Twitter toets nuwe funksies op platform

(Argieffoto: Pixabay.com)

Twitter-gebruikers kan dalk binnekort in staat wees om onderwerpe eerder as spesifieke Twitter-rekeninge te volg.

Twitter het Dinsdag aangekondig hy is besig met ʼn proeflopie om te kyk hoe hy dit moontlik kan maak vir gebruikers om spesifieke onderwerpe, byvoorbeeld die Rugbywêreldbeker, te volg en sodoende niks oor dié onderwerp te mis nie, ongeag watter rekeninge die gebruiker volg.

CNet berig Twitter toets tans hierdie opsie vir Android-gebruikers, spesifiek met sportonderwerpe. Dié funksie sal nie dieselfde wees as “trends” waar die hutsmerke wat die meeste gebruik word vir die gebruiker aanbeveel word nie.

Twitter wil ook gebruikers in staat stel om sekere onderwerpe te “verdoof” sodat hierdie twiets nie heeltyd op jou tydlyn wys nie. As jy byvoorbeeld nog nie die finale episode van jou gunsteling-televisiereeks gesien het nie, en jy wil geen inligting sien wat die episode vir jou sal bederf nie, kan jy hierdie onderwerp “verdoof” sodat dit nie op jou tydlyn wys nie.

Die maatskappy toets ook om sekere onderwerpe op ʼn sekondêre tydlyn te volg sodat dit nie op jou sentrale tydlyn vertoon nie.

Die sosialemediareus beplan om teen die einde van die jaar dié funksies wêreldwyd beskikbaar te stel.

Gebruikers wat smeek vir ʼn wysigingsknoppie sodat enige blapse in twiets reggestel kan word, gaan egter nog lank wag. TechCrunch berig Kayvon Beykpour, hoof van Twitter-produkte, het gesê die maatskappy is bewus daarvan dat baie gebruikers ʼn wysigingsfunksie versoek, maar dat dit nie tans deel is van die beplanning nie.

“Eerlikwaar, dit is ʼn funksie wat ek dink ons die een of ander tyd moet inbou, maar dit is geensins hoog op ons prioriteitslys nie. Dit is die eerlike antwoord,” het Beykpour gesê.

Die feit dat twiets nie gewysig kan word nadat dit reeds geplaas is nie, het talle gebruikers al met rooi gesigte gelaat.

Dink byvoorbeeld aan pres. Donald Trump se “covfefe”-twiet of die keer toe Hollywood-akteur Charlie Sheen per ongeluk sy persoonlike selfoonnommer aan die hele sosialemediawêreld getwiet het.

Beykpour het bygevoeg ʼn wysigingsfunksie sal uiteraard voor die hand liggende risiko’s meebring, maar die maatskappy wil graag ʼn funksie beskikbaar stel vir gebruikers om tikfoute reg te stel of duidelikheid oor ʼn twiet te gee.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Rubber ·

Twitter is maar net nog ‘n NWO meganisme om ons te beheer en vryheid van spraak te onderdruk. Dit volg jou, luister in en merk jou. Pasop. Soos Facebook wat nou Whatsapp ook gaan i span teen jou. Pasop.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.