Tegnologienuus: Vyf dinge wat jy moet weet

  • Foto: netflixlife.com

    Planne vir advertensies op Netflix maak gebruikers die josie in

Netflix se gebruikers is nie gelukkig oor dié aanlynfliekdiens se planne om advertensies in sy oorspronklike inhoud te bedien nie.

Gebruikers van die gewilde aanlyndiens wat flieks en televisiereekse stroom het die naweek hulle na sosiale media gewend om hul misnoeë met die diens se besluit uit te spreek nadat Netflix verbruikers ongevraagde voorskoue van reekse in die VSA, Verenigde Koninkryk en Australië bedien is sodra ʼn episode van hul gunsteling-reekse geëindig het.

Volgens die nuuswebwerf News.com.au was die gebruikers veral ontsteld omdat hulle nie die keuse gebied is om advertensies oor te slaan nie en ook nie ʼn verstelling kon maak om die voorskou af te skakel nie.

Netflix het bevestig dat hy begin het om advertensies of voorskoue van die diens te bemark. Volgens Netflix bemark hy nuwe inhoud aan sy verbruikers om hulle te help om die tyd wat hulle deurbring om nuwe reekse te soek te verminder. Die diens het ook bevestig dat die voorskoue wel oorgeslaan kan word as kykers dit sou verkies.

  • Argieffoto

    Netflix verwyder gebruikers se resensies

Die aanlynfliekdiens het Vrydag ook besluit om alle gebruikersresensies van televisie-reekse en flieks van sy webwerf te verwyder, berig USA Today.

Netflix het verlede maand dié besluit aangekondig en kykers kon tot 30 Julie vir die laaste keer hul lof of kritiek onder ʼn program se titel gee.

Die diens het aangevoer hulle het die resensies gestaak “weens ʼn dalende gebruik”. Netflix het egter die versekering gegee dat dit nie gebruikers se ervaring van die diens sal beïnvloed nie aangesien die resensie net op die webwerf self beskikbaar was wat ook dalk verklaar hoekom al minder gebruikers dit gebruik het.

  • Die eerste vier skottels van die Hirax-teleskoop. Foto: www.acru.ukzn.ac.za

    Nuwe radioteleskoop in SA ondersoek die teorie van donker energie

ʼn Nuwe radioteleskoop is Vrydag bekendgestel om radio-emissies en die geheim van donker energie te ondersoek.

Die apparaat ter waarde van miljoene rande sal op die terrein van die MeerKAT-radioteleskoop in Carnarvon in die Noord-Kaap gesetel wees.

Die teleskoop heet die Hirax wat ʼn Engelse afkorting is vir die Waterstof en Intydse Analise Eksperiment.

Hirax sal onder meer gebruik word om die geheime van donker energie te ondersoek wat wyd deur wetenskaplikes gebruik word as die verklaring vir die versnelde uitbreiding van die heelal, wat nog steeds plaasvind.

Prof. Roy Maartens, ʼn sterrekundige en navorser aan die Universiteit van die Wes-Kaap, het gesê wetenskaplikes glo donker energie bestaan al sedert die ontstaan van die heelal en die teleskoop sal hopelik help om dit te bevestig.

  • Kaapstad. Argieffoto.

    Kaapstad is Afrika se hoofstad van tegnologie

Endeavor Insight het einde Julie ʼn verslag bekendgestel waarin die organisasie bevind het die groter Kaapstad-omgewing en Stellenbosch is die tegnologie-wêreldstad van Afrika.

Navorsers het met 150 plaaslike entrepreneurs wat spesialiseer in tegnologie gesels en navorsing gedoen by 450 tegnologiemaatskappye en hul stigters in die omgewing.

Die verslag het bevind dat Kaapse tegnologie-entrepreneurs meer produktief is as in ander stede in Afrika, en dubbel soveel mense in diens neem as byvoorbeeld Lagos en Nairobi saam.

Luidens die verslag spesialiseer 20% van hierdie entrepreneurs se maatskappye in dié omgewing in e-handel en 15% is gefokus op finansiële tegnologie.

Die verslag het ook bevind dat die dinamiek, produktiwiteit en impak van Kaapstad se tegnologiesektor ʼn voorbeeld is van een van die suksesvolste modelle in lande suid van die Sahara.

Terwyl die sektor ʼn toonbeeld van innovasie en groei is, het die bedryf ook sy uitdagings, waarvan een toegang tot talent in die bedryf is. Die probleem is egter ook kenmerkend van Johannesburg se tegnologiebedryf en ander Afrika-stede, het die verslag gemeld.

  • Argieffoto

    Verwyder inhoud van terrorisme of word beboet

Die Europese Unie is tans besig om regulasies op te stel waardeur maatskappye soos Facebook, YouTube en Twitter beboet kan word as hulle nie inhoud wat met terrorisme verband hou binne ʼn uur van hul sosialemediaplatforms verwyder nie.

Volgens Financial Times het die Europese kommissie besluit ʼn vrywillige benadering deug nie meer nie en hulle wil groter sosialemediaplatforms nou verplig om terreurverwante video’s so gou moontlik te verwyder.

Facebook het in Mei ʼn verslag uitgereik waarin die maatskappy gesê het hy het in die eerste kwartaal van hierdie jaar reeds 865,8 miljoen inskrywings verwyder. Die inskrywings of “posts” was meestal gemorspos, maar ʼn kleiner hoeveelheid daarvan het verband gehou met naaktheid, grafiese geweld, haatspraak en terreur.

Guy Rosen, Facebook se adjunkpresident van produkbestuur, het gesê die sosialemediaplatform het in die laaste 18 maande hard daaraan gewerk om onvanpaste inhoud van die platform te verwyder en hoop om ʼn soortgelyke verslag elke ses maande te kan uitreik.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.