ʼn Digitale databasis van die Afrikaanse kultuurbedryf

Prisma-databasis

Prisma-databasis

ʼn Splinternuwe interaktiewe digitale databasis wat mense se bydraes tot die Afrikaanse kultuurbedryf opteken, is nou beskikbaar.

Die databasis, genaamd Prisma, dek die Afrikaanse filmbedryf, literatuur, musiek, teater en televisie, en sluit tans reeds meer as 47 000 bydraes tot die Afrikaanse kultuurbedryf in.

Dié interaktiewe gebruikerskoppelvlak stel ʼn gebruiker in staat om ondersoek in te stel na watter bydraes ʼn spesifieke persoon gelewer het. Danksy dié databasis kan jy byvoorbeeld sien in watter Afrikaanse films ʼn akteur ʼn rol gespeel het, watter boeke deur ʼn skrywer geskryf of vertaal is, of watter CD’s ʼn kunstenaar opgeneem het.

Volgens dr. Burgert Senekal van die Universiteit van die Vrystaat wat dié projek bestuur, verskaf dit ʼn breër konteks en aansienlik meer besonderhede as wat elders op die web beskikbaar is. “ʼn Mens kan byvoorbeeld ondersoek instel na watter CD’s Steve Hofmeyr opgeneem het, maar ook sien watter boeke hy gepubliseer het, sowel as tot watter films en televisiereekse hy bygedra het,” verduidelik Senekal. “Boonop kan slegs ʼn spesifieke tydperk in die Afrikaanse kultuurbedryf ondersoek word, slegs ʼn komponent (byvoorbeeld die film of literatuur), of slegs ʼn spesifieke soort bydrae, byvoorbeeld Steve Hofmeyr se rol as akteur of kunstenaar.”

Die filmbedryfkomponent is die mees gedetailleerde en omvattende optekening van die Afrikaanse filmbedryf wat tans aanlyn beskikbaar is, en bevat byvoorbeeld aansienlik meer films en bydraes as wat deur ʼn databasis soos die Internet Movie Database (www.imdb.com) beskikbaar is.

Die literatuurkomponent is ook omvattend saamgestel, maar die musiek-, teater- en televisiekomponente is nog ʼn projek-in-wording, alhoewel hier ook reeds duisende bydraes opgeteken is. Die projek word gereeld uitgebrei en bygewerk.

“Aangesien kleiner rolle en bydraes soos musikante, agtergrondstemme en dergelike ook opgeteken word, sien ʼn mens interessante verbande in die Afrikaanse kultuurbedryf,” voeg Senekal by. Paul Riekert van Battery9 skryf byvoorbeeld die musiek vir die film Suurlemoen! en die televisiereeks Plek van die vleisvreters; Christina Storm ontwerp kostuums vir die film Stilte, terwyl Lochner de Kock as akteur bydra tot televisiereekse soos Pieriewieriepark en Mina Moo en Kie.

“Dié hoë vlak van detail beteken ook dat mense wie se bydraes tot die Afrikaanse kultuurbedryf nie gewoonlik opgeteken word nie, byvoorbeeld musikante of tegniese mense in die filmbedryf, se bydraes nou opgeteken word. Soek gerus name soos Denny Lalouette, Floors Oosthuizen, William Bell en Basiami Segola.”

Prisma is die byproduk van vorige en huidige navorsingsprojekte en is die gevolg van ʼn postdoktorale beurs wat in 2015 deur die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns toegeken is.
Deursoek die databasis, Prisma

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.