Die Amerikaanse president, Donald Trump, se amptelike Twitter-rekening was Donderdagaand vir sowat 11 minute opgeskort nadat ʼn werknemer van dié organisasie sy rekening glo doelbewus gedeaktiveer het.
Sosialemediagebruikers wat dié omstrede president se rekening rondom middernag (plaaslike tyd) wou besoek, het ʼn foutboodskap van Twitter ontvang dat sy rekening nié bestaan nie.
Twitter het aanvanklik in ʼn verklaring gesê dié fout het voorgekom ná ʼn “menslike fout van ʼn Twitter-werknemer”, maar het in ʼn tweede verklaring gesê dit wil voorkom asof die werknemer die president se rekening doelbewus gedeaktiveer het.
“Ons het deur middel van ʼn ondersoek bepaal dat [Trump se rekening gedeaktiveer is] deur ʼn Twitter-werknemer in die kliëntediensafdeling wat sy laaste werksdag voltooi het. Ons is tans besig met ʼn volskaalse interne ondersoek,” lui die verklaring.
Sedert Trump se verkiesing is daar voortgesette versoeke aan dié sosialemediareus gerig om Trump se rekening op te skort – veral nadat hy dié platform gebruik het om Noord-Korea te dreig. Die bestuur van dié organisasie het egter nóg nie op sulke versoeke gereageer nie ten spyte daarvan dat hy bekend is daarvoor om vurige debatte op Twitter te voer en omstrede inskrywings te maak.
Twitter het in die verlede hoëprofiel-bekendes se rekeninge opgeskort wanneer hulle beledigend opgetree het en wanneer hulle rekeninge deur kuberkrakers geteiken is. Bekendes soos die Britse politieke kommentator en joernalis Milo Yiannopoulos se rekening is opgeskort ná sy smeerveldtog teen Leslie Jones. Die kletsrymer Azealia Banks moes ook al les opsê toe sy rassisties opgetree het teenoor Zayn Mailik, ʼn voormalige lid van die musiekgroep One Direction.
Trump het bykans 42 miljoen volgelinge op Twitter. Sy Twitter-rekening was teen Vrydagoggend (plaaslike tyd) weer volkome herstel.
Bron: The Guardian
Dan het Trump 42 000 001 volgelinge alhoewel ek nie Twitter gebruik nie.
Plaas myne daarby asb. Dan is dit 42000 002. ;-)
Hoekom voel ek so jammer vir jou?