Selfoonverslawing en ek

Argieffoto (Foto: JEShootscom, Pixabay)

My naam is Marianne en ek is verslaaf aan my selfoon…

Hierdie is ongelukkig ʼn waarheid waarmee ons almal moet saamleef, maar niemand van ons wil dit erken nie. Volgens aanlyn statistieke vat die gemiddelde mens omtrent 2 600 keer per dag aan hulle foon. Dus omtrent 1 miljoen keer per jaar. Dit beteken gemiddeld tussen twee tot drie ure, indien nie vier nie, per dag skermtyd.

Om doodeerlik te wees, het ek nie rêrig gedink ek is verslaaf nie. Ek is glad nie so gereeld op my foon, of sosiale media, soos ander mense wat ek ken nie. Soos egter met enige ander verslawing moes ek eers daarvan ontneem word voor ek dit kon herken en ook erken. (Die eerste stap na herstel is mos maar erkenning, soos hulle sê.)

Ek het my foon verloor toe ek gaan draf het. Die “vriendelike” persoon wat dit opgetel het, het nie die laaste nommer daarop gebel nie en dit aangemeld nie… Hulle het die foon afgesit, en ek moes aanvaar dit was die einde van my en my foon se pad saam.

Nadat ek hard en lank gehuil het, meer oor al die foto’s daarop wat daarmee saam verdwyn het, as oor my foon, moes ek egter nou ʼn plan maak om ’n nuwe foon te kry. Nuwe fone was nie nou deel van ons beplanning nie, ook omdat die ander foon nie deel van ʼn kontrak was nie en dit eintlik nog relatief nuut was…

Dankie tog vir ouers wat nog steeds na mens kyk al is jy al jare onder hulle dak en vlerke uit. My pa het ʼn ou ekstra foon gehad wat hy vir my sou stuur saam met vriende. Hulle sou egter eers oor ʼn paar dae Kaap toe kom van Pretoria af.

Vyf dae.

Honderd en twintig uur om presies te wees.

Dis hoe lank ek sonder ʼn selfoon was en hoe lank dit gevat het om my te oortuig dat ek verslaaf is daaraan.

Alhoewel ek hou van Facebook en Instagram, het ek gevoel ek kan ʼn dag daarsonder klaarkom. WhatsApp was bietjie meer van ʼn uitdaging, sou ek sê. Maar ek sou oukei wees.

Ek was nie.

Dit het begin deur die realiteitsbesef. Ek moes my man laat weet hy gaan my nie meer kan kontak nie en ek is oukei indien hy my wel nie in die hande kan kry nie… Maar hóé? Sonder ʼn selfoon … Dankie tog vir goeie vriendinne wat naby bly. Ek het gou oorgehardloop en gevra of ek kon bel.

Die dag het egter begin afdraande gaan van daar af. En die onttrekkingsimptome het begin. Ek het letterlik elke paar minute gemik na my handsak om gou vir iemand ʼn boodskap te stuur, te bel of net te kyk of ek nie boodskappe het nie.

Ek het begin wonder wat mense sou dink as ek nie op hulle boodskappe reageer nie.

Wat van werkskliënte wat my nie in die hande kon kry nie? Dis ʼn krisis.

Ek wou e-posse stuur om hulle te laat weet. Ek kon nie. Ek was nie by die huis by my rekenaar nie en my e-posse op my foon is nou weg saam met die foon. Hulle sou moes wag.

Teen dag twee was die ergste hartseer verby en die aggressie het ingetree. ʼn Paar keer wou ek letterlik met my kop in die muur in vashardloop omdat ek so stupid was om nie my foon op ’n veiliger plek te sit nie. Ek was kwaad omdat ek nou al my kontakte verloor het. Nommers wat ek heel moontlik nooit weer gaan terug kry nie.

Ek het die vorige aand by die huis my lot bekla op Facebook (deur my rekenaar natuurlik) dat ek nie meer ʼn foon het nie. Nou weet meeste mense, hopelik, dat ek nie hulle oproepe en boodskappe ignoreer nie. Ek het ook die nodige simpatie en raad op sosiale media gekry waarop ons almal so kan floreer.

Met sonsondergang op dag twee en dag drie het die totale selfbejammering ingeskop. My lewenslyn van myself besig hou terwyl ek ons baba aan die slaap maak, het verdwyn. Ek sit nou in die donker net met my eie gedagtes… Dit is verbasend hoe ons verleer hoe om onsself besig te hou as ons nie daardie langwerpige ding in ons hand vashou nie…

Daar is niks nie.

Al waaraan ek kon dink is wat ek sou kon doen indien ek nou my foon by my gehad het.

Dit was egter laatmiddag op dag drie wat gelatenheid en daarmee saam ʼn klein flikkering van vreugde begin kop uitsteek het. Ewe skielik begin mens se brein weer werk soos wat God oorspronklik beplan het dit moet. Kreatiewe denke het begin kop uitsteek. My verbeelding het weer begin vlerke kry. Dit was nogal lekker om nie meer in konstante kontak met almal te wees nie. Dus was ek opreg geïnteresseerd as ek ʼn vriendin raak loop, want ek weet glad nie wat hulle die afgelope drie dae gedoen het nie.

Die grootste bonus was die hoeveelheid ure wat nou tot my dag toegevoeg was. Op dag vier kon ek ʼn boek begin lees, wat al vir maande op my bedkassie lê, toe my kinders ʼn middagslapie vat. Ek kon dit amper klaar lees net voor ek in die bed klim.

Te danke aan my foon-afwesigheid moes my arme man saam met my deur al die onttrekkingsimptome gaan en ek het hom gedwing om meer met my te praat… Ewe skielik kon ons meer kwaliteittyd saam spandeer. Ons het selfs ʼn date-lunch kon inwerk en net gepráát. Om rêrig uit te vind hoe dit met mekaar gaan sonder die kinders.

My nuut herontdekte kreatiewe denke het totaal handuitgeruk toe ek weer kosbare tyd met my kinders kon spandeer sonder om net my foon met ʼn video of ʼn speletjie in hulle hand te druk as ek nie meer geweet het hoe om hulle besig te hou nie. Ek kon hulle net sit en dophou sonder enige ander onderbrekings terwyl hulle die lewe ontdek en ook vir my die wêreld weer nuut oopsluit.

Teen dag vyf was ek basies “skoon”. Ek het selfs effens angstig begin voel toe ons na die vriende se woonstel toe gery het om die foon te gaan oplaai.

Ek was opreg bang om weer hierdie nuutgevonde vryheid te verloor, wat ek die afgelope paar dae herontdek het. Dit het my laat verlang na my kinderdae toe jy ʼn afspraak kon maak met iemand en geweet het hulle sou presies daardie tyd vir jou wag by daardie plek. Om te weet jy moet net vertrou dat jou geliefdes veilig is, selfs al kan jy nie heeltyd van hulle hoor nie. Om tyd te hê vir mekaar en om te kan praat oor alles en nog wat want daar was niks anders om te doen nie. Om jou tyd met oorspronklikheid te vul in plaas van nuttelose volging van ander mense se lewens terwyl jou eie, en jou gesin s’n, by jou verby gaan sonder om te besef hoeveel kosbare oomblikke verlore gaan in die proses.

Ek was bang om die “stadige”, maar kosbare, lewe van geen-selfoon-nie te laat gaan.

Ek het nou weer ʼn selfoon. Ek het egter net WhatsApp daarop gelaai. Niks anders nie. Ek vergeet nou amper daarvan om soms na my foon te kyk as ek nie die deuntjie hoor aankondig daar is ʼn boodskap nie. Die res moet ek nou spesifiek gaan kyk as ek voor my rekenaar is en soms is dit soveel moeite dat ek selfs nie eens dit doen nie.

Dis lekker. Ek weet ek is vry. Ek beplan om dit so te hou.

Ons lewe egter in ʼn selfoon-oerwoud. Ek weet as ek nie self soos ʼn tierwyfie oor hierdie nuutgevonde vryheid waak nie, gaan ek myself baie gou weer in die sosialemedia-dieretuin bevind, met sy goudgetinte tralies wat my so verblind, dat ek nie eens besef ek is in ʼn tronk nie…

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Gys ·

Ek is weer verslaaf aan my motorfietse (jip, ek het meer as een) en my vliegtuig.

PK ·

Definitief verslaaf… en die meeste wat dit ontken, is ook beslis!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.