Só gaan Facebook fopnuus hok slaan

Facebook (Foto: Pixabay)

Facebook het Maandag ʼn nuwe stelsel bekend gestel wat glo sal help om fopnuus op dié sosialemediaplatform te bekamp.

Dié gewilde sosialemediaplatform sal Facebook-groepe of -blaaie in die toekoms nié meer toelaat om te adverteer indien hulle gereeld fopnuus-artikels deel nie.

Facebook het in ʼn verklaring gesê dié sogenaamde groepe en -blaaie maak hulself dikwels daaraan skuldig om fopnuus op dié netwerk te versprei omdat fopnuusartikels baie keer verseker dat Facebook-gebruikers hoë interaksie met die groepe en blaaie het. Uiteindelik verseker die artikels ook dat die groepe baie “likes” kry en gewild is onder Facebook-gebruikers.

Die sosialemediaplatform het gesê die Facebook-groepe en -blaaie betaal dikwels ook om dié fopnuusartikels selfs na ʼn breër gehoor te versprei.

“Ons wil hê mense moet ingelig bly oor vriende, familie en onderwerpe waaroor hulle omgee, en fopnuus knou hul vertrouensverhouding met die netwerk,” het Rob Leathern, Facebook-produkbestuurder, in die verklaring gesê. “Hierdie stelsel gaan grootliks daaroor om die groepe en blaaie nie aan te spoor om fopnuus te versprei nie.”

Leathern het gesê deur groepe en blaaie te verhoed om fopnuus deur middel van Facebook-advertensies te versprei, sal dié artikels ook nie meer op gebruikers se blaaie verskyn nie.

Hoe werk die proses?

Om te verseker dat dié nuwe stelsel slaag, het Facebook onlangs bekend gemaak dat hy gebruikers nou gaan toelaat om self die feite op dié netwerk na te gaan. Gebruikers kan dus nou ʼn artikel aan Facebook rapporteer, en die feite daarvan sal dan deur ʼn derdeparty nagegaan word. Indien ʼn spesifieke groep of blad hom wel skuldig gemaak het aan die verspreiding van fopnuus, sal hulle tydelik verban word om te adverteer.

Dit werk só: By ʼn spesifieke plasing is daar ʼn pyltjie in die boonste regterkantse hoek wat na onder wys. Jy klik op die pyltjie, klik “report post” en kies dan die “spam”-opsie. Hoewel dié funksie al ʼn geruime tyd beskikbaar is, is dit nou meer gevorderd, aangesien derdepartye nou die feite van die spesifieke artikel nagaan.

Die sosialemedia-reus het beklemtoon dat groepe die gebruikers se “vertroue kan terugwen” deur nié meer fopnuusartikels te deel nie, waarna hulle die funksie sal terugkry om weer op Facebook te adverteer.

“Dit is moontlik dat ʼn blad of groep per ongeluk fopnuus kan deel, so ons wil seker maak dat dit herhaalde gedrag is. Ons wil Facebook-gemeenskappe aanspoor om deurlopend hul groepe te monitor. As hulle nie meer fopnuus deel nie, sal hulle weer kan adverteer,” het Leathern gesê.

Facebook wou nie kommentaar lewer oor die finansiële impak wat minder advertensies op die sosialemediaplatform sal hê nie. Die maatskappy het in die tweede kwartaal van 2017 meer as $9 miljard met advertensies verdien.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

anne ·

HOE GEMAAK AS JY GEDREIG WORD DEUR IEMAND WAT JOU OP FB INVITE HET EN NAAK FOTOS VAN JOU WIL POST. DIT HET NOU AL MET 3 VAN ONS VRIENDE GEBEUR.

Basjan ·

anne, my vraag aan jou is: Hoe het daardie persoon naak fotos van jou in die hande gekry? Jy moes dit tog een of ander tyd laat neem het of self geneem het. Moenie nou kom huil dat hulle jou dreig daarmee nie! Daai fotos moes in die eerste plek nooit geneem gewees het nie.

Adri ·

Niemand sal die twak glo as hulle jou ken en weet dat dit nie jy is nie. Tensy, natuurlik dit wel jy is. Dan moet jy maar vir jou kry.

Hans Richardt ·

FB moet spam vir sg formele media begin kry. Dikwels is die alternatiewe media feitlik korrek en op grond. Onthou die massa media se Weapons of mass destruction in Irak debakel!

Marinda ·

Dis presies hoekom ek glad nie meer Facebook gebruik nie. Ek Google eerder self of lees MM. Te veel snert op Facebook.

Willie ·

Die hoofstroom media het nog altyd ook fopnuus en propaganda gebruik om die publiek se denke te beinvloed. Wie is nou die 3e party wat moet beslis of dit fopnuus is of nie? Vryheid van spraak word al hoe meer beperk.

Lampies ·

Ek maak ‘n stelling: konserwatiewe nuus sal geteiken word as synde fopnuus, terwyl links-liberale fopnuus ongehinderd sal bly. Konserwatiewe media word reeds geteiken as die sogenaamde verspreiders van fopnuus, bloot omdat hulle die ander (ware?) kant van die hoofstroom-media se bevooroordeelde nuus uitlig. Gaan delf ook bietjie oor wie die kitaar slaan by Facebook; dit is hoogs onwaarskynlik dat die sogenaamde “derde” party wat die oordeel moet vel oor die fopnuus-status van ‘n berig ‘n konserwatiewe person sal wees.

Jasper ·

Dit gebeur alreeds, veral in die V.S.A.
FB het selfs al doodsdreigemente van radikale ATIFA lede geïgnoreer

Jasper ·

Dit gebeur alreeds, veral in die V.S.A.
FB het selfs al doodsdreigemente van radikale ATIFA lede geïgnoreer

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.