ʼn Tegnologie-kronkelpad

Argieffoto

Ek wou nooit oor die ding geskryf het nie, want dit het so ʼn donker wolk van minderwaardigheid oor my laat hang. Nou het ek al lank die ding bekyk en oordink en agtergekom ek is nie die enigste ou wat met die lastige ding worstel nie. Ons is, jy kan maar sê, so ʼn groterige skaretjie. Ek is lankal nie meer die enigste domme stommerd nie. Selfs dié van wie jy die minste sou verwag, vertel vir my hulle voel nes ek voel!

Doerie jare was dit maklik toe ons net die draadloos en later die bandopnemer en ʼn paar ander goed, soos die Juke Box gehad het om ons plesier te verskaf. Praat nie eens van TV nie, maar gelukkig het ons in 1990 al van die verpesting ontslae geraak.

Toe het daar mos ʼn tegnologie-ontploffing plaasgevind en toe ek my oë uitvee het die rekenaar sy kleim afgesteek. Vir my was dit die koms van die neukenaar. Daar’t my moeilikheid begin en ek, wat daarop roem dat ek vir niks bang is nie, het gevoel hoe bewe my broek en hoe sweet my hande. Toe niemand my touwys kon maak nie, het my slim skoonseun probeer. Na eindelose gesukkel, het hy uiteindelik opgemerk, eintlik gewaarsku: “Pa, ontspan. Pa gaan die muis inmekaar druk!” Ek het verskrik na my hand op, eintlik om, die muis gekyk. My kneukels was wit terwyl ek krampagtig aan die muis geklou het en dit het inspanning gekos om die greep te verslap.

So met verloop van jare het ek darem al so ʼn klompie rekenaargoeters onder die knie gekry, maar ek is steeds ʼn tegnologies agtergeblewene, ʼn tegnologies benadeelde of dalk al twee. Nee ek bejammer myself nie! Die lewe bly ʼn lied! Ek vererg my net grensloos as mense nie kan of wil glo en insien dat daar mense soos ek (ons) is nie.

Dit was in Engeland en Thailand waar ek die goedjies onder die knie begin kry het. Daar waar whaai faai en anderlike skakeling en koppeling goedkoop en bekombaar was. Toe kom ek mos terug huis toe met die gedagte om my uiters beperkte rekenaarvaardighede te laat blom. Die blomme het egter verwelk en ʼn nuwe neukenaarstryd het begin: internetbeskikbaarheid en -koppeling. Amper sê ek daai groot woord!

Ek het Telkom – Telgaan, Telniks, oorle Telkom of wat ook al – van naby leer ken. Op die plaas kon hulle my nie van ʼn landlyn voorsien nie want die kabels word gesteel. Binne maande sou ʼn toring opgerig word en dan sou ek wireless connection kry. Agtien maande later soek hulle toe nog steeds ʼn toring om op te rig.

Argieffoto

Dierbare vriend Kobus sê toe ek kan by hom internetkoppeling kry maar toe’s daar ʼn bloekombos tussen ons huise wat verhinder dat die sein deurkom. Toe my seun hoor van my frustrasie, koop hy toe vir my so ʼn rooi en wit dingetjie by Vodacom met ʼn klompie data op wat my dan in staat sou stel om op enige plek my rekenaar te gebruik. Oeee wonderlik maar van korte duur want die peperduur data is in ʼn ommesientjie deur ʼn onversadigbare datavreter verorber. Ek het my rekenaar op verpligte verlof weggebêre.

Toe trek ons dorp toe! Die plek waar alles werk en naby is. Binne ʼn week het ek ʼn Telkom-landlyn gehad. Telkom het tekens van lewe getoon. Nou was dit net ʼn kwessie van tyd voordat ek my ou rekenaartjie weer in werking kon stel! Ek het die berugte 10210 nommer gebel en nadat ek veertig minute moes aanhou, is ek vriendelik meegedeel dat ek binne veertien werksdae internetskakeling sou hê. Die tydperk het maande geword en ek het ʼn lysie van vier redes gehad waarom die koppeling nie gedoen kan word nie. Toe ek eendag weer bel, toe verneem ek dat dit nie in die huidige finansiële jaar gedoen kan word nie en dat ek ná Februarie 2018 weer moet aansoek doen.

Ek het daarop aangedring om met hoër gesag te onderhandel en na veertig minute se wag is ek meegedeel dat die persoon nie beskikbaar was nie. Dis toe net daar waar my seskantige stuk yster met die skroefdraadgat sy skroefdraad verloor. My daai-se-ding het met ʼn knal gestrip. Onherstelbaar! Ek het besluit die poppe gaan dans! Nee, die poppe gaan nie dans nie, die vure moes brand!

My goeie, slim vriend Tobie Weetalles sou my kon help. Hy sou weet waar ek motorbande, ou motorolie, vuil diesel en flenter palette verniet sou kon kry en nog sommer ʼn klomp klippe ook – om te gooi en paaie te versper sodat die polieste gekeer kon word voordat hulle kan keer dat ons die vure aansteek. Hy sou weet wie die protesbaniere kan verskaf en waar ek protesterende daansters kon werf. Hy kon ook die protesoptogroete vir die “Telkom Must Fall”-eis uitwerk. Voor die spul by die Telkom-kantore aan die brand gesteek word, sou ek as hoofspreker optree. Kyk, ek was behoorlik opgewerk – soos in die vyftigs en sestigs van die vorige eeu toe die Natte die Sappe se vergaderings opgebreek het.

Lekker warm onder die kraag is ek na slim Tobie toe waar ek lekker driftig mond uitgespoel het oor ditsemse watsemse Telkom maar voordat ek sy hulp kon vra met die oog op die protesoptog, het hy sy slimfoontjie uitgehaal. Op sy slimme, rustige manier, het hy vir my gesê dat ek nie my tyd met Telkom moet mors nie. Hy’t sy slimfoontjie na my toe uitgehou. “Dis my modum (ek dink dis wat hy gesê het) en ek het internettoegang, net waar en wanneer ek wil!” Ek het hom woordeloos, twyfelagtig en ongelowig aangekyk.

Argieffoto

Hy wou weet watse foon ek het en ek het hom vertel dis ʼn Simson of ʼn Saamsing of so iets. Ek het die stuk bron van ergernis wat ek al baie teen die muur wou gooi of in ʼn privaat plekkie wou versuip, huiwerig na hom toe uitgehou. “Ja man, dis al wat jy nodig het, jou probleem is opgelos!” het ʼn reuse stuk ongeloof in my laat opwel want dit was net te goed om waar te wees. Hy beduie toe vir my MTN toe maar voordat ek daar kon uitkom, het ʼn ander slimme wat ek geraadpleeg het gesê ek moet liewer bank toe waar die mense so ʼn bietjie slimmer is.

Daar aangekom het ons vinnig kers opgesteek en my ou Dierbaarstetjie – nou al vir orie vyftig jaar – het vinnig verstaan hoe die vurk in die hef steek. Die bankmeisie het vir ons ʼn slimkaartjie – glo my, nie groter as ʼn sikspens nie, kon dalk ʼn tiekie gewees het – met ʼn paar honderd mega goggabyte, of so iets, laat koop. My ou Slimmetjie het mooi geluister, maar ek sê toe “Nee, skryf neer, stap vir stap, want soos ons vergeet sal mooi luister nie help nie!” Veral die stuk oor die Hot spot-soekery. Verbeel jou, op ons ouderdom Hot spots soek!

Terug by die huis het my ou Slimstetjie die geskrewe stappe gevolg en toe ek weer hoor, toe juig sy triomfantelik dat sy die Hot spot gekry het en jou waarlikwaar van toe af het ons ons eie internetverbinding. Man, dit was te wonderlik vir woorde, na al die gesukkel en om alles te kroon, sonder ʼn lawaaierige, brandende protesmosie van wantroue in Telkom! Sê nou die wantroueprotes het nie gewerk nie, dan was ons nou nog sonder internetverbinding en Telkom wat ons onbeskaamd uitlag!

Hier sit ek nou na al die gesukkel soos ʼn kat wat ʼn muis gevang het – trots en tevrede met die vangs. Die kruis van tegnologiese agtergeblewendheid is ligter en dit voel vir my of ek ʼn tegnologiese agterstandinhaler is. En ek waardeer en bewonder my ou slimfoontjie en dalk sal ek hom ook nog eendag beter verstaan.

Die slimmes kan dalk nou twyfel oor, en lag vir my beskrywing van my reispad na rekenaargeletterdheid en dalk sê dat my storie feitelik nie korrek is nie, maar nou sê vriend Roux nou die dag ʼn mens moenie ʼn goeie storie met feite opbogger nie. Dit kan ek darem onomwonde sê: Ek het niks doelbewus bygelieg nie.

Lees alle vorige rubrieke deur Johan Oosthuizen op Maroela Media. 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae