Moenie ’n slagoffer van identiteitsdiefstal wees nie

Talle mense is besig om vir die Desember-vakansie voor te berei en hoewel dit ʼn tyd van ontspanning is, moet jy maar op jou hoede bly oor iets soos identiteitsdiefstal.

Garnet Jensen, die direkteur van die kredietburo TransUnion, sê identiteitsdiefstal is ʼn voortdurende probleem, maar dat die vakansietydperk die grootste risiko inhou vir dié soort diefstal.

Kredietkaart- en ander finansiële inligting, identiteitsdokumente en bestuurslisensies is van die dokumente wat die meeste gesteel word.

“Die vakansie bied ʼn groot geleentheid vir identiteitsdiewe. Kopers is haastig om inkopies te doen en hulle doen ook meer transaksies as gewoonlik. Winkels is ook voller,” sê Jensen.

“Die kans is groter dat jou persoonlike inligting gesteel kan word, deur middel van ingewikkelde slenters of iets soos ʼn gesteelde beursie.”

Volgens ʼn TransUnion-opname in 2017 is 75% van Suid-Afrikaanse volwassenes bekommerd oor die moontlikheid van identiteitsdiefstal. Amper die helfte (49%) van die deelnemers was al ʼn slagoffer van identiteitsdiefstal of hulle ken iemand wat al ʼn slagoffer was.

Jensen sê die grootste probleem met identiteitsdiefstal is dat slagoffers gewoonlik eers maande ná die diefstal daarvan uitvind. Teen daardie tyd is hul rekeninge reeds agterstallig en ander rekeninge is in die slagoffer se naam oopgemaak.

“Normaalweg sal die diewe die slagoffer se identiteit gebruik om goedere en dienste op krediet te koop, veral duur produkte soos elektronika en luukshede,” sê hy.

“In uiterste gevalle kan die dief jou identiteitsdokument gebruik om vir groot hoeveelhede krediet aansoek te doen, soos om ʼn motor te finansier.”

Hier is vyf wenke om jou identiteit veilig te hou dié vakansie:

  1. Hou jou identiteitsdokumente veilig.

Wees versigtig oor waar jy jou ID bêre, en moet dit nie saam met jou ronddra as jy dit nie hoef te gebruik nie.

  1. Wees waaksaam wanneer jy ʼn OTM gebruik.

Wees bedag op enigiets wat selfs net ʼn bietjie verdag lyk wanneer jy ʼn OTM gebruik. Let op die toestel wat jy gebruik en op wat om jou aangaan.

  1. Doen inkopies op betroubare webtuistes.

Voordat jy enige persoonlike inligting verskaf, maak seker dat die URL veilig is met “https” (nie “http” nie). Maak ook seker dat die domeinnaam in die URL dieselfde is as die organisasie met wie jy die transaksie aangaan.

  1. Wees versigtig vir oproepe, e-posse en SMS’e wat geskenke inhou.

As jy op een van bogenoemde maniere ʼn geskenk beloof word, maar jy moet jou bankbesonderhede verskaf, vee dit uit. Moet ook nooit op ʼn skakel ingaan wat jy nie ken nie.

  1. Teken in vir krediet-waarskuwings en hou jou kredietverslag dop.

Een van die eerste plekke waar identiteitdiefstal opgemerk word, is op jou kredietverslag. Dit is daarom belangrik om altyd jou kredietverslag dop te hou vir enige verandering. TransUnion se krediet-waarskuwings sal jou ook inlig wanneer daar drastiese veranderinge op jou kredietverslag voorkom.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Melanie ·

Gedurende die afgelope sowat 10 weke het ek verskeie eienaardige oproepe van ‘n sekere Nedbank tak ontvang. Die tak is baie ver van my af en doen ek glad nie daar besigheid nie. Terselfdertyd kom ek agter dat Vodacom personeel net so bedrywig is. Ek is op my hoede en waarsku almal wat hierdie kommentaar lees. Wees versigtig!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.