Só verskil Apple se nuwe iOS 13

Tim Cook, Apple se uitvoerende hoof, praat by Apple se Worldwide Developers-konferensie in San Jose, Kalifornië [3 Junie 2019]. (Foto: Jeff Chiu/AP)

Die tegnologiereus Apple het vandeesweek die funksies van sy splinternuwe iOS 13 aangekondig en dié nuwe sagteware bring heelwat veranderinge vir iPhone-gebruikers.

Een van die grootste aankondigings is dat Apple ná 18 jaar sy gewilde iTunes gaan ontbondel. iTunes word nou opgedeel in drie afsonderlike apps, naamlik Apple Podcasts, Apple Music en Apple TV.

iTunes was as revolusionêr geag toe dit vir die eerste keer bekendgestel is, maar is sedertdien gekritiseer dat dit oorgroot is en nie tred hou nie met die uitvindings rakende podsendings en die oorskakeling na aanlynstroming eerder as om musiek af te laai.

Nog ʼn nuwe funksie is Apple se “Dark Mode”, ʼn funksie waarmee jy ʼn swart agtergrond kan stel op apps, insluitend News, Calendar, Notes en Apple Music. Selfs die sleutelbord se kleur kan nou verander word van wit op ʼn swart agtergrond. Sommiges meen die nuwe donkerder vertoon kan dalk van die gevorderde slimfone (die X, XS of XS Max) se batterylewe verleng, hoewel Apple nie dié bewering tydens sy bekendstelling gemaak het nie.

Craig Federighi, Apple se senior visepresident van Sagteware-ingenieurswese, praat by Apple se Worldwide Developers-konferensie in San Jose, Kalifornië [3 Junie 2019]. (Foto: Jeff Chiu/AP)

Volgens Apple sal iOS 13 ook apps vinniger kan oopmaak en bevat dit ʼn nuwe weergawe van die Face ID-stelsel wat jou selfoon 30% vinniger sal oopsluit. Die nuwe sagteware bevat ook meer kunsmatige intelligensie om Apple se digitale assistent, Siri, in staat te stel om meer soos ʼn mens te praat. Sodoende sal Siri ook meer opdragte kan uitvoer, deur byvoorbeeld inkomende boodskappe hardop te lees.

Apple sê sy verbeterings in kunsmatige intelligensie bring ook ʼn nuwe fotohanteringsfunksie mee wat die beste foto’s uitkies wat op ʼn spesifieke dag, maand of jaar geneem is.

Die tegnologievervaardiger wil ook iPhone-gebruikers meer beheer gee oor hul private inligting, onder meer deur te bepaal hoe en wanneer apps hul ligging kan waarneem.

iOS 13 gee gebruikers die opsie om met Apple ID by derdeparty-apps aan te meld, eerder as deur platforms soos Google of Facebook. Deur die “Sign in with Apple”-funksie kan gebruikers by apps en webtuistes inteken sonder om hul persoonlike e-posadres te moet verskaf.

Tim Cook, Apple se uitvoerende hoof, praat by Apple se Worldwide Developers-konferensie in San Jose, Kalifornië [3 Junie 2019]. (Foto: Jeff Chiu/AP)

Nog ʼn nuwigheid is die app “Find My” wat jou kan help om jou verlore Mac-skootrekenaar op te spoor, selfs al is die rekenaar op slaap-modus en nie aanlyn nie. Die app stuur Bluetooth-seine wat ander nabygeleë Apple-toestelle kan waarneem en meld dit aan by iCloud, sodat jy die toestel kan opspoor.

Apple Maps kry ook ʼn splinternuwe baadjie. Op iOS 13 sal die kaarte meer realistiese besonderhede van strate en plekke bevat wat Apple met lugbeeldmateriaal bymekaargemaak het – ʼn taktiek wat Google Maps al vir jare gebruik.

Nog ʼn belangrike aspek is dat die iPad sy eie bedryfstelsel sal kry, eerder as om te steun op die iPhone se sagteware. Apple probeer sodoende voorsiening maak vir verbruikers wat graag hul tabletrekenaar wil gebruik om meer van die dinge te doen wat skootrekenaars kan doen.

iOS 13 is egter nie beskikbaar vir enige Apple-slimfone ouer as die iPhone 6s nie. Selfoongebruikers wat dus nog die iPhone 6, iPhone 6 Plus en iPhone 5s gebruik, sal nie nuwer sagteware ná iOS 12 kan aflaai nie.

iOS 13 is wel beskikbaar vir:

iPhone Xs
iPhone Xs Max
iPhone XR
iPhone X
iPhone 8
iPhone 8 Plus
iPhone 7
iPhone 7 Plus
iPhone 6s
iPhone 6s Plus
iPhone SE
iPod touch (7de generasie)

Die nuwe iOS 13 sal eers oor ʼn paar maande beskikbaar wees, na verwagting om en by September wanneer die nuwe iPhone-reeks bekendgestel word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Kerrie Vlamskiet Briekstreep ·

.
.
Apple produkte is als soos n goedkoop calculator wat jy verniet kry saam elke box A4 papier wat jy koop…jy kan niks met die Apple Iphone doen nie…bel en email en internet search…dis al…..minimale funksies….ongelukkig sal Android en PC altyd die mark regeer,want daar is gebruikers wat verder as een knoppie kan dink.
.
.

Gerhardus ·

KVB het jy al ooit ‘n iPhone gesien?
Ek het ‘n paar jaar gelede die skuif gemaak vanaf Android na iPhone, en ek het nog nooit terugverlang nie. iOS staan geensins terug vir Android nie, en is baie meer stabiel.
…. en indien jy gewonder het of ek tevrede is met min funksionaliteit: Ek is ‘n programmeerder, en ek verwag van my speelgoed om BAIE meer te doen as bel, epos en internet soektogte.

iP vs Droid ·

@Gerhardus ek stem saam.
Ek het destyds van BlackBerry na Samsung Note oorgeskakel. Ek het binne vyf maande die Note verruil vir ‘n iPhone en kyk sedert nie terug nie. Ek gebruik steeds my 3 jaar oue iPhone 7 en voor dit het ek my iPhone 6S gebruik. Probeer met enige android foon langer as twee jaar werk.. Ja, daar is slimfone wat vrek goeie fotos kan neem, maar jy as individu moet ‘n behoeftebepaling doen. iPhone vir my is tops.

IPhone Fan ·

Ek stem, iPhone is tops. Ek het teveel moeilikheid gehad met android. Samsung vries gedurig, die in app adevertensies is om van naar te word en hulle raak slugish aan die einde van hul 18maande leeftyd.

Reinhardt ·

Kom ons lieg nie vir mekaar nie, Apple produkte is belaglik duur. Dit gesê, ek hou baie van hul produkte. Ek rol steeds met n iPhone 6s, vier jaar later en met onbeduidende lag. Maar om R15000 ($999) vir n stand te vra… oo nee wat.

Groot Apple aanhanger ·

Ek het in 2012 besluit om die IPhone n kans te gee, dit was die beste besluit ooit! Ek het n paar maande terug vir my die Apple horlosie gekoop en dit het my lewe verander! Merkwardig wat dit als kan doen! laas maand het ek my windows laptop verruil vir n MacBook en ek is so beindruk! als werk net so seepglad! as jy eers net n bietjie tyd op dit spandeer sal jy agter kom dit werk net sonder enige probleme!

Hahahaha ·

Sjoe dan weet ek nie, my Apple kan baie meer as net dit doen

Cherokee ·

Nuwe OS vir Apple?
Ek is nuuskierig oor wat die Sjinese gaan doen met/vir Huawei. Het van Samsung na Huawei verander sowat 3 weergawes gelede (5½ jaar dus) en ek sou graag by Huawei wil bly. Daar is bewerings dat die Sjinese ‘n alternatiewe stelsel ontwikkel het, maar daar kan nie ‘n kits Google en kits YouTube wees nie. Maar…, miskien tog.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.