Nuwe funksies vir “veiliger” Facebook

Grafika: pixabay.com

Facebook Inc het Dinsdag twee nuwe funksies op dié sosialemedia-platform bekendgestel.

Die een funksie beskerm gebruikers teen teistering en ongewenste kontak komende van ander mense, terwyl die ander funksie gebruikers dadelik in kennis stel wanneer ʼn foto van hulself op hierdie sosialemedia-netwerk gepubliseer word.

Facebook het in ʼn verklaring gesê dat laasgenoemde funksie slegs beskikbaar sal wees indien ʼn gebruiker aan hulle toestemming gee om ʼn lêer te hou met ʼn templaat van daardie gebruiker se gesig.

Aldus Facebook sal hierdie funksie opsioneel wees sodat mense toegelaat word om hul privaatheid te beskerm, maar hulle is van mening dat daar wel mense is wat sou wou weet wanneer foto’s op hierdie platform gepubliseer word waarvan hulle andersins nie bewus sou wees nie. “Gebruikers sal ook die funksie kan aan en af skakel. Wanneer die persoon dit afskakel, sal die gesigtemplaat geskrap word.”

Gesigsherkenning-tegnologie word al sedert 2010 deur Facebook gebruik.

Vir daardie mense wat toestemming hiervoor verleen, sal Facebook ʼn templaat van die persoon se gesig maak en dan nuut-gelaaide foto’s analiseer teen die pieksels van daardie foto wat reeds gemerk (ge-“tag”) is.

Om vals profiele verder ʼn nekslag toe te dien, gaan Facebook ook gesigsherkenning gebruik om ʼn gebruiker in kennis te stel wanneer iemand anders sy of haar profielfoto as hul eie profielfoto oplaai.

Die ander nuwe funksie wat Facebook bekendgestel het, sal gebruikers beskerm deur ongewenste boodskappe en vriendskap-versoeke vroegtydig op te spoor en te voorkom. Dit sal ook verhoed dat geblokte persone ʼn gebruiker kan kontak wanneer hulle onder ʼn nuwe rekening op Facebook inteken.

“Dié funksie sal veral nuttig wees vir vroue en joernaliste wat gereeld geteister word,” het Facebook in ʼn verklaring gesê. “Die funksies stel ons in staat om vals profiele op te spoor en om hulle dan vinniger te blok wanneer hulle registreer.”

Facebook het gesê hulle hoop die nuwe funksies sal help om die gebruikerservaring te verbeter en om gebruikers veiliger te laat voel op dié platform.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.