Só beïnvloed digitale toestelle studente

slimfoon-pexels-pixabay

Foto: Pexels/Pixabay.com

deur die Universiteit Stellenbosch

Digitale tegnologie, veral slimfone, het so ʼn integrale deel van ons lewe geword dat dit moeilik is om die lewe daarsonder voor te stel. Deesdae bring mense daagliks gemiddeld drie uur op hul fone deur.

“Hoewel slimmer digitale toestelle talle aspekte van ons lewe makliker en doeltreffender gemaak het, is daar groeiende bewyse dat dit voortdurend ons aandag aflei en ons vermoë om te konsentreer benadeel,” sê navorsers dr. Daniel le Roux en doktorale kandidaat Douglas Parry van die kognisie- en tegnologienavorsingsgroep in die Departement Inligtingwetenskap aan die Universiteit Stellenbosch. Le Roux staan aan die hoof van die navorsingsgroep en Parry is ʼn doktorale student. Hul werk fokus op die impak van digitale media, veral selfone, op studente se vermoë om in die klaskamer te konsentreer.

Hulle meen vandag se studente is die sogenaamde “digital natives”  ̶  individue wat ná 1980 gebore is  ̶  wat met digitale media grootgeword het en so vinnig by hierdie omgewing aangepas het dat hulle “voortdurend verskeie media gelyktydig gebruik, en met gereelde intervalle van een na ʼn ander beweeg om gekonnekteer, altyd op hoogte en altyd gestimuleer te bly.”

Die navorsers sê dit is dus geen verrassing nie dat dosente by universiteite aangemoedig word om meer en meer gemengde leerinisiatiewe (blended learning) te ontwikkel en tegnologie  ̶  video’s, potgooie, Facebook-bladsye en so meer  ̶  in die klaskamer te bring ten einde studente die verbeterde ervarings te bied wat digitale media verskaf.

Hulle waarsku egter dat ʼn belangrike uitwerking van hierdie inisiatiewe is om die gebruik van media tydens lesings as die norm te vestig.

“Studies deur ons en navorsers reg oor die wêreld wys dat studente voortdurend hul fone gebruik wanneer hulle in die klas is.

“Maar hier is die interessante: As jy dink hulle volg skyfies oor die lesings of neem deel aan debatte oor die onderwerp maak jy ʼn fout. Trouens, dit is bykans nooit die geval nie. Wanneer studente hul fone tydens lesings gebruik, doen hulle dit om met vriende te kommunikeer, op sosiale netwerke betrokke te wees, na YouTube-video’s te kyk of net om deur webtuistes te blaai.”

Daar is twee primêre redes waarom hierdie soort gedrag vanuit ʼn kognitiewe beheer- en leerperspektief problematies is, sê die navorsers.

“Die eerste is dat wanneer ons verskeie take gelyktydig verrig, ons nie die primêre taak goed uitvoer nie. Dit is baie moeilik om die inhoud van ʼn lesing te verstaan as jy elke vyf minute aan jou foon aandag skenk. Daar is genoegsame bewyse wat hierdie argument steun en toon dat die gebruik van media tydens lesings met laer akademiese prestasie geassosieer word.”

“Die tweede rede is dat dit studente se vermoë om vir ʼn langer tydperk op iets spesifieks te konsentreer benadeel. Hulle raak gewoond daaraan om vir al hoe korter tussenposes na alternatiewe vorme van stimuli oor te skakel. Die oomblik wanneer die lesing nie daarin slaag om studente betrokke te hou nie of moeilik raak om te volg, kom die fone uit.”

Die navorsers sê bewustheid van hierdie neiging het daartoe gelei dat sommige dosente, selfs dié by voorste tegnologie-georiënteerde universiteite soos die Massachusetts Institute of Technology (MIT) in die VSA, hul lesings as toestelvrye-sones verklaar het in ʼn poging om betrokkenheid, aandag en uiteindelik kritiese denkvaardighede by hul studente te kweek.

“Niemand kan ontken dat mobiele rekenaartoestelle ons lewe op ʼn magdom maniere makliker en meer pret maak nie. Maar in die lig van al die gekonnekteerdheid en vermaak wat dit bied, moet ons die koste in gedagte hou.”

Die navorsers moedig veral beleidmakers oor opvoeding en dosente aan om die implikasies van hul besluite met ʼn baie groter bewustheid van die dinamika tussen tegnologiegebruik en die kognitiewe funksies wat ons in staat stel om te leer, te oorweeg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

riana ·

http://www.creativitypost.com/education/yes_there_is_a_creativity_crisis
Dis nie net kognitiewe taakvoltooiing en konsentrasie wat deur die tegnokaping benadeel word nie. – of geld dit nie vir die generation z nie? Nicholas Carr in the Shallows skryf oor “what the internet is doing to our brains” -http://www.deconstructingexcellence.com/the-shallows-summary/. In Proust and the Squid ondersoek Maryanne Wolf o.a. weer hoe digitale media tot vlakker lees lei en die impak daarvan. En dan is daar die sosiale impak ook – wanneer sosiale kontak veral deur ‘n foon oorheers word, watter behoefte is daar vir van aangesig tot aangesig sosiale kontak? Die wenners in hierdie tendense sal dié wees wat ‘n balans kan vind om tussen die goeie uit die verlede te behou en toe te pas en toekomstige tegnologie te benut.

John ·

?… ons word dus lewende robotte wat gehiet en gebied kan en wil word na willekeur; skape ter slagting gelei deur die nuwerwetse ‘towerfluit’/-ter van Hamelin…

Lena Jonk ·

Ek stem 100% saam. Ek raak soms so geiriteerd veral in geselskap die fone word altyd uitgehaal, dan voel ek, ek wil opstaan en loop, ek het nie mense genooi om met selfone ook te gesels nie. Dit is die ondergang van die jeug. Ek stem dis baie nodig vir die nuuste tegnologie maar waar n “te” inkom is dit TE erg.

Elna Botha ·

Dis baie maklik om op te los! As leerders die klas binnekom, moet elkeen sy foon in n houertjie plaas voor in die klas. As die periode verby is neem elkeen sy foon en dit moet in elke klas gebeur. Hoe moeilik is dit? Dan hoef daar nie navorsing en komitees te wees wat oor hierdie kwessie beraad nie!!

Leeu ·

@elna, en so dit baie maklik maak vir die diewe om die hele klas se fone te kan steel, hoe maklik is dit.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.