Rugbyman wil jou met opknappingswerk help

Renaldo Bothma (Foto: Verskaf)

Aanhangers ken hom as ʼn losvoorspeler van die Sharks en die Bulle en deesdae die Namibiese rugbykaptein en speler in die Britse klubspan Harlequins.

Maar die 28-jarige Renaldo Bothma is nie nét ʼn rugbyman nie – hy is ook passievol oor instandhoudingswerk en wil hê sy nuttige nuwe app moet ʼn einde maak aan al jou huishoudelike uitdagings met die spreekwoordelike druk van ʼn knoppie.

Een jaar gelede was dié kranige rugbyman besig met opknappings aan sy eie huis toe hy ʼn idee vir dié app – wat Homefixer heet – gekry het.

“Ek het aanvanklik baie gesukkel met kwotasies wat veroorsaak het dat die hele proses van opknapping werklik ʼn uitdaging geword het,” vertel hy. “Ek het besef ʼn sentrale databasis waar ʼn reeks diensverskaffers se inligting gelys is, sou baie nuttig wees, maar daar was nie so iets beskikbaar nie. Toe besluit ek om dit sommer self te doen.”

Bothma het aanvanklik eers ʼn demonstrasieweergawe van die app bekend gestel wat later ʼn groot sukses was. Hy het daarna saam met ʼn span app-ontwikkelaars gewerk om te verseker dat Homefixer sonder flaters en gebruikersvriendelik is.

Dié weergawe van die app is verlede week bekend gestel en spog met meer as 750 diensverskaffers landwyd. “Die diensverskaffers wat op die app gelys word, dek bykans enige ding in instandhoudingswerk en ons brei selfs nog verder uit. Jy sal ʼn verskaffer op dié app opspoor vir enige soort instandhoudings- of opknappingswerk wat jy wil laat doen.”

Die Homefixer-app (Foto: Facebook)

Hy sê Homefixer bied gebruikers ʼn platform om betroubare ondernemings wat goeie diens lewer te nader. “Met al die ondernemings word ʼn onderhoud gevoer waarna ons hulle dokumente aanvra. Gebruikers kan dus wéét dat die verskaffer al soortgelyke werk gedoen het en dat hulle werk volgens standaard is.

“Wanneer daar wel iets skeefloop, het ons ook ʼn direkte kommunikasiekanaal met die verskaffer. Ná die diens gelewer is, kan gebruikers die verskaffer se diens op die app beoordeel – en dít het ʼn invloed op hoeveel gebruikers daardie verskaffers later gaan kies om ʼn diens te verrig.”

Lys jou besigheid só op Homefixer

Besoek Homefixer se webwerf hier. Kies die opsie “add your business” en vul dan die aansoekvorm in. Homefixer sal jou dan spoedig nader vir ʼn onderhoud en om jou dokumente te verkry.

Die Homefixer-app is gratis beskikbaar op Apple se iStore en Google Play. Besoek ook Homefixer se Facebook-blad.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Afrikaanse Knaap ·

Baie oulike idee. Beter as om ‘n lukrake buitelander buite ‘n nutswinkel te nader om jou te help.

PG Nolte ·

Ek persoonlik dink dis die beste idee ooit! Adverteer self en het al n aantal goeie kliente verwerf deur die app
Kyk dit gerus uit!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.