Snapchat-aandele tuimel ná Kylie Jenner-twiet

Kylie Jenner (Foto: Instagram)

Die Amerikaanse televisiepersoonlikheid Kylie Jenner haal wêreldwyd nuusopskrifte nadat sy glo die aandelemarkwaarde van die sosialemediaplatform Snapchat met miljarde dollars laat tuimel het – en dít met ʼn enkele inskrywing op Twitter.

BBC berig die aandelemark het behoorlik kennis geneem nadat Jenner op sosiale media gesê het dat sy nié meer die eens hoogs gewilde app gebruik nie. Volgens markanaliste het dié maatskappy se aandele ná haar twiet met ʼn geraamde totaal van $1,3 miljard geval.

Jenner se twiet het gelui: “So, maak enigiemand anders ook nie meer die Snapchat-app oop nie? Of is dit net ek? Oeg, dit is so hartseer,” het die 20-jarige op Twitter laat hoor.

Die televisiepersoonlikheid het dié inskrywing met haar meer as 24 miljoen volgelinge gedeel en bykans 400 000 ander Twitter-gebruikers het op dié twiet gereageer.

Die tegnologie-webwerf Vox berig hoewel Jenner se inskrywing ʼn beduidende invloed op die aandelemarkwaarde van Snapchat gehad het, dit nie die enigste rede is hoekom die markwaarde val nie.

Volgens Vox het meer as een miljoen gebruikers sedert die begin van die jaar ʼn petisie onderteken nadat die app sy nuwe weergawe bekend gestel het. Gebruikers meen glo dié weergawe is nie gebruikersvriendelik nie en verskil te veel van die vorige gewilde weergawe.

Die maatskappy se aandele het glo sedert Augustus verlede jaar met sowat 8% (meer as $1, 3 miljard) geval voordat aandele sedert die begin van die jaar weer skerp gestyg het. Volgens BBC het die maatskappy in September verlede jaar ʼn rekordlaagtepunt bereik nadat die aandele met 17% geval het. Die pryse van aandele het egter aan die begin van Februarie weer met 50% gestyg ná ʼn markverslag aangedui het dat die app daagliks deur meer as 187 miljoen mense gebruik word.

Volgens die BBC kan dié terugslag egter nie té ʼn negatiewe impak hê nie, aangesien Evan Spiegel, die Snapchat-stigter, in 2017 ongeveer $637,8 miljoen in sy sak gesteek het.

Dit is nie die eerste keer dat bekendes ʼn invloed op ʼn maatskappy se aandelemarkprys het nie. Die televisiepersoonlikheid Oprah Winfrey het in Oktober 2015 Weight Watchers se aandele deur die dak laat skiet nadat sy 10% van die maatskappy se aandele gekoop het én die reus boonop in die openbaar ondersteun het. Weight Watchers se markaandele het in dié tyd glo met 92% gestyg.

Die voormalige presidentsvrou van Amerika, Michelle Obama, het dieselfde effek op die internasionale modehuis Versace se markaandele gehad nadat sy tydens ʼn intieme geleentheid saam met oudpres. Barack Obama in een van dié modehuis se uitrustings te sien was.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Gerrie ·

Enigiets wat so sensitief is, is nie die moeite werd om te koop nie. If you know what I mean

Denise ·

Hoe hartseer haar aanhangers kan nie vir hulle self dink nie wys jou net hoe vervelig hulle is iemand moet iets se of doen voor hulle wakker skrik tragies !!!! Snapchat is nog lank nie verlore sonder een persoon nie!!!!

Marie ·

En so sit jy elke aand en kyk 7de laan en binnelanders, ouboet&wors, hotel, of enige iets. Haar fans kan doen wat hulle wil.

Casper Labuschagne ·

Dit is ‘n puik aanduiding vir wat baie kenners al lankal sê, daar is weereens ‘n reuseborrel in die aandele van Internetmaatskappye. Dit is onsinnig dat die waarde van ‘n diens wat nie tasbaar is nie en boonop maklik vervang kan word, vir reuse bedrywe soos motorvervaardigers en oliemaatskappye verdwerg. Die jaar 2000 se Dotcom intuimeling gaan weer voorkom. Verkoop daardie IT aandele nou en oor twee jaar sal jy verseker breed glimlag.

denise ·

Marie as jy nou van my praat gan ek jou moet teleurstel ek het vir 20 jaar nie n TV nie ek het baie beter dinge om te doen en nog nooit in my sestig jaar n sepie gekyk nie hoe vervelig gaap!!!!!

Frank ·

As ek die programme sien wat Marie noem dan twyfel ek of n debat met haar produktief sal wees Denise…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.