Slim-babadoeke, ʼn robotvriend en ʼn vlieënde taxi   

Die afgelope CES-tegnologiekonferensie in Las Vegas het soos altyd weer verras met verskeie tegnologie-wonderdinge.

Slim-babadoeke

Pampers het sy Lumi-stelsel bekend gestel. Lumi word beskryf as ʼn alles-in-een babamonitorstelsel en sluit ʼn videomonitor, ʼn aktiwiteitsensor en spesiale doeke in. Die videomonitor verskaf ʼn hoëdefinisie-beeld en monitor ook die temperatuur en humiditeit in die babakamer. Die aktiwiteitsensor word aan spesiale Lumi-doeke vasgesit om die baba se slaap te monitor en jou in kennis te stel van nat en vuil doeke. Die sensor en videomonitor se inligting word na Lumi se selfoonapp gestuur.

Pampers se Lumi-stelsel. Foto: (AP Photo/John Locher)

Vlieënde taxi’s

Uber en Hyundai het kragte saamgespan om vlieënde taxi’s te ontwikkel. Uber het gesê die lugtaxi’s sal vier passasiers kan vervoer en aanvanklik ʼn vlieënier hê, maar mettertyd outonoom word. Uber wil reeds in 2020 met vlugdemonstrasies begin en die voertuie in 2023 kommersieel beskikbaar stel.

Die doel is om passasiers moeiteloos oor die verkeer te laat vlieg tussen voorstede en stede en uiteindelik binne stede. Uber beplan om die lugtaxi’s in Dallas, Los Angeles en Melbourne van stapel te stuur. Die lugtaxi’s, wat soos ʼn kruising tussen ʼn helikopter en ʼn klein vliegtuig lyk, sal elektries aangedrewe wees. Die lugtaxi’s is ontwerp om vertikaal op te styg met ʼn topsnelheid van 290 km/h en om tot 97 km ver op een slag te kan vlieg.

Uber en Huyndai se lugtaxi. Foto: (AP Photo/John Locher)

Robotte

Robotte het egter oorheers tydens die konferensie. Daar was selfs ʼn robot wat pizza maak. ʼn Mens word egter steeds benodig om vir die robot opdragte te stuur. Die robot word met ʼn iPad beheer en sodra daar op die soort pizza besluit is, gly daar ʼn bevrore kors op die vervoerband. Dan val die sous, kaas en ander bestanddele van bo af op die kors. ʼn Persoon moet dan die pizza in die oond sit, dit uittrek as dit klaar is en in stukke sny. Die robot kan met verskillende bestanddele gevul word.

Die robot wat pizza maak. Foto: (AP Photo/John Locher)

Samsung het ʼn robotvriend, genaamd Ballie, bekend gestel. Dié robot is ʼn bal wat langs of agter jou aanrol. Dié maat, geskep uit kunsmatige intelligensie, het ʼn kamera wat video’s kan opneem en stuur en dit kan ook met ander slimtoestelle in die huis kommunikeer. Ballie is omtrent so groot soos ʼn bofbal en kan ook gebruik word as ʼn maat vir troeteldiere wat bedags alleen tuis is. Samsung het nie bekend gemaak wanneer Ballie te koop sal wees of hoeveel dit sal kos nie.

Hyun-Suk Kim, president en uitvoerende hoof van die afdeling vir verbruikerselektronika by Samsung, demonstreer hoe Ballie werk. Foto: (AP Photo/John Locher)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Danie ·

Alles en nog meer van dit wat by CES bekend gestel is, is aan die voorpunt. Daar is een groot maar. Dit is dat ‘n hele klomp daarvan, net soos strooitjies, ook van plastiek gemaak is. En dit spesifiek die baba doeke. Dit het seker tyd geword, gesien dat plastiek strooitjie blykbaar sleg vir die omgewing is, daar dalk na lap of papier baba doeke gekyk moet word. daar word na raming 20 miljard (3.5 miljoen ton) plastiek doeke per jaar weggegooi. Behalwe die plastiek (dit neem +/- 500 jaar om te ontbind) vorm metaangas ook tydens die ontbinding van die inhoud (binne weke omdat dit bio afval is).

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.