmodel ʼn egte persoon is, is sy ʼn rekenaargenereerde karakter wat geskep is deur Brud, ʼn jong tegnologiese maatskappy.

Volgens The Times word sy beskou as die toekoms van sosialemediabeïnvloeding – sodat handelsmerke hul klere kan bevorder sonder die drama van die hantering van werklike supermodelle. Die volledige feite agter Miquela se bestaan is egter nog onduidelik.

Lil Miquela. (Foto: Instagram)

Lil Miquela. (Foto: Instagram)

Sedert sy haar Instagram-rekening in April 2016 oopgemaak het, het Miquela ʼn magdom volgelinge opgebou wat deur haar selfies en avonture gefassineer word. Sy is ook is ʼn ondersteuner van die Black Lives Matter-veldtog en transgenderregte.

Miquela “woon” in Los Angeles en ten spyte van die feit dat sy ʼn rekenaaranimasie is, is sy ʼn voltydse virtuele model en poseer sy in klere deur ontwerpers soos Diesel, Moncler en het sy in Februarie sy ʼn kontrak met die Italiaanse modehuis Prada gesluit.

Net soos enige ander aspirantmodel, staan Miquela verskeie onderhoude aan die modepers toe, alhoewel al die onderhoude via e-pos geskied. Voordat sy die kontrak met Prada losgeslaan het, het sy glo geen betaling ontvang vir die handelsmerke wat sy adverteer het nie, maar wel geld verdien vir die musiek wat sy aanlyn verkoop.

“Ek is nog nooit betaal om kledingstukke te dra nie, maar ek ontvang gratis items van handelsmerke af,” het Miquela aan Business of Fashion se webwerf gesê. “Spotify en iTunes is ʼn enkele bron van inkomste en ek wil nog baie meer modelwerk doen. Van die grootste agentskappe in die wêreld het al na my toe uitgereik.”

Volgens Elle.com het kuberkrakers in April toegang tot Miquela se Instagram-profiel gekry en haar foto’s vervang met foto’s van ʼn polities aangedrewe virtuele model, Bermuda. Bermuda is ʼn duidelike ondersteuner van die Amerikaanse president Donald Trump. Bermuda se omstrede plasings het weer binne 24 uur van Miquela se profiel verdwyn.

Miquela se musiekvideo vir “You Should Be Alone” is al meer as 144 000 keer op Youtube gekyk.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.