Verbruikersake: Oppas vir skelmstreke op Facebook

Argieffoto (Foto: Simon, Pixabay)

Die meeste verbruikers weet dat mens moet ligloop vir skelms wanneer jy die internet gebruik, maar tog trap mense daagliks in die strikke wat skelms op sosiale media soos Facebook vir hulle stel. Mens het maar dikwels ‘n gevoel dat dit tog nie met jou sal gebeur nie, maar voor jy weet het jy van jou swaarverdiende rande afstand gedoen sonder omte kry waarvoor jy betaal het. Ina Opperman verduidelik hoe en waarom jy moet oppas vir skelmstreke op Facebook.

Suid-Afrikaanse verbruikers het al in verskeie strikke op Facebook getrap. Van die bekendste sklemstreke is:

  • Skelms wat enkellopende vroue teiken op Facebook en ‘n aanlyn-liefdesverhouding met hulle aanknoop. Dan begin die stories oor waarom hulle duisende rande nodig het voordat hulle kan kom kuier. Baie van die vroue betaal en glo vas die liefde van hul lewe gaan binnekort opdaag, maar dit gebeur nooit nie.
  • Op dieselfde noot teiken skelms ook mense vir wie hulle duur geskenke belowe. Maar eers moet jy ‘n paar duisend rand opdok vir versekering, boetes en aflewering. Die pakkie daag egter nooit op nie.
  • Fantastiese beleggings met hoë opbrengste wat op Facebook geadverteer word. Niemand wat werklik sulke wonderlike opbrengste kan bied, gaan dit op Facebook vir jou aanbied nie. Nie eens as hy Mark Shuttleworth of Naas Botha is nie.
  • Kompetisies waarin jy ‘n luukse motor of ‘n handvol vliegkaartjies kan wen. Jy word dan as die wenner aangewys, maar moet eers opdok vir allerhande kostes voordat jy jou prys kan opeis.
  • Partytjies waar jy byvoorbeeld bekende akteurs kan ontmoet en waar jy kaartjies koop en die geld nie in ‘n geregistreerde maatskappy se bankrekening inbetaal nie.

Die liefde van jou lewe op Facebook

Mens verstaan dat iemand wat baie alleen is, sal val vir iemand wat hulle op Facebook ontmoet en wat dan sy ewigdurende liefde verklaar. Die goue reël is egter: moenie iemand vertrou wat jy nog nooit ontmoet het nie. Moenie geld vir hom stuur nie, al vertel hy die hartseerste stories oor die duur kankerbehandeling wat hy moet kry of die geld wat hy moet betaal om sy miljoene los te kry waarmee hy jou wil bederf.

Duur geskenke

Het jy al lus gevoel om vir iemand wat jy van geen kant af ken nie, ‘n peperduur geskenk te stuur? Nie? Waarom sal iemand anders dit dan vir jou wil doen? Oppas vir hierdie skelmstreek op Facebook. As iemand (wat jy van geen kant af ken nie) vir jou ‘n duur geskenk wil stuur, sal hy darem regtig ook die versekering of afleweringskoste betaal? Hou maar verby. Blok hierdie een op Facebook en moenie jou persoonlike besonderhede met ‘n vreemdeling deel nie.

‘Goeie’ beleggings

Miljoene verbruikers het al al hulle spaargeld verloor en selfs geld geleen wat hulle nooit teruggekry het nie om te belê in skemas wat belowe het dat “jy nooit weer hoef te werk nie” of dat jou “geld sal verdubbel binne twee jaar”. Moenie reageer op Facebook-aanbiedinge wat hoë rente belowe nie. As dit te goed is om waar te wees, is dit gewoonlik. As jy jou geld wil belê, kry iemand wat geregistreer is om dit te doen.

Kompetisies

Hierdie skelmstreek word gewoonlik uitgevoer deur iemand wat ‘n fop-profiel op Facebook stig in die naam van ‘n groot maatskappy of ‘n bekende persoon. Jy word dan aangemoedig om dit te “like” en te deel. Sodra jy dit gedoen het, tree die skelm met jou in verbinding en probeer om jou persoonlike inligting te kry sodat jy die prys kan ontvang. Daar is egter geen prys vir jou nie – net nog persoonlike inligting vir die skelm wat aangewend kan word vir nog skelmstreke. Dink twee keer voordat jy aan ‘n kompetisie op Facebook deelneem. Wees op die uitkyk vir name wat effens verkeerd gespel is of waar die naam van die maatskappy ‘n punt aan die einde het. Fop-webwerwe is ook gewoonlik vol spelfoute en dui ook daarop dat jy dalk met ‘n skelm te doen het.

Partytjies

Maroela Media het onlangs berig oor die Binnelanders-geleentheid waarvoor mense kaartjies gekoop het op WhatsApp. Nou is die geleentheid gekanselleer en mense kry nie hul geld terug nie. Koop net kaartjies by bekende kaartjieverkopers, soos iTicket, of by die plek waar die geleentheid gehou word.

Onthou!

  • Moenie geld stuur vir enigiemand wat jy op Facebook raakloop nie.
  • Moenie geld vir ‘n plekbespreking inbetaal in ‘n individu se rekening nie.
  • Moenie jou persoonlike besonderhede deel met iemand wat jy op Facebook raakloop nie.
  • Moenie ooit enige foto’svan jouself deel met iemand wat jy op Facebook ontmoet nie. Veral nie as jy min of geen klere op die foto aan het nie.
  • Maak ‘n punt daarvan om nie sommer vreemde mense se versoeke om met jou vriende op Facebook te wees, te aanvaar nie. Kyk of julle vriende in gemeen het en of daar enige ‘normale’ aktiwiteite op die persoon se Facebook-blad is.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Maria ·

As ook gehoor enkel vroue doen om persoon kamtige vliegtuig kaartjie betaal om eeste te ontmoedting te maak. Ek ook op FB jammer klomp wolwe en sners alhoewel dit kan ook intersant raak leer baie daaruit deur FB. Erken FB gee baie huiwelik probleme.

Maria ·

Ek ook gehoor dat enkel persoon se om geld vir kamtige vliegtuigkaartjie betaal vir eerste ontmoeting. Ek ook op FB voorstel en veilig bly eerder weg van FB of te veel betrokker raak nie dit versoeking vernietig huiwelike”gesin ingesluiting”, jouself beeld word gebreek en beroof jou eie lewe. Ek besef erken ook daardeur : mense wat op FB is nie gelukkig nie dit swaktes versoeking voorkom wees waaksaam. Alhoewel hartseer is kry intersante goed op FB maar jy het n keuse

Leon ·

My skoonma ook amper kom haal deur US army ou, en damn to kom sy haar foutjie agter en nou sit ons nog steeds met haar….

Karl ·

My groot tip is, verander jou password weekliks, of minstens 2 keer n maand. Dit het gebeur dat iemand my password gevind/geraai het(wat nie moontlik is nie) en so in my email gekom het, en kan so OTP ontvang ook, want al wat hul doen by elke website “Sign In with Facebook” en voila jys uit en hul is in, jy’t net jou foon nommer wat jy nog kan gebruik as defense, gelukkig is ek wakker en tech savvy en kon dit stop voor enige iets ernstigs gedoen was.

Whitey A ·

Nóg beter… Moet glad nie Facebook gebruik nie. Dit is en was nog altyd ‘n broeiplek vir onmin. Ek vermy die gemors sover ek kan.

JJ ·

Vir my snaaks hoe die users “privacy” skreeu, na hul self hul nommer, naam, van, (sommiges address) waar jy werk, waar jy kuier, wanneer jy weggaan (check ins) marital status en en en VRYWILLIG post, maar dan kom kerm na die tyd…EN gaan lees net wat jy onderteken het toe jy aangesluit het, as jy nie so lui was om deur die user agreements te lees nie, moet dan nie nou moan nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.